fbpx

Politici en ouers moes voorval by Laerskool Schweizer-Reneke anders hanteer

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) veroordeel die wyse waarop ouers en politieke leiers in Noordwes die sogenaamde “rasse-voorval” by die Laerskool Schweizer-Reneke die afgelope week hanteer het.

“Eerder as om gevestigde kanale te volg om hul ontevredenheid met die onderwyser te bespreek, het lede van die gemeenskap hul tot sosiale media gewend, waarna die LUR vir onderwys en elke ander opportunistiese politikus met loeiende sirenes by die skool opgedaag het,” sê Melanie Buys, onderwyskenner aan die SOS.

“Ontevrede ouers moes eers die onderwyseres genader het. Indien dít nie die gewenste uitwerking het nie, moet die skoolhoof of beheerliggaam geleentheid kry om die saak aan te spreek. Sou die saak steeds nie opgelos word nie, kan die departement toetree,” sê Buys.

“Wat in Schweizer-Reneke gebeur het, is ’n blatante boelie-taktiek deur politieke groepe met verskuilde agendas, wat geensins die belang van leerders aan die skool voor oë het nie.”

Sy wys daarop dat elke onderwyser professioneel opgelei en ervare is om bepaalde situasies in die klas te hanteer en die beste belang van elke kind op die hart het. “Maar Panyaza Lesufi (Gautengse LUR vir onderwys) het ’n voorbeeld gestel deur die manier waarop hy in skole se dissiplinêre sake inmeng sonder om hom van die feite te vergewis of die skole kans te gee om ’n situasie te hanteer. Die hare-kwessie by Pretoria Girls High en die kolwyntjie-voorval by ’n Gautengse kleuterskool is nog twee voorbeelde van totalitêre optrede deur politici, wat glad nie in ’n demokrasie hoort nie.” sê Buys.

Buys sê skole is onafhanklike regsentiteite, wat die beste in staat is (en die reg het) om klagtes teen hul personeel self op te los. “Die feit dat voorgeskrewe kanale ignoreer is en die onderwyseres reeds in die media skuldig bevind is, het die skool se beheerliggaam in ’n onmoontlike posisie geplaas. Hulle is geen geleentheid gebied om die saak konstruktief te ondersoek en hanteer nie.”

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.