fbpx

Ontmoet ons Onnieveerders: Ansu Rossouw

Ons het gaan kers opsteek by van ons top Onnieveerders vir 2022 sodat ons hulle beter kan leer ken.


Ansu

Ansu Rossouw

Laerskool Noord-Eind


1. Hoe lank is jy al in die Onderwys?               

Ek is nou wat hulle noem ‘die ouer garde’, ‘voor 1970 gebore’ en moet ‘n sakrekenaar gebruik om uit te werk hoeveel jaar ek al skool hou. Ek hou al vir 30 jaar skool en ek glo dit is, saam met die op-dae en af-dae van onderwys, my groot passie in die lewe.

2. Watter vakke bied jy aan en vir watter grade?    

Oor die jare het ek al amper enige iets aangebied, moet sê ek is verlig dat die musiekdepartement my nog nie genader het nie. Die talente is maar skraps in daardie afdeling. Ek het ‘n GROOT liefde vir ons Afrikaanse taal. Ek gee op hierdie stadium Afrikaans vir Graad vier en Aardrykskunde vir graad ses.

3. Wat is die hoogtepunt van jou werksdag?            

My hoogtepunt is wanneer
• ‘n leerder in my klas ‘n hoogtepunt of laagtepunt in sy/haar lewe met my deel,
• om met geduld moeilike konsepte op ‘n eenvoudige manier vir kinders aan te leer
• iets op my doenlysie kan afmerk en vir myself kan sê: “Dis goed gedoen.”
• om my jong kollegas se geselskap te geniet.

4. Wat dink jy is die rol van tegnologie in die klaskamer?             

Ek kan my verluister aan die jong mense se gesprekke oor tegnologie. Tegnologie in die klaskamer bring in ons moderne tye werk tot op die kind se vlak. Kinders is geweldig geïnteresseerd in tegnologie en het ‘n natuurlike aanvoeling daarvoor. So enige aanbieding op ‘n nuwe wyse, hou ‘n kind se aandag omdat dit visueel stimilerend is en die belangstelling net maksimaal prikkel.

5. Hoe dink jy gaan onderwys in die volgende vyf jaar verander?           

Ons kon tydens die Covid-pandemie sien hoe goed die meerderheid kinders op hul eie kon aanpas en vorder. Ek glo dat onderwysers nog steeds ‘n belangrike rol gaan speel in onderwys, maar onderwysers gaan meer die werk van fasiliteerders word in ‘n opset waar kinders self, volgens spesifieke programme, digitaal onderrig sal word.

6. Wat maak jou opgewonde oor die toekoms van onderwys?              

Dit maak my super opgewonde dat daar mense is wat woeker en werk om Afrikaans in ons skole te hou. In baie skole word daar nog steeds klem gelê op Christelike waardes. Dis so belangrik dat ons as onderwysers aan hierdie waardes moet vashou en dit so oordra aan ons kinders. Onderwys stop nie
by akademie nie. Onderwysers moet dieper betekenis gee aan opvoeding deur waardegedrewe te onderrig en so jou Jesus-liggie te laat skyn.

7. Lys vyf byvoeglike naamwoorde om Die Wolkskool te beskryf.         

Altyd beskikbaar, verstaanbaar vir leerders, kindervriendelik, volledig volgens kurrikulum, mooi foto’s en illustrasies sodat kinders dit kan geniet.

8. As jy die antwoord op een vraag oor jou toekoms kon leer, wat sou dit wees?     

• My toekoms in die onderwys – Mag die laaste jare in die onderwys vir my net meer en meer genot verskaf.
• My toekoms in persoonlike lewe – Ek kry bevordering van Mamma na Ouma!

9. Watter vreemde of nuttelose talent het jy?         

Ek het die ‘besondere’ vreemde gawe om in prentjies te ‘luister’… so dit wat ek hoor, word in beelde omgesit in my brein. Dit verskaf my soms gróót pret wat ek nie altyd met die verteller kan deel nie.

10. As jy ‘n superheld kan word, wat sal jou spesiale talent wees?        

Ek hoef nie eens oor hierdie vraag na te dink nie… wanneer ‘n kind vir my die volgende vertel, wil ek my spesiale talent met die klap van my vingers in werking stel – “Juffrou, ons kon nie die vakansie iewers heen gaan nie. Ek wou so graag fiets ry, maar my fiets se wiel is stukkend. Ons het nie geld om dit te laat regmaak nie.” Hartverskeurend! Ek wil sulke situasies vir kinders regmaak, sodat wanneer hy/sy by die huis kom, daardie probleem alreeds uitgesorteer is.

Onnieveerder geborg deur VirSeker


Tags

Onnieveerder, SOS


Lees meer...