fbpx

Outydse speletjies – ‘n Sosiale erfenis vir hedendaagse leerders

deur Marietjie Havenga – Onderwysspesialis: Kleuterskole

Speel het nie ‘n ouderdomsbeperking nie. Dit is noodsaaklik vir die ontwikkeling van leerders en het menigte voordele vir mense van alle ouderdomme. Deur spel leer leerders nie net hoe om te sosialiseer nie, maar hulle leer ook ander lewensvaardighede aan, byvoorbeeld probleemoplossing en hoe om sin te maak van die wêreld om hulle. Ouers en onderwysers wat met hulle leerders speel, vorm  sterk bande. Dit skep ‘n leergeleentheid vir ouers en onderwysers om waardes vas te lê. Leerbare oomblikke kan deur spel ontgin word, omdat dit die brein se gunsteling manier van leer is. Dit is pret, verlig spanning en bevorder breinfunksionering.

Outydse, tradisionele speletjies is ‘n sosiale erfenis wat oorgedra word en generasies met mekaar verbind. Hier is ses outydse speletjies wat die toets van tyd deurstaan het en hopelik nog lank sal voortleef vir die toekomstige generasies om te geniet. Kleuterskool- en grondslagfase onderwyseresse kan die speletjies gebruik om fundamentele, perseptuele vaardighede vir skoolgereedheid speel-speel te ontwikkel.

Bok in die hok

‘n Ideale speletjie wat op die rugbyveld of ‘n groot oop spasie gespeel kan word.  Twee leerders staan aan weerskante van ‘n groep kinders op die speelveld. Die kinders in die middel is die bokke en die twee maats aan weerskante van die groep is die jagters.  Die jagters gooi ‘n tennisbal of ander klein sagtebal vir mekaar oor die speelveld. Indien die bal ‘n kind (bok) in die speelveld tref, is die bok “raakgeskiet”.  Die jagters mag nie die bal hoër as die middellyf gooi nie. Wanneer ‘n bok raakgeskiet word, gaan hy/sy na die jagter toe wat hom/haar met die bal getref het. Die jagter met die meeste bokke is die wenner.

Perseptuele vaardighede:  hand-oog-koördinasie, liggaamsbewustheid, voorgrond-agtergrond-persepsie, dominansie, ruimtelike persepsie

Kat en muis

Die leerders staan in ‘n kring en hou hande vas. Een van die leerders in die groep word gekies om die kat en die ander om die muis te wees. Die kat moet die muis probeer vang. Die kat beweeg aan die binnekant van die kring. Die leerders wat in ‘n kring hande vashou, se taak is om te sorg dat die kat nie uitkom nie. Die muis kan vrylik buite en binne die kring beweeg. Die maats wat in die kring staan, moet die muis help om vinnig binne en buite die kring te kan beweeg deur hulle hande op te lig. Sodra die kat die muis gevang het, word daar twee ander kinders gekies om die kat en die muis te wees.

Perseptuele vaardighede:  ruimtelike persepsie, visuele persepsie, lateraliteit

Krappe en Krewe

Leerders verdeel in twee groepe: Krappe en Krewe. Elke groep vorm ‘n ry en hulle staan rug-teen-rug (met ander woorde, hulle kyk in teenoorgestelde rigtings). Een leerder/onderwyser of ouer staan langs die krappe en krewe rye en skree “krappe” of “krewe” uit. Wanneer hy/sy “krappe” skree, hardloop die krappe weg en die krewe probeer om soveel as moontlik van die krappe te vang en andersom. Die wat gevang is, word dan deel van die ander span. Die spanname word uitgerek geskree …. krrrrrrrrrrrrrrrr… sodat die groep fyn moet luitster wie moet hardloop en wie moet vang.

Perseptuele vaardighede:  ouditiewe diskriminasie

Middelmannetjie

‘n Groep leerders staan in ‘n lang ry. Die twee leerders wat op die punte van die ry staan, gooi of rol ‘n bal op enige manier na mekaar. Die bal mag nie hoër as kophoogte gegooi word nie. Die leerders in die middel van die ry moet die bal probeer onderskep. Wanneer ‘n leerder die bal onderskep het, moet die gooier in die middel gaan staan. Die leerder wat die bal gevang het, neem die gooier se plek in. 

Perseptuele vaardighede:  visuele persepsie, hand-oog-koördinasie, dominansie, ruimtelike persepsie, liggaamsbewustheid

Onder-handjie Klap

Die leerders vorm twee groepe wat in rye teenoor mekaar staan. Daar moet genoeg hardloopafstand tussen die twee groepe wees. Een van die leerders in ‘n groep gaan na die ander groep. Die ander groep hou almal hulle hande voor hulle uit, met hulle palms wat na onder wys. Die kind wat aan is, loop in die ry af van die groep teenoor wie sy/haar groep staan en streel met albei sy/haar hande bo-oor die maats in die ander groep se hande. Wanneer hy/sy ‘n maat se hand aan die onderkant raak, moet hy/sy terug hardloop na sy/haar eie groep toe. Die leerder wie se hand aan die onderkant geraak is, moet die speler probeer vang voor hy/sy terug is by sy/haar eie groep. Indien die speler gevang word, word die kind deel van die groep wat hom/haar gevang het. Die groep wat teen die einde die meeste leerders het, is die wenners.

Perseptuele vaardighede:  liggaamsbewustheid, ruimtelike persepsie

 Vroteier

Die leerder sit in ‘n kring op die grond. Een persoon hardloop met ‘n voorwerp (byvoorbeeld, ‘n sagte balletjie) in sy hand om die sirkel en gooi die voorwerp agter een van die sittende kinders in die kring. Die leerder voel die voorwerp, tel dit dan op en jaag die persoon wat aan was óm die kring terwyl daardie persoon die hardloper se plek probeer inneem. Indien die jager die hardloper vang, is die hardloper ‘n vroteier en moet hy/sy in die middel van die kring gaan sit. Sodra iemand anders weer gevang word, kan die middelste vroteier sy/haar posisie in die kring gaan inneem en die nuwe vroteier sit in die middel van die kring.

Perseptuele vaardighede:  ruimtelike persepsie, liggaamsbewustheid

Outydse speletjies wat van geslag na geslag oorgedra word, kweek lewenslange herinneringe. Ouers en onderwysers raak nostalgies wanneer outydse speletjies deur hedendaagse leerders gespeel word. Volwassenes ontdek weer die kind binne hulself deur tradisionele speletjies oor te dra na die moderne wêreld. 

Ons hou nie op speel omdat ons oud word nie. Ons word oud omdat ons opgehou speel het. – G.B. Shaw


Tags


Lees meer...