Ontgin onderwysers se talente maksimaal

2022-02-23

deur André Badenhorst
Navorser by die SOS

André Badenhorst

Vir dekades en selfs eeue het onderwyskenners hul drome en voorspellings vir die toekoms van onderwys in tydskrifte en boeke vasgevang. In hierdie reeks rubrieke gaan navorsers van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) met kenners van ouds “praat” en hulle boodskap oor vernuwing in die onderwys, wat vir dekades in ʼn spreekwoordelike bottel verseël en dikwels verlore geraak het, weer aan lesers bekendstel.

Ek kry onlangs ʼn boodskap in ʼn bottel van ʼn ene Fenwick English, ʼn professor in opvoedkundige leierskap,  wat waarskynlik naby die hoofstad van die VSA in die Potomacrivier gegooi is, die see ingedryf het en my 52 jaar en enkele maande daarna aan die suidpunt van Afrika bereik het.

Ek wonder waarom hierdie eer my juis nóú te beurt moes val, veral omdat ek weet die bottel eers ʼn hele paar draaie by al die lande en eilande tussen die Noord- en Suidpool moes maak?

Dis nou totdat ek die goudgeel papier versigtig oopmaak. Toe weet ek hoekom. Dis nie toeval nie. Ons by Solidariteit Skoleondersteuningsentrum is juis met besig met vrae oor die toekoms van onderwys.

Die titel van die stuk is Questions and answers on differentiated staffing. In my dag des lewens het ek nog nooit die term gehoor nie – selfs nie met effense teoretiese onderwysagtergrond nie – maar dit klink vars en dit trek dadelik my aandag.

Wat is gedifferensieerde personeel? Is daar een definisie?

Ek maak nog nie eens my mond oop nie, toe kom Fenwick reeds met die antwoord in ʼn baie verwaande toon (hy weet blykbaar waarvan hy praat, want dit is die resultaat van 18 maande se navorsing by twee Temple City-skole, staatskole in Los Angeles in die VSA).

“Om onderwyspersoneel te differensieer,” sê hy, “beteken om tussen hul verskillende rolle te onderskei.”

Tog tree daar ʼn stukkie onsekerheid by hom in: Daar is nie ʼn vaste definisie vir gedifferensieerde personeel nie; net ʼn komp modelle gebaseer op ʼn klompie vertrekpunte.

“Ha!” wil ek hom nog uitvang, toe kom die volgende vraag – sommer mét ʼn antwoord:

Wat is die doel van gedifferensieerde personeel?

FenwickW.English235 12-20-07.jpg
Fenwick W English (Foto: En.wikipedia.org)

Dit is om ʼn geïndividualiseerde program daar te stel. Gedifferensieerde personeel maak dit moontlik om onderwysers se talente maksimaal aan te wend. Die probleem tot dusver, reken Fenwick, was om alle onderwysers oor dieselfde kam te skeer, in plaas daarvan dat elkeen sy/haar volle potensiaal bereik. Dit is ʼn gruwelike vermorsing van menslike hulpbronne. Gedifferensieerde personeel stel dit reg deur onderwysers se oneindige kombinasies van talente met die behoeftes van leerders te verenig.

English is nog nie klaar nie: Gedifferensieerde personeel maak dit nou moontlik dat onderwysers opgang kan maak as onderwysers, en nie na skoolhoofde bevorder word wat net ʼn klomp administrasie doen nie.

Nou kom ʼn nederiger Fenwick uiteindelik uit by dit wat ek eintlik wil weet:


Wat is die kritieke bestanddele vir ʼn plan om gedifferensieerde personeel moontlik te maak?

Fenwick noem dat hy die volgende basiese beginsels uit sy ondervinding raaksien:

  1. Gedifferensieerde personeel is die toegang tot toepaslike leer.
  2. Onderrig moet die primêre funksie by alle onderwysers wees.
  3. Onderwysers en skoolhoofde behoort op gelyke voet professionele besluite te neem.
  4. Onderwysers moet van nieprofessionele funksies verlos word.
  5. Die onderwysprofessie moet selfregulerend wees.
  6. ʼn Instelling moet buigbaar wees deur middel van buigbare skedules.
  7. Vooraf- en indiensopleiding moet volgens onderwysers se rolle geskied.
  8. Die hoogste hiërargiese vlak moet dié van diens eerder as toesighouding wees.
  9. Sekere onderwysers moet hoër salarisse as skoolhoofde verdien.

En so gaan die progressiewe Engelsman aan en aan. Dit nogal in 1969 dink ek. Regtig? En ons kry nóú eers die memo?

Bron: Today’s Education – NEA Journal (Maart 1969)

Hierdie artikel het oorspronklik op Maroela Media verskyn: https://maroelamedia.co.za/leefstyl/ouerskap/ontgin-onderwysers-se-talente-maksimaal

Gesels met ons