Neem aksie en DROOM saam met ons kinders!

Deur Anlia Arhcer

Netwerkorganiseerder: Solidariteit Onderwysernetwerk

Die tema van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se onlangse kongres was “Neem aksie”. Solidariteit se Onderwysernetwerk het toegang gehad tot ʼn wye reeks sprekers en inligtingsessies, en dit het opnuut iets in my wakker gemaak.

Van kleins af was ek maar bietjie van ʼn dromer. As klein dogtertjie het ek daarvan gedroom om op wolkies rond te vlieg, om ʼn prinses te wees of, as dit nie uitwerk nie, dalk ʼn veearts.

As tiener het ek daarvan gedroom om eendag ʼn aanbiddingsleier (“worship leader”)by die groot Hillsong-kerk in Australië te wees. Soos ek ouer geword het, het my drome darem ʼn bietjie meer realisties en volwasse geraak. Ná nog ʼn paar jaar het ek daarvan gedroom om ʼn juffrou te wees wat kinders se lewens gaan aanraak en verbeter. Ek sou ʼn tipe “super-juffrou” wees wat al die seer en lelik van my kinders kan wegvat en weggooi sodat ek ʼn aandeel daarin kan hê om ná skool gesonde jong mense die wêreld in te stuur. Ek was toe nog ietwat naïef, maar ek is dankbaar dat ek daardie droom tog in ʼn mate kon uitleef.

My droom het weereens verander toe ek die voorreg gehad het om my eie pienkvoet in die wêreld te verwelkom. Ma-word was vir my die lewensveranderende, betowerende gebeurtenis wat in al die swangerskapboeke uitgebeeld word. Dit is ʼn soetsappige, alom verterende liefde wat ek nie voorheen geken het nie! Terselfdertyd was en is dit angswekkend. Daar is pandemies wat letterlik oornag uitbreek en jou vrede kom steel. Daar is mense met slegte intensies wat wreed is. Daar is skerp goed wat ʼn armpie kan krap en harde teer wat ʼn knieg kan laat bloei. Dan is daar natuurlik ook woorde wat seerder kan maak as enige wapen.

Vir ʼn baie lang tyd, en soms nou nog, het ek gewens dat ek ʼn wilgerboom kan wees. Een wat my takke om my kind kan vou en haar teen enigiets wat sleg en lelik is, kan beskerm.

Om ʼn ouer te wees, het iets in my as opvoeder wakker gemaak. Ek het anders begin droom. Ek wou beter wees, harder werk, lange uithou en ʼn plek skep waarin my kind nie net oorleef nie, maar sonder oordeel, hartseer of negatiwiteit floreer. Ek wil hê sy moet elke dag borrelend lag en sonder inhibisie kan liefhê en dien. Ek wil hê sy moet haar drome en haar roeping kan uitleef.

Ek besef natuurlik dat dit alles behalwe die prentjie is wat die laaste paar jaar van Suid-Afrika geskets is. Hier is beurtkrag, waterbeperkings, misdaad, geweld, diskriminasie, rasmalheid en ʼn verbysterende aantal korrupte staatsentiteite. Ek is nie blind vir enige van hierdie dinge nie, maar tog, in my beskeie opinie, is Suid-Afrika steeds een van die heel mooiste lande ter wêreld. Die natuurskoon en ryk geskiedenis van ons land is ongeëwenaar. Die mense met hul skerp humorsin en geselsies met vreemdelinge gaan jy nie sommer iewers anders kry nie. Een besonderse eienskap van hierdie land en sy mense is dat ons deur die trane en swaarkry kan lag. Verder word daar in die oorgrote meerderheid van ons skole nog in die oggende met gebed geopen terwyl waardes oorgedra en ingeburger word – iets wat min ander lande hoog op prys stel.

Tydens die kongres het ek opnuut besef dit is omdat daar ʼn enorme getal topklasonderwysers in hierdie land is. Die innoverende klasgee-idees, die motiveringspraatjies wat hoop skep en die gewilligheid om, ten spyte van die bibberkoue, te wil leer en verbeter, het my opnuut trots op ons onderwysers gemaak.

In ʼn verslag wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) onder matrikulante van 2022 gedoen is, is daar ʼn gevoel van patriotisme onder ons kinders wat duidelik na vore gekom het. Daar is ʼn opgewondenheid oor die toekoms wat aansteeklik is. Dit spreek boekdele van ons kinders se veerkragtigheid dat hulle ten spyte van al die negatiwiteit in die media opgewonde is oor die toekoms van ons land. Nie net oor die toekoms nie, maar ook oor hulle eie toekoms, net hier in Suid-Afrika – solank as wat die liewe Vader ons hier wil hê, sal ons hier bly en ons kinders hier grootmaak. Hiér leer hulle om te bid en te werk. Ek besef dat hierdie droom van kinders harde werk vir ons as die “grootmense” en natuurlik die opvoeders beteken.

Droom saam met my van ʼn plek waar ons kinders in Afrikaans kan werk, praat, floreer en leef. Dit is die taal waarin jy bid, lag, werk en raas – sonder oordeel en vervolging. Dit is die kultuur waarin God steeds eerste gestel en aanbid word. Dit is die gemeenskap waarin mense saamstaan en help waar hulle kan. Dit is die taal en kultuur waarin mense droom en daardie drome laat realiseer. Ek droom van ʼn plek waar mense, ongeag hul ras of geslag, op meriete in poste aangestel word; ʼn plek waar elke kind hul roeping kan uitleef; ʼn plek waar ons, as die grootmense, nie noodwendig ʼn wilgerboom is wat ons takke om ons kinders kan vou nie, maar eerder ʼn boom waarvan die stewige hout gebruik word om brûe vir ons kinders te bou. Dít is wat ek tydens die kongres ervaar het. Hierdie droom kan ʼn realiteit word!

Ek nooi jou om saam met my hierdie verantwoordelikheid op te neem en ons kinders se drome te laat realiseer. So, nou werk ons hard aan hierdie droom, want ewe skielik is dit die enigste droom wat saak maak en het ons geen ander opsie as om saam te staan nie – saam met ons kinders. Soos enige ander ouer weet ek my kind gaan eendag die wêreld verander, maar vir nou wil ek die wêreld vir háár verander en dit in ʼn beter toestand los as waarin ek dit gekry het. En wie anders kan hierdie verandering bewerkstellig as topklasonderwysers wat tot aksie oorgaan en saam met ons kinders begin droom? As jy graag by Solidariteit se Onderwysernetwerk wil inskakel stuur gerus vir ons ‘n epos aan [email protected] en bou saam met ons aan ons kinders se drome.

Droom


Tags

Solidariteit Onderwysernetwerk, SOS


Lees meer...

Storielees tuis

Storielees tuis