Mediaverklaring: Skole moet volledig maskervry wees!

2022-05-06

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum is teleurgesteld in die ommeswaai oor die aankondiging dat geen leerders op skool meer maskers hoef te dra nie. Die impak van maskers op onderrig is geweldig negatief. SOS eis daarom dat skole volledig as maskervrye omgewing verklaar word.

Onderwysers kla al ʼn geruime tyd dat maskers leerders se natuurlike optrede beïnvloed. Spontane deelname en gesonde sosiale interaksie met personeel en klasmaats word onderdruk. Kinders reageer anders op ʼn onderwyser met ʼn masker op: oogkontak, waagmoed en vrymoedigheid om menings en emosies te deel is beslis minder. Stemtoon alleen is nie genoeg om iemand se emosie te lees nie. ʼn Glimlag van ʼn onderwyse gee erkenning en moedig leerders aan om deel te neem, maar is nie sigbaar as ʼn onderwyser ʼn masker dra nie.

Geanimeerde gesigsuitdrukkings van onderwysers dra by om leerders se aandag te behou. Leerders verloor gou belangstelling wanneer die onderwyser se gesigsuitdrukking agter ʼn masker verberg is. Baie onderwysers sukkel sedert 2021 om hul leerders op te som en ʼn band met leerders te bou.

Leerders en onderwysers wat vir lang, ononderbroke tye maskers dra, ontwikkel dikwels hoofpyne wat konsentrasie en energie in die klas verder benadeel.

Spraakterapeute sien die afgelope jaar ʼn toename in leerders wat sukkel om klanke behoorlik te vorm en binnensmonds praat.

“Ons word die afgelope jaar toegeval met Gr. 2-leerders wat in 2020 graad R was en nou sukkel met lees en spelling,” sê ʼn Spraakterapeut in Pretoria wat met Gr. R tot 3 leerders werk. “Mens kan die probleme grootliks toeskryf aan leerders wat nie meer die onderwyser en ander volwassenes se lippe kan sien wanneer hulle met die kind praat nie, en klanke wat deur maskers gedemp word. Jong kinders maak staat op visuele leidrade, veral in ʼn klas met agtergrond geraas. Klanke wat naby aan mekaar is, word dikwels nie van mekaar onderskei nie, en jong kinders leer woorde verkeerd.”

Leerders met permanente of tydelike gehoorverlies maak selfs meer op visuele leidrade staat om te hoor en te verstaan wat ʼn onderwyser sê. In die winter ly baie jong leerders aan tydelike gehoorverlies as gevolg van middeloorontsteking. Die inspanning wat dit vir hierdie kinders verg om te volg wanneer die onderwyser ʼn masker op het, is geweldig uitputtend. Wanneer leerders nie kan hoor nie, verloor hulle konsentrasie, en word dissipline die volgende probleem.

Solidariteit Helpende Hand se sentrums behandel die afgelope jaar veel meer leerders vir angs, depressie en selfbesering. Terapeute skryf baie van die emosionele probleme direk toe aan beperkte skoolaktiwiteit en sosiale kontak tydens inperkings. Kinders onttrek, omdat hulle mekaar nie mooi hoor of verstaan nie, as gevolg van maskers.

Met die pandemie wat grootliks uitgewoed is en inentings wat risiko van ernstige siekte verder beperk, dring die SOS daarop aan dat onderwys nou prioriteit moet geniet en volledig normaliseer. ʼn Maskervrye skoolomgewing is ʼn belangrike stap om leerders se gesonde akademiese, fisiese en emosionele ontwikkeling te verseker.

Gesels met ons