deur Mariesa Candiotes, Wolkskooldosent: Natuurwetenskappe
Dis belangrik om in hierdie inperkingstyd as gesin saam te sit en logistieke hulpbronne te heroorweeg. Deur meer druk op jou kind te plaas, gaan geen vrugte afwerp nie. Moet ook nie nou aan dinge gaan verander en anders optree as wat jy sou voor die inperking nie. Dit kweek ongewenste gewoontes wat jy gaan moet volhou sodra die skole weer heropen. Waak dus daarteen om aan die einde van elke dag ‘n vasvra oor die werk te hou of opsommings vir jou kind te maak oor die werk. Indien jou kind op medikasie is, hou daarby. Leer jou kind ken en stel ‘n roetine daar, dit dien as sekuriteit en grense vir jou kind.
Daarmee saam moet ouers hul rol onthou en nie nou as die plaasvervanger-onderwyser probeer optree nie. Meeste skole is reeds aan die werk op aanlyn platforms en deur middel van weeklikse werk wat aan die leerders gestuur word. Ouers kan ook hierdie tyd gebruik om sleutelvaardighede te ontwikkel of ander vaardighede aan te spreek, soos hoe druk ek ‘n PDF-dokument, of hoe stoor ek ‘n “Word” dokument?
Deel van die vaardighede wat nou aangeleer kan word, tesame met die rooster wat dien as tydbestuur, is beplanning.
Hoe leer ek my kind effektief beplan?
Die belangrikste wenk wat ek kan gee is om saam met jou kind te sit en ‘n rooster op te stel – so leer jy jou kind hoe om te beplan. Hierdie rooster moet die dag se aktiwiteite insluit en nie net die skoolwerk nie, maar ook die tussenin periodes.
Kinders se optimale aandagspan word algemeen aanvaar as die kind se ouderdom plus twee (2) minute. Dit is ook lank reeds die riglyn in die geval van ADHD-kinders. Wanneer daar aan ‘n rooster beplan word, neem aandagspan in ag.
Dit lyk dalk soos volg…
‘n 12-jarige kind se aandag span is 12 + 2 min = 14 minute. Dus kan hierdie kind slegs 14 minute optimaal konsentreer en moet daar, na hierdie tydperk ʼn 5 minute rustydperk neem word. Die proses word dan herhaal, 14 minute werk, 5 minute rus en na drie rusperiodes moet die kind ʼn 15 – 20 minute breek neem. In hierdie rusperiode moet daar geen skermtyd geskied nie en so veel moontlik fisiese aktiwiteite plaasvind. Gaan speel buite, hardloop, drink water en laat die hart so ‘n bietjie vinniger klop.
Jacoleen Vogel, ʼn opvoedkundige sielkundige van Centurion, gee hierdie oulike wenk om kinderbeplanningsvaardighede aan te leer.
Begin bak! Kinders moet leer om ʼn resep te volg en daarmee saam gaan daar die nodige beplanningsvaardighede ontwikkel word.
Hoe gaan ‘n mens te werk? Wel, jy beplan deur nodig bestanddele uit te haal en die nodige gereedskap reg te kry. Die resep moet dan stapsgewys gevolg word, met behulp van die gereedskap (wat op die regte tyd gebruik moet word) en die bestanddele (wat op die regte tyd saam met die regte bestanddele gemeng moet word). Hierdie is ʼn heel eenvoudige, tog prettige manier om beplanningsvaardighede by kinders te kweek.
Nou hoe gemaak met ʼn ADHD-kind wat self moet leer?
Hou in gedagte dat 80% van ADHD-kinders nie oor selfgerigte-leervaardighede beskik nie. Hulle moet so ‘n bietjie dinamiet onder die stoel kry, voor hulle aan die werk sal spring. Hulle beplanningsvermoë is beperk en hul toon gewoonlik impulsiewe gedrag. Hierdie kinders het dus meer fasilitering nodig.
ADHD is nie ‘n intellektuele hindernis nie, en kan met die regte hulpbronne, reg bestuur word. Hier volg ʼn paar wenke deur Jacoleen Vogel:
- Onthou, stel ʼn rooster van die week se verloop op saam met jou kind (net soos hulle ʼn rooster in die skool sou volg)
- Neem aanlyn video’s op, sodat jou kind weer daarna kan kyk, notas kan maak en die werk kan internaliseer.
- Maak van soveel moontlike sintuie gebruik tydens die leerproses, stop ʼn video – praat hardop (hoor), skryf (voel), teken prentjies (sien).
- Sintuie is die skuldige partye. Wanneer kinders se aandag afgelei word, laat jou kind springmielies eet. Die reuk en die geur daarvan, asook die kou daarvan, hou drie van jou kind se sintuie ‘besig’ en so kan die fokus op die les gerig word. (Verkieslik soutgegeurde springmielies)
- Hou ook water naby vir ná die springmielies.
- Maak van klei gebruik om jou kind se hande besig te hou tydens werktyd.
- Skep ʼn rustige atmosfeer
- Bind ʼn sykous of rek om jou kind se stoelpoot, hulle voete word so lekker besig gehou of maak gebruik van ʼn oefenbal.
- Ken jou kind: elkeen het ʼn ander leerstyl – hou daarby.
- Wees aanpasbaar, indien jou kind nie ‘n oggendpersoon is nie, begin die dag ‘n bietjie later, maar laat hulle steeds hare kam, tandeborsel en die oggendroetine behou.
Hierdie is ‘n boodskap wat ʼn onderwyser van Pretoria aan haar ouers gestuur het (aangepas):
Raak assseblief rustig, dit is my werk om jou kind te leer. Ons sal weer op datum kom, want ek is ‘n onderwyser en dit is my ‘superpower’. So op hierdie stadium het ek jou nodig om jou rustigheid met jou kind te deel en jou krag in hierdie onseker tyd. Lag saam met jou kind, want sien, niemand is voor nie en niemand is agter nie – almal is in dieselfde bootjie en dis presies waar jou kind nou moet wees.”
Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.