fbpx

Mediaverklaring: Motshekga se begroting stel tevrede, mits geld reg bestuur word

16 Julie 2019

Die SOS is tevrede dat die minister van basiese onderwys (DBO) haar begroting wil aanwend vir die bevordering van voorskoolse onderrig, robotika en die uitbou van inheemse tale. Ons sal egter moet sien of geld reg bestuur word om die doelwitte wat minister Angie Motshekga Dinsdag in haar begrotingsrede genoem het, te verwesenlik.

Volgens Motshekga wil haar departement hul toespits op die verbetering van lees op voorskoolse vlak, deur voorskoolse onderrig verpligtend te maak. “Dit is verblydend dat die DBO voorskoolse onderrig wil prioritiseer, omdat ’n goeie grondslag in voorskoolse onderrig die sleutel is tot akademiese sukses later in ’n kind se skoolloopbaan,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling aan die SOS. “Indien voorskoolse onderrig verpligtend is, moet die DBO egter genoeg geld beskikbaar stel om gehalte onderwysers op te lei en aan te stel, aangesien min voorskoolse onderwysers tans oor die regte kwalifikasies beskik of behoorlike salarisse verdien.” Buys is egter skepties oor waar finansiering vir die projek vandaan sal kom.

Motshekga het ook Dinsdag gesê haar departement is in die proses om ’n kurrikulum saam te stel vir die implementering van Robotika vir gr. R tot 3 -en gr. 7-leerders. Robotika rus leerders met belangrike vaardighede toer, wat hulle nodig het om eendag suksesvol te wees in ’n tegnologies-aangedrewe wêreld. “Die SOS hoop egter dat die implementering van Robotika nie by die ontwerp van ’n kurrikulum sal stop nie, maar dat onderwysers behoorlik opgelei sal word om die vak aan te bied. ’n Tekort aan opgeleide onderwysers is tans die grootste struikelblok vir die implementering van hierdie vak in Suid-Afrikaanse skole,” sê Buys. “Daarom fasiliteer die SOS in Julie ’n Robotika-seminaar, wat deur ’n ervare onderwyseres van Amerika aangebied word, om onderwysers toe te rus met die nodige vaardighede om die vak aan te bied.

Die SOS steun ook die minister se verwysing na die bevordering van moedertaal-onderrig en inheemse tale heelhartig. “Navorsing wys dat kinders wat in hul moedertaal leer lees en somme maak, ’n groter kans op akademiese sukses het as kinders wat in ’n tweede of derde taal onderrig word,” sê Buys. “Tans ontvang die meeste leerders in Suid-Afrika reeds van gr. 4 onderrig in ’n tweede of derde taal, terwyl lees in hul moedertaal nog geensins vasgelê is nie.”

Buys sê dit is teleurstellend dat optrede soos dié van Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, die minister se uitsprake weerspreek deur sy klaarblyklike pogings om alle skole in Gauteng te verengels.

Laai af as PDF

Mediaverklarings vir 2019

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.