Meer gemeenskap, minder staat in Afrikaanse skole

Leon Fourie

Uitvoerende hoof: SOS

Vir die volhoubare voortbestaan van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap is uitnemende Afrikaanse skole ononderhandelbaar. In verskeie dorpe reg oor Suid-Afrika, is dit duidelik dat daar waar goeie skole ontbreek, die Afrikaanse gemeenskap kwyn.

Die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap in Suid-Afrika, as ʼn minderheidsgemeenskap, kan nie op die staat vertrou vir ʼn volhoubare voortbestaan nie. Hierdie gemeenskap moet eienaarskap en verantwoordelikheid vir hulleself  neem. Dit vereis die vermoë om nuut te dink oor volhoubare oplossings, wat reeds op verskeie terreine realiseer, byvoorbeeld veiligheid, elektrisiteit, sakegemeenskap, maatskaplike dienste, onderwys en opleiding.

Vandag is dit algemene praktyk om van privaat sekuriteit, mediese dienste, posdienste, vervoer, elektrisiteit, ens. gebruik te maak, wat histories deur die staat voorsien is. Selfs sekere dele van die prosesse, wat deel uitmaak van staatsregulering, byvoorbeeld om aansoek te doen vir ʼn nuwe paspoort, ID-dokument of bestuurslisensie, is reeds gedeeltelik geprivatiseer.

Een van die min fasette in die Suid-Afrikaanse samelewing wat nog grootliks deur die staat gereguleer word, is skole en spesifiek Afrikaanse skole. Een van die redes hiervoor is die uitstekende Afrikaanse openbare skole, met sterk beheerliggame, wat gehalteonderwys uit die skoolgemeenskap se eie sak verseker en teenstand bied teen staatsentralisering. Die beweegruimte binne die wet raak egter kleiner vir hierdie skole. Dit is duidelik uit die ‘Basic Education Laws Amendment Bill’ (BELAB) se toevoeging, wat onderwysdistrikte die reg gee om sake rakende die skool se toelatings- en taalbeleid voor te skryf, en die LUR vir onderwys in die provinsie aanstel om die voederarea van ʼn skool te bepaal. Hierdie wetswysigings vereis dat die skole aan die ‘onderwysdistrik’ se behoeftes moet voldoen, en dat daar van elke Afrikaanse skool verwag kan word om ook die taalvoorkeure van die onderwysdistrik te weerspieël. Dit skep wesenlike risiko’s vir die voortbestaan van Afrikaans in openbare skole. Die kwessie rondom privatisering van openbare skole word ook nie in die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASW van 1996) aangespreek nie, maar wel die oorskakeling van ʼn onafhanklike skool na ʼn openbare skool.

Die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap sal in elke dorp of streek, ʼn unieke geïntegreerde strategiese plan vir hulle gemeenskap moet ontwikkel, waarin die vraag oor volhoubare, hoëgehalte Afrikaanse onderwys sentraal moet staan. Indien ʼn openbare Afrikaanse skool in ʼn gemeenskap steeds sterk is, is dit goed, maar die voortbestaan van daardie gemeenskap is afhanklik van daardie skool. Elke gemeenskap moet ʼn kontinuïteitsplan hê, sou die openbare skool, oor tyd, verengels.

Daar bestaan twee maniere hoe Afrikaans in skole gaan bly voortbestaan. Die eerste is, indien openbare skole die mag verkry om self te kan besluit oor hulle taalbeleid. In hierdie geval behou die skool ʼn mate van staatsubsidie wat beteken dat ʼn hoëgehalte aanbod in Afrikaans, relatief bekostigbaar aan die gemeenskap gebied kan word. Die ander manier is om ʼn netwerk van onafhanklike Afrikaanse skole te vestig wat tegnologie, binne ʼn opvoedkundig verantwoordbare raamwerk gebruik om steeds ʼn hoëgehalte aanbod in Afrikaans te bied, op ʼn koste-effektiewe manier.

Om die mag te hê om self oor hulle doen en late te besluit, moet Afrikaanse skole selfstandig kan funksioneer, veral binne ʼn staat wat magte op elke terrein van die samelewing probeer sentraliseer. Die sentrale plasingstelsel is nog ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Witskrifte wat die SASW van 1996 voorafgegaan het, bepaal dat skoolbeheerliggame mag moet hê oor die beheer en bestuur van die skool. Die basiese vertrekpunt was dat ouers die primêre verantwoordelikheid het vir die opvoeding van hulle kinders, en dat die staat ʼn fasiliterende rol moet speel in terme van die voorsiening van infrastruktuur, opvoeders (tot ʼn mate) en operasionele koste (tot ʼn mate). Die voorgestelde wysigings aan die Skolewet, hou ouers steeds verantwoordelik vir finansiering van gehalte onderrig, maar sentraliseer die reg oor besluitneming in die hande van die staat. Om selfstandigheid te bevorder, moet skole en skoolbeheerliggame die beweegruimte binne die huidige SASW van 1996 gebruik, steeds hulle magte uitoefen, en die grondwetlike regte rondom taal en kultuur opneem.

Om groter selfstandigheid verder te voer is dit wenslik dat skole hulle addisionele fondse selfstandig bestuur, deur middel van  ʼn Gemeenskaptrust of Maatskappy Sonder Winsoogmerk (MSW), met die skool as begunstigde. Skole het ʼn groot waarde-aanbod wat hulle na die sakegemeenskap toe kan bring in terme van hulle geloofwaardige reputasie, uitnemende prestasie, die aantal mense met wie hulle `n direkte verbintenis is, asook die invloed wat hulle in hulle gemeenskappe uitoefen. Daar moet selfs gekyk word na die historiese eienaarskap van skoolgrond.

Die operasionele koste van hoëgehalte onafhanklike skole, wat dieselfde onderrig-model as die meeste openbare skole volg, is baie duur. Indien openbare skole sou kon privatiseer, met hulle bestaande modelle, sou die skoolfonds van daardie skole met tussen 30% en 50% toeneem.

Afrikaanse openbare skole moet beskerm en sterk gehou word, maar daar moet terselfde tyd ook ʼn hoëgehalte, koste-effektiewe onafhanklike skoolstelsel gebou word. Operasionele effektiwiteit, en die gebruik van tegnologie, gaan die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap toenemend meer in staat stel om staatsdienste, sonder staatsinkomste te kan bied, om oplossings te skaal, en om ʼn hoëgehalte aanbod meer koste-effektief te kan aanbied. Tegnologie stel onderwysers reeds in staat om hulle tyd vry te maak, om dieper (op ʼn hoër kognitiewe vlak) saam met hulle kinders te werk, of om met ʼn verminderde werkslading meer kinders te kan bedien, wat oor ʼn groter tydperk koste-effektiwiteit vir skole beteken.

Afrikaanse skole moet volhou om ʼn sterk waardeaanbod vir die gemeenskap te bied, deur ʼn gehalteaanbod, ʼn positiewe ervaring te skep en gekoppel te wees aan ʼn groter saak. Die toekoms van Afrikaanse skole lê in meer gemeenskap, meer selfstandigheid en minder staat. Hierdie realiteite gaan van grondvlak af deur skole self geskep moet word, om sodoende ʼn toekoms vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap te help verseker.

Instellings soos die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum beywer hulle om te veg vir die voortbestaan van Afrikaanse onderwys in die openbare sektor, maar stel ook gemeenskappe in staat om skole te vestig waar nodig, met die nodige opleiding, hulpbronne, kurrikulum en stelsels. In so ʼn geval moet die gemeenskap hulleself organiseer, en die nodige energie skep om die skool tot stand te bring, te beheer en bestuur.

Na beide kante toe, is die oplossings vir die volhoubare voortbestaan van openbare en onafhanklike Afrikaanse skole nie eenvoudig nie, maar definitief haalbaar.


Tags

SOS


Lees meer...

Storielees tuis

Storielees tuis