Matrieks krap kop oor tweede Wiskunde-vraestel

Vanoggend se matriek-wiskunde-vraestel was moeilik, met selfs ’n paar foute en swak vertaalwerk wat leerlinge kon verwar en onnodige punte kan kos. So sê leerlinge, onderwysers en Wiskunde-kenners verbonde aan die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) oor die tweede Wiskunde vraestel wat matrikulante landswyd op 29 Oktober geskryf het.

“Daar was heelwat vrae wat leerlinge behoorlik sou laat kop-krap,” het ’n Wiskunde-onderwyser aan die Hoërskool Zwartkop in Centurion aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS) gesê. “Slim kinders sou moes uithaal en wys om meer as 85% te kry.”

Valentyn van der Merwe, wiskunde-spesialis verbonde aan die VAW, het opgemerk dat die interval wat in die vraestel by vraag ses verskaf word, verskil van die interval soos aangedui op die rooster in die antwoordboek. “Dit kon verwarring veroorsaak en leerlinge se antwoorde by opvolgende vrae beïnvloed het, wat kan meebring dat hulle onnodig punte verloor.”

Van der Merwe het opgemerk dat sommige vrae lomp of onakkuraat vertaal is. By vraag 1.2 se woordsom word beide die naam “Marie” en “Mary” gebruik om na dieselfde persoon te verwys.” Hy sê ook dat vraag 10.2.1 oor die hoeke van ’n driehoek, besonders baie werk vir min punte was.

Matrikulante van die Hoërskool Zwartkop het ook aan die SOS gesê die vraestel was beslis nie maklik nie. “Daar was nie een vraag waarmee ek nie in ’n mate gestoei het nie. Die vrae was moeilik gestel. Enige persoon wat sê dit was nie moeilik nie, weet net nie dat hulle foute gemaak het nie,” sê Simeon Boshoff. Boshoff het veral gesukkel met die algebra by vraag 5.3, waar leerlinge ’n cos-funksie moes evalueer aan die hand van ’n sigma-teken. Leerlinge is vertroud met hierdie teken, maar verwag dit nie in die tweede vraestel nie. “My onderwysers het my egter goed voorberei en daar was niks in die vraestel wat ek nog nie vantevore teëgekom het nie,” sê Boshoff.

Alta Bruwer, nog ’n matrikulant aan die Hoërskool Zwartkop, sê die vraestel het ’n hele paar vangplekke gehad. Sy het veral gesukkel met vraag nege, waar leerlinge die vergelyking van ’n sirkel moes uitpluis. “Maar ek glo ek sal darem nog my onderskeiding kry,” sê sy.

Die VAW het saam met onderwysers van die Hoërskool Zwartkop vraestel twee se memorandum uitgewerk. Hier is die skakel indien jy dit sal wil aflaai 

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.