fbpx

Praktiese ontsmettingsmetodes vir rekenaarsentrums

deur Charlotte Fourie, Die Wolkskooldosent

Copy of GRATIS 48

Elke skool se rekenaarsentrum lyk anders en daar is ongelukkig nie een oplossing wat almal sal pas nie. Die onus berus by die onderwyser om die inligting en wenke in hierdie dokument te gebruik om ‘n metode te vind wat die beste vir daardie skool se sentrum sal werk. Hier is egter ‘n paar handige wenke en algemene riglyne.

Algemene riglyne

  1. Die riglyne soos bepaal deur die skool se bestuurslede moet sover moontlik ook in die rekenaarsentrum geld.
  2. Leerders se hande moet ontsmet word wanneer hulle die rekenaarsentrum binnekom en weer verlaat.
  3. Gesigsmaskers moet ook in die rekenaarsentrum gedra word.
  4. Leerders moet dieselfde rekenaar vir elke les gebruik – skep ‘n vloerplan en naamplakkers vir elke werkstasie sodat daar deeglike rekords is van waar leerders elke periode sit.
  5. Leerders en onderwysers moet ‘n fisiese afstand van 1,5 – 2 meter van mekaar af handhaaf.
  6. Onderwysers moet sagteware installeer wat hulle in staat sal stel om leerders vanaf die onderwyser-werkstasie te help, sodat die onderwyser nie na elke leerder se rekenaar hoef te gaan nie. Veyon is ‘n voorbeeld van sagteware wat dit moontlik sal maak.
  7. Alle rekenaartoerusting moet voor en na elke gebruik ontsmet word. Dit sluit die volgende toerusting in: sleutelborde, muise, tafels, stoele, rekenaarskerms, rekenaarbokse (indien op tafels of binne bereik van leerders) en ander toerusting wat moontlik deur leerders aangeraak word gedurende die periodes.
  8. Gebruik slegs ‘n sagte, pluisvrye lap om rekenaartoerusting te ontsmet. Vermy handdoeke, papierhanddoeke, of soortgelyke items wat rekenaartoerusting kan beskadig.
  9. Vermy die oormatige afvee van rekenaartoerusting, wat skade aan sleutelborde en skerms kan veroorsaak.
  10. Ontkoppel alle eksterne kragbronne, toestelle en kabels voordat ontsmetting daarvan plaasvind.
  11. Hou vloeistowwe en vog weg van die rekenaartoerusting en openinge in die toerusting, tensy die produkte spesifiseer dat dit veilig is vir daardie spesifieke rekenaartoerusting.
  12. Vermy enige bleikmiddels.
  13. Lugversorgers in die rekenaarsentrum mag nie aangeskakel word nie.
  14. Verseker dat daar goeie ventilasie in die sentrum is – hou vensters en deure oop waar nodig.
  15. Wanneer leerders die rekenaarsentrum betree, moet hulle liefs in die volgorde waarin hulle sit, binnekom en weer loop. Met ander woorde, die leerder wat die verste van die deur af sit, moet die sentrum eerste binnekom, en die leerder naaste aan die deur moet die sentrum eerste verlaat.
  16. Die onderwyser en bestuurslede moet verseker dat daar daagliks genoeg ontsmettingsmiddel in die rekenaarsentrum is.
language lab 181083 640

Praktiese ontsmettingsmetodes

Spuitbottels met ontsmettingsmiddels

  1. Indien spuitbottels met ontsmettingsmiddels gebruik word, moet slegs een persoon (die onderwyser) die spuitbottel hanteer. Leerders kan ook versoek word om hul eie spuitbottel skool toe te bring, maar dan moet elke leerder sy eie bottel hanteer.
  2. Moenie die ontsmettingsmiddel direk op die rekenaartoerusting spuit nie. Spuit dit eerder op ‘n weggooibare lap en gebruik die lap om die toerusting te ontsmet. Gebruik slegs ‘n sagte, pluisvrye lap. Vermy handdoeke, papierhanddoeke, of soortgelyke items wat rekenaartoerusting kan beskadig.
  3. Wees versigtig om die toerusting nie nat te maak en te beskadig nie.
  4. Laat die toerusting goed droog word voordat die volgende leerders die toerusting gebruik.
  5. Gebruik eerder plastiese bedekkings oor die sleutelborde en muise, soos Ziplock-sakkies of Cling Wrap, en ontsmet dan hierdie bedekking na elke gebruik. 

Ontsmettings-lappies

Gebruik ’n 70% isopropyl-alkohol-lappie, byvoorbeeld Zeiss Display Cleaning Wipes of Fellowes Surface Wipe.

Ander metodes om te oorweeg

LET WEL: wees bewus van die veiligheidsrisiko’s indien hierdie opsies gekies word. Slegs opgeleide kenners moet hierdie produkte installeer en gebruik.

UV-ligte

Germicidal UV- of UV-C-ligte kan gebruik word om rekenaarsentrums aan die einde van elke dag te ontsmet sonder om toerusting te beskadig. Afhangende van die grootte van die sentrum, neem dit tot 30 minute om te ontsmet. Indien die skoolrooster dit toelaat, kan dit tussen periodes gedoen word, of slegs voor- en na skool.

Sproeimasjiene (sanitizing fog machines)

Hierdie masjiene kan gebruik word om chemikalieë as ‘n tipe mis te versprei en so die rekenaarsentrum te ontsmet.

Voorbeelde van hierdie masjiene is die SaniSystem: https://technofog.co.za/coronavirus.php

Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.


Tags


Lees meer...