fbpx

Onnies, rek jou rande só

Sarina Prinsloo

Skakelbeampte: SOS
pexels cottonbro 3943716

Om finansieel te oorleef was nog nooit ‘n groter uitdaging as nou nie. Die koms van Covid-19 en gepaardgaande finansiële druk, het by onderwysers (nes baie ander) die behoefte aan ‘n ekstra inkomste laat ontstaan.

Gelukkig het onderwysers ook ‘n heerlike voorsprong…hulle is reeds hoogs gekwalifiseerd om sommer ‘n klomp dinge te kan doen en kundig op verskeie terreine. Hulle is kreatief en innoverend en beskik gewoonlik oor uitstekende beplanningsvermoë.

Hier is ‘n paar idees:

  • Daar is verskeie platforms waarop Engelse klasse vir (veral) Chinese kinders aangebied word. Jy hoef nie n taalonderwyser te wees om Engels aan te bied nie. Suid-Afrikaners se taalvaardigheid en uitspraak is in aanvraag.
  • Markplein is SOS se veilige platform waar onderwysers werkkaarte, ekstra klasnotas en ou vraestelle kan koop en verkoop. (Baie veiliger as op Facebook waar baie onnies besigheid doen en soms nie betaal word nie.)
  • Geleentheidsbeplanning (event planning). Onderwysers doen dit gereeld by die skool. Dit is ervaring wat min mense het en waarmee onderwysers goeie geld kan verdien. Baie ma’s het vandag net nie die tyd om kinderpartytjies te reël nie en sal tog te bly wees om iemand te vergoed om die groot geleentheid te behartig van begin tot einde.
  • Daar is baie ondernemings wat op soek is na iemand met Engelse skryfvaardighede om hulle te help. Al wat jy hoef te doen is om na die Upwork-webwerf te gaan en ‘n profiel te skep. Besluit vervolgens watter tipe skryfwerk jy wil doen en die webwerf sal jou outomaties geleenthede wys wat daarmee ooreenstem. Goeie werk word met ʼn goeie reputasie beloon en sal mettertyd meer mense lok wat wil hê jy moet vir hulle skryf. Jy besluit self hoeveel werk jy wil aanpak.
  • Gebruik jou vakkennis en bied jouself aan as ʼn tutor. Klein groepies is maklik om te -bestuur en kan met gemak selfs aanlyn gedoen word. Boonop sal die betrokke ouers baie bly wees vir ʼn blaaskans.
  • Nou dat vakansies weer moontlik is, kan jy jou dienste as diere-oppasser aanbied en selfs al vra jy ʼn fooitjie, steeds baie goedkoper wees as peperduur dierehotelle. Eienaars is altyd gretig om ʼn betroubare persoon hiervoor te vergoed.
  • Vryskutskrywer/Taalversorger – SA Vryskutskrywer is ʼn wonderlike hulpmiddel en bied alles van kursusse tot hulpbronne tot ʼn vryskutskrywersnetwerk waarvan jy kan deel word. Gaan kyk gerus op https://www.savryskutskrywer.co.za/
  • AirBNB is ‘n aanlyn mark waar mense huise, woonstelle of selfs net ‘n kamer vir ‘n kort tydjie kan huur. Sommige mense verdien meer geld deur hul huise/woonstelle vir een langnaweek te verhuur as ander wat maandeliks verhuur. Jy bepaal die tariewe, reëls en datums van beskikbaarheid op jou profiel, en kies tussen die versoeke wat inrol. So maklik soos dit.
  • Het jy dalk ander versteekte talente? Is jy goed met naaldwerk of kan jy ʼn heerlike bord boerekos maak? Daar is altyd ‘n aanvraag vir mense om herstel-/verstelwerk aan klere te doen. Jy kan etes maak en aflewer vir diegene wat nie die vermoë of tyd het om elke aand te kook nie. En die bobaasbakkers kan hulle spoggebak vir verjaarsdae en ander geleenthede maklik op verskeie platforms adverteer.
pexels pixabay 207665

Hierdie is maar ‘n paar idees. Spring weg, wees kreatief en moenie bang wees om buite die boks te dink nie. Span jou vaardighede in en word ʼn entrepreneur, sommerso deeltyds na skool.

Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.


Tags

finansies, inkomste, kreatief, onderwysers, Skoleondersteuningsentrum, SOS


Lees meer...