Morné Steyn en Vlok Cilliers skop projek vir behoeftige hoërskoolleerders af

Vlok Cilliers en Morné Steyn

Die bekroonde skopafrigter Vlok Cilliers en Morné Steyn snoer kragte saam met Solidariteit Helpende Hand om skop-skop ’n verskil in die land te maak.

Cilliers, deur sy skopakademie Vlokskop, en Steyn, Springbok en Blou Bul-speler, het pas saam met Helpende Hand hul Tekkies & Toks-projek van stapel gestuur. Tekkies & Toks gaan met die publiek se hulp poog om in 2021 minstens 1 000 behoeftige hoërskoolleerlinge landwyd met dié noodsaaklike items toe te rus om hul sport op ’n gelyke vlak met hul spanmaats te kan beoefen.

“Helpende Hand besef die belangrikheid van sport vir kinders op soveel vlakke van hul ontwikkeling. Finansies moet nooit die rede wees dat kinders nie aan sport deelneem nie,” sê Margole Riekert, Helpende Hand se projekorganiseerder van Tekkies & Toks.

Cilliers verduidelik die idee is gebore uit die talle uitdagings wat die publiek vanjaar weens die Covid-19-pandemie ervaar het.

“Baie uitdagings het oor ons pad gekom. Mense het hul werke en selfs hul lewens verloor. Met dié projek wil ons poog om saam met ’n groot instelling soos Helpende Hand weer hoop te bring. Kinders lê my na aan die hart, en as ons kinders kan help om beter geleenthede te ontvang, dan moet ons help waar ons kan. Ons wil ’n verskil maak deur hulle selfvertroue te gee en menswaardig te laat voel,” sê Cilliers.

Steyn, die projek se ambassadeur, sê hy is baie opgewonde en trots om deel van die inisiatief te wees. “Hierdie is ’n great inisiatief en dit is lekker om te weet ek kan iets teruggee. Baie van ons aanvaar dit as vanselfsprekend om elke dag ’n paar skoene aan te trek en met tokse op die rugbyveld op te draf – en dan is daar eintlik so baie mense wat dit net nie kan bekostig nie. Hiermee wil ons ’n verskil maak, en ons hoop ons kan die publiek se harte aanraak om ons te help,” sê Steyn. Mense wat die projek wil ondersteun, kan www.tekkiesentoks.co.za besoek om uit te vind hoe om ’n verskil te maak.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.