fbpx
  • Home
  • Paniek-produktiwiteit tydens grendeltyd

Paniek-produktiwiteit tydens grendeltyd

Panic

0 comments

deur: Estel Terblanché

Kids running

Het jy al ooit gesien hoe ʼn skaaphond optree wanneer hy vir die eerste keer op die strand los gelaat word? Of ʼn kind wat vir die eerste keer toegelaat word om deur die kerk te hardloop?
Dit is asof die ruimte om hulle so oorweldigend is, dat hulle dit wil ervaar deur daardeur te hardloop!

IMG 20190408 WA0000

Is dit nie hoe baie Suid-Afrikaners die grendeltydperk ervaar nie? ʼn Vreemde, oop ruimte van tuisbly, geen verkeer of afsprake nie. Maar wees gewaarsku, hierdie is níe ʼn ruimte waardeur jy moet hardloop níe! Talle mense ervaar nou druk om selfs meer produktief te wees as gewoonlik. Jy moet egter verstaan dat jou leefwêreld heeltemal verander en dat jy tyd gaan nodig hê om aan te pas in die nuwe ruimte.

Hier is vier redes waarom jy nie PANIEK-PRODUKTIEF moet raak nie:

1. Die nuwe normaal

Om te wag dat dinge terug moet keer na normaal is nutteloos. Hoe harder jy gaan probeer om terug te keer na normaal, hoe meer gefrustreerd gaan jy raak. Sien hierdie eerder as ʼn kans om al die veranderinge aan te bring wat jy nog altyd wou. Skep vir jouself ʼn nuwe normaal!

2. Prosessering bo produktiwiteit

Gun jouself die eerste paar weke om emosioneel aan te pas by die omstandighede. Jy mag dalk deurmekaar of verlore voel sonder jou kollegas of gereelde familie besoeke. Fokus op jou gesin, julle huisroetine, stiltetyd en veiligheid. Skep vir julle ʼn veilige hawe en ignoreer ander se “trots-produktief” sosiale-media plasings. Doen wat jy kan met die tyd wat jy het.

3. Die kopskuif

Sodra jy, jou gesin en jou kollegas se onmiddellike omgewing stabiel is, sal jy vinnig weer opsoek wees na kognitiewe stimulering. Onthou dat daar nou sekere uitdagings gaan wees om te oorkom (soos wanneer die internet kabel onder die see alweer breek). Wees bereid om geduldig te wees en een vir een die uitdagings aan te durf. Dit mag dalk van jou verg om ander werk te verrig as voor die staat van inperking. Maak jou lyf slap in die water en probeer om die nuwe uitdaging saam met jou kollegas ʼn avontuur te maak.

4. Die nuwe roetine

Wanneer jou kopskuif gemaak is, sal roetines natuurlik in plek val. Jy sal gemakliker wees met die werk wat gedoen moet word en hoe om dit met jou familie, oefening en stiltetyd te balanseer. Jou produktiwiteit sal weer begin toeneem en jy sal gemakliker wees om aan julle huidige manier van dinge doen te verander.

Waves

Jy mag dalk nou voel jy wil die oop ruimtes bestorm en beheer neem. Niemand weet hoe lank hierdie pandemie met ons gaan wees nie. Hierdie aanpassing is ʼn marathon, nie ʼn resies nie. Om voort te stoomroller is nie die antwoord nie. Om hierdie oop ruimtes van grendeltyd met paniek produktiwiteit te vul, is nie volhoubaar nie.

Die antwoorde kom die duidelikste wanneer ons die geluid van die branders indrink. Ons harte vind rus in die groot, oop ruimtes van die Here se genade.

Estel Terblanché is ‘n radio-omroeper, projekkoördineerder en geleentheidspreker.

Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.

About the Author

Follow me


{"email":"Email address invalid","url":"Website address invalid","required":"Required field missing"}