Ouervervreemding: Skole en gemeenskappe het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons kinders

deur Marietjie Havenga

Onderwysspesialis: SOS

In ‘n gebroke samelewing is dit nie vreemd om gereeld van verskeie vorme van mishandeling te hoor, te lees, te sien of self te ervaar nie. Een vorm van mishandeling wat dikwels in die skaduwees verskuil word en diep emosionele pyn en psigologiese skade aan die slagoffers daarvan veroorsaak, staan bekend as ouervervreemding. Die probleem het ‘n verwoestende uitwerking op gesinne en families. Dit is ‘n vorm van mishandeling wat redelik onbekend is en mense is nie gemaklik om openlik daaroor te praat nie, omdat dit gekompliseerd is en meestal verkeerd verstaan word of net misgekyk word. Hoewel dit moeilik is om ouervervreemding te identifiseer, is daar gevaartekens wat nie misgekyk moet word nie. Ouers, onderwysers en die gemeenskap kan saam staan om ons kinders te beskerm wat as pionne gebruik word om ‘n geteikende ouer te knak.

Ouervervreemding in ‘n neutedop

Ouervervreemding vind plaas wanneer een ouer (die ouer wat die vervreemding beoefen) ‘n kind breinspoel om sonder geldige redes vyandig en verbitterd teenoor die ander ouer (die geteikende ouer) te wees. Die kind verafsku die geteikende ouer, sonder dat daar in werklikheid rede vir hierdie sterk gevoelens teenoor die geteikende ouer is. Die ouer wat die vervreemding beoefen, is manipulerend en gebruik slinkse metodes om op subtiele maniere sleg van die geteikende ouer te praat voor en/of met die kind. Dit word op so wyse gedoen dat die kind dink hy/sy het self hierdie gedagtes oor die geteikende ouer ontwikkel of swakhede in die geteikende ouer geïndentifiseer. Die ouer wat die vervreemding beoefen ondermyn die gesag van die geteikende ouer en sal valshede oor die geteikende ouer uitdink om vir die kind te vertel om sodoende die kind  te breinspoel om alle respek en liefde vir die geteikende ouer te verloor. Die beeld van die geteikende ouer word stelselmatig voor die kind afgebreek, wat kan lei tot totale ouervervreemding waar die kind glad nie meer met die geteikende ouer wil assosieer nie. Dit lei tot familieskeurings en gebroke verhoudings wat slegs met drastiese intervensie  herstel kan word.

Identifiseer die tekens van ouervervreemding

Dit is noodsaaklik dat daar ‘n bewustheid van ouervervreemding geskep word by skole en in die gemeenskap, sodat vroeë intervensie en ondersteuning gebied kan word. Daar is verskillende wyses waarop vervreemding kan manifesteer, maar algemene tekens sluit in:

  1. Die kind is weerstandig en vyandig en toon ‘n sterk afkeer teenoor die geteikende ouer en/of sy/haar familie, sonder geldige redes. Die redes bestaan gewoonlik uit valse inligting waarmee die kind gebreinspoel is deur die ouer wat die vervreemding beoefen. ‘n Kind sal soms gebeurtenisse “herroep” wat in realiteit nooit werklik plaasgevind het nie.
  2. Die kind gebruik neerhalende woorde en/of  terminologie teenoor die geteikende ouer, bv. narsis, psigopaat, gasbeligting, , ens. Dit is woorde wat die kind nie self werklik verstaan of wat nie normaalweg in ‘n minderjarige se woordeskat voorkom  nie.
  3. Die kind  reageer gewoonlik met afgerigte antwoorde wanneer hulle ondervra word oor die vervreemding, en mislei dikwels selfs spesialiste en die gereg met die afgerigte antwoorde.
  4. Die kind is volledig ingelig oor die perspektief van die ouer wat die vervreemding beoefen, ongeag of dit die waarheid is of nie. Die kind het geen belangstelling in die perspektief van die geteikende ouer nie en word subtiel gemanipuleer om kant te kies tussen die twee ouers. Die kind vrees om die ouer wat die vervreemding beoefen teleur te stel en skaar hom-/haarself eerder by die manipulerende ouer ter wille van “vrede”.
  5. Die kind weier om tyd met die geteikende ouer deur te bring ten spyte van ‘n baie goeie verhouding voordat die vervreemding begin plaasvind het. Die goeie tye word onderdruk en selfs ontken. Hy/sy sal die ouer vermy sover as moontlik. In ernstige ouervervreemding sal die geteikende ouer se hele familie en/of vriende van die ouer vermy word.

Hoe kan onderwysers en die gemeenskap help om ouervervreemding in die kiem te smoor

  1. Onderwysers en/of sportafrigters moet beide ouers ten alle tye in kennis stel van sake rakende die kind. Tensy daar ‘n interdik of hofbevel is teen ‘n ouer, mag geen ouer inligting rakende hulle kind geweier word of voorkeur aan een ouer bo ‘n ander gegee word nie.
  2. Konstante vyandige gedrag/uitsprake van ‘n kind teenoor ‘n ouer moet gedokumenteer word en ondersoek word. Alle ouers en kinders het van tyd tot tyd meningsverskille en konflik, maar ‘n voortdurende vyandigheid en afwesigheid van een van die ouers, moet aangemeld word by die skoolberaders en/of ondersteuningsnetwerk. Indien die simptome vinnig waargeneem word en aangemeld word, kan intervensie vinniger plaasvind om verdere skade te voorkom.
  3. Meeste skole het ‘n veilige ruimte en ondersteuningsnetwerk vir leerders beskikbaar om vertroulik oor sake te kan praat. Dit is hoogs onwaarskynlik dat ‘n kind wat ‘n slagoffer van ouervervreemding is, self daaroor sal praat, omdat hulle nie bewus is daarvan dat hulle gemanipuleer en gebreinspoel word nie. Hulle glo volkome dat hulle geldige redes het om die geteikende ouer te verag. Onderwysers, die kind se maats, die gemeenskap, vriende of ander ouers moet tekens van ouervervreemding by die skool se ondersteuningsnetwerk aanmeld, sodat die saak verder ondersoek kan word.
  4. Ouerleidingsessies – skole en gemeenskappe kan  bewustheid van ongesonde praktyke aanspreek   en leiding gee aan ouers oor die hanteringvan ouervervreemding. Die langtermyn gevolge daarvan kan in sommige gevalle tot die ouer, wat die vervreemding beoefen, deurdring en intervensie kan daarna plaasvind.  
  5. Die gemeenskap het kundiges wat mediasie, bindingsterapie en ondersteuning kan bied om die verhouding tussen die geteikende ouer en kind te fasiliteer. Wanneer skole en gemeenskappe bewus is van dié vorm van mishandeling, kan slagoffers van ouervervreemding gemotiveer word om gebruik te maak van die hulp wat beskikbaar is om herstel te bring.

Ouervervreemding is ‘n vorm van kindermishandeling wat langtermyn gevolge op die kind se algehele welstand het. Skole en gemeenskappe wat bewus is daarvan en die basiese simptome daarvan kan identifiseer, kan ‘n deurslaggewende rol speel om te help om die skadelike uitwerking van ouervervreemding te verminder. Elke kind het die reg om ‘n liefdevolle en betekenisvolle verhouding met beide van sy/haar ouers te hê. Dit is ons verantwoordelikheid om in die beste belange van ons kinders op te tree.


Tags

Skoleondersteuningsentrum, SOS


Lees meer...