deur Sarina Prinsloo
Kommunikasiespesialis: SOS
Ek onthou my tyd as ‘n jong onderwyser goed – 14 klasse van 40 leerders elk, almal tussen die ouderdomme van 6 en 13! Tussen lesvoorbereiding, eindelose administratiewe take, klaskamerdissipline, asook die tyd om elke kind se unieke behoeftes te probeer aanspreek, het ek dikwels oorweldig gevoel. Ek was heeltyd op ’n drafstap op pad na wie weet waar en uitbranding het gou ‘n realiteit geword.
Onlangs het die SOS hul jaarlikse seminaar vir beginneronderwysers aangebied en dit was wonderlik om byna 200 jong onderwysers daar te verwelkom. Dit was egter ook duidelik dat hulle met soortgelyke uitdagings te make het. Klaskamerdissipline is maar net een van die vele struikelblokke. Hierdie jong onderwysers het die beroep gekies omdat dit vir baie van hulle ‘n roeping is, maar hulle moet toegerus word om hul entoesiasme en liefde vir die beroep op ‘n volhoubare manier uit te leef. Hulle moet nie net oorleef nie, maar floreer!
Oor die jare het ek geleer dat dit onmoontlik is om aan te hou gee as jy nie na jouself omsien nie. Hierdie beginsel geld nie net vir onderwysers nie, maar vir elke ander beroep en ook in ons alledaagse lewe. Ons almal moet leer om ‘n balans te vind, sodat ons iets hét om te gee. Dít is egter makliker gesê as gedaan.
Die leë koppie metafoor
As onderwysers is dit maklik om net te gee en te gee, totdat daar niks meer oor is nie. Dit is hoekom selfversorging so belangrik is. Brené Brown, ‘n toonaangewende navorser oor kwesbaarheid, herinner ons in haar werk daaraan dat ons menslikheid en onvolmaaktheid nie ons waarde verminder nie. Trouens, dit is juis in ons kwesbaarheid wat ons krag lê.
Volgens Brown beteken dit dat ons nie hoef te wag totdat ons perfek is om ons beste te gee nie. Ons hoef nie foutloos te wees om goeie onderwysers te wees nie. Deur ons eie welstand te prioritiseer, erken ons dat ons waardevol is net soos ons is en dit stel ons in staat om met groter deernis en energie aan ons leerders te gee. Wanneer ons ons menslikheid omhels, wys ons vir ons leerders dat dit nie net reg is om hul eie behoeftes te erken nie, maar noodsaaklik is om hul beste self te kan wees.
Tyd as ‘n kosbare hulpbron
Een van die grootste uitdagings vir onderwysers is tyd. Daar is net nooit genoeg daarvan nie. Tussen die nasien van take, lesvoorbereiding en die daaglikse eise van die klaskamer kan dit onmoontlik voel om tyd vir jouself te maak. Tog kan selfs klein oomblikke van selfversorging ’n groot verskil maak in hoe ons voel.
Hier is ‘n paar praktiese stappe om jou welstand te prioritiseer, selfs wanneer jou skedule vol is:
- Klein oomblikke van bewustheid (mindfulness): Jy hoef nie ure lank te mediteer nie. Vyf minute van bewustheid aan die begin of einde van jou dag kan al ‘n groot verskil maak. Eenvoudige asemhalingsoefeninge of ’n kort stappie kan help om jou gedagtes te verfris en stres te verminder. Voor die klas begin, sit vir vyf minute stil by jou lessenaar, haal diep asem en fokus net op jou asemhaling. Dit kan jou help om kalm en gefokus te bly deur die dag.
- Stel duidelike grense: Dit is belangrik om soms nee te sê. Skep vaste tye wanneer jy op skoolwerk fokus en tye wanneer jy doelbewus afskakel. Besluit dat jy ná 18:00 nie e-posse gaan beantwoord nie. Stel jou kollegas en ouers daarvan in kennis en hou daarby, sodat jy tyd het om na-ure bietjie te ontlaai.
- Klein dade van selfsorg: Selfsorg hoef nie ingewikkeld of tydrowend te wees nie. Vyf minute vir ’n koppie tee of ’n kort sessie van joernaalskryf kan jou energievlakke verhoog. Tydens pouse, neem ’n paar minute om buite vars lug te kry en geniet ‘n koppie tee sonder om aan werk te dink. Net ‘n kort (brein)pouse so in die middel van die dag kan al ’n verskil maak in hoe jy voel.
- Leun op jou gemeenskap: Onderwysers probeer dikwels alles op hul eie hanteer, maar dit is nie nodig om al die laste alleen te dra nie. Dit verg ‘n gemeenskap om die uitdagings van die beroep ligter te maak. Skep ‘n ondersteuningsnetwerk by die skool waar kollegas gereeld bymekaar kom om oor uitdagings te gesels en raad uit te ruil. Ouer, meer ervare onderwysers kan as mentors waardevolle insigte en praktiese raad gee.
Uit jou oorvloed na ander
Onderwys is een van die mees veeleisende beroepe en dit is maklik om jouself uit te brand terwyl jy vir ander probeer sorg. Maar onthou, jy is nie net ‘n onderwyser nie, jy is ook ‘n rolmodel vir jou leerders. Deur na jouself om te sien, wys jy hulle dat selfversorging nie ‘n luukse is nie, maar ‘n noodsaaklike deel van ‘n gesonde lewe. Wanneer jy jou eie behoeftes erken en aandag gee, vul jy jou “koppie” en bou die vermoë om op ‘n betekenisvolle manier aan ander te gee. Maak dus tyd vir jouself, dit stel jou in staat om met volheid aan ander te gee.
0 comments