Reis na ‘n Meesteronderwyser

2022-04-02

deur Charlotte Fourie

Projekbestuurder, Solidariteit Skoleondersteuningsentrum

Niemand sou prof. Danie Goosen kwalik geneem het as hy jare gelede al sy “werkshandskoene” opgehang het nie, maar hy lag as jy dit aan hom noem. “Nee jong, die arbeid is baie en die arbeiders min.” In Goosen het ek ʼn skat van gebottelde briefies ontdek – boodskappe gevul met hoop, wysheid en ervaring. ʼn Spesifieke boodskap in een van hierdie “proffie-bottels”, dalk steeds vir onwillige ore geseël, het kliphard met mý onderwyserhart gepraat.

Die era van die kind

In ʼn stadium in ʼn mens se lewe kom jy op ʼn punt waar ʼn roepingsbesef sterker is as die behoefte om die korporatiewe leer te klim. Dit is waarom Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), ingenieurswese vir onderwys verruil het. Roeping en onderwys is twee begrippe wat gereeld in dieselfde sin gebruik word. Buiten dan as ʼn roeping, waarom anders sal geleerde en professionele persone hulle lewe aan ʼn sektor toewy met ongekende uitdagings soos afknouery, min tot geen ondersteuning en uitmergelende werksure en verwagtinge?

“Ewigheidswaarde” is nog ʼn belangrike woord in die onderwysberoep. In ʼn onlangse vraelys het die oorgrote meerderheid van onderwysers aangedui dat hulle ʼn onderwyser is omdat hulle lewens (spesifiek dié van kinders) wil verander.

Ek werk daagliks met dienende onderwysers en ook onderwysers wat gekies het om die beroep te verlaat. Hulle is dit eens: Die onderwysomgewing het drasties verander, maar anders as verandering wat groei stimuleer, is hierdie wiele van verandering besig om agteruit te rol. “Die era van die kind” is hoe Goosen se boodskap die nuwe onderwysomgewing verwoord.

Is ons nog “onderwysers”?

Elke onderwyser moes al vrede maak met die misvattings oor die onderwysberoep. Die samelewing plak ons voorkoppe toe met talle mistastende etikette: onderwysers het baie vrye tyd en vier vakansies; mans in die onderwys wil net rugby afrig; onderwysers hergebruik toetse en eksamens; onderwysers het min spanning; onderwysers is lui.

Die samelewing se moderne beskrywing van wat ʼn “onderwyser” is, beskryf nie ons beroep nie, maar as ons nie onderwysers is nie, wat is ons dan?

Opvoeders is persone wat ʼn kind tot volwassenheid vorm. Om opgevoed te word, is om van onder af op te gaan, terwyl jy gevoed en geleer word. Die vorming wat ʼn opvoeder doen, vind op twee maniere plaas: deur te onderrig (voor te staan) en deur ʼn voorbeeld te stel (voor te loop). Kyk na die woord onderwys: om van bo af na onder te wys wat om te doen en wysheid oor te dra omdat jy die kind liefhet. Toevallig (of dalk nie) is die betekenis van die woord dissipline soortgelyk: om iemand te onderrig (bo na onder) om sekere gedrag te toon. Dalk kan ons dan aanvaar dat waar daar opvoeding is, daar ook dissipline moet wees.

Hoe lyk ʼn meesteronderwyser?

Sonder ʼn volledige herstel van die onderwysergesag van ʼn dienende opvoeder, sal die onderwyswiele aanhou agteruit rol. Goosen se briefie praat ook van gesag, maar sy verduideliking daarvan stem nie met my “aanvanklike” aanname daaroor ooreen nie.

Die gesag van ʼn opvoeder is nie ons moderne betekenis van gesag nie, vertel hy. Hierdie gesag kan nie afgedwing word nie, maar word deur voorbeeld gestel. Gesag kan nooit mag wees nie, maar in ons magsbehepte wêreld van vandag het ons gesag met mag begin verwar. Gesag word deur ʼn persoon se bevoegdheid én sy bekwaamheid ondersteun, met ander woorde: ʼn Persoon met gesag weet hoe om sy beroep uit te voer, maar het ook ʼn roeping om dit te mag uitvoer. Wanneer ʼn onderwyser gesag uitstraal, sal leerders in verwondering staan: Die ervare volwassene is ʼn draer van waarheid en praat met gesag van die goeie, die ware en die skone.

  • Die “ware” verteenwoordig die verhouding wat die kind met die inhoud van die kurrikulum het.
  • Die “goeie” verteenwoordig die verhouding wat die kind met sy naaste het.
  • Die “skone” verteenwoordig die verhouding wat die kind met die skepping het.

Is jy ʼn opvoeder wat leerders aan ontsagwekkende leerervarings blootstel wat elke kind tot sy volle potensiaal laat ontwikkel? Dan is jy meer as ʼn onderwyser – jy is ʼn meesteronderwyser.

Meesteronderwysers is opvoeders wat onderrig én opvoed met ʼn baie groter doelwit as net ʼn goeie rapport aan die einde van elke jaar. ʼn Meesteronderwyser se onderrig en oordra van kennis het ʼn unieke aard en uitkoms:

  • Dit moet nie net gefokus wees op die akademiese feite wat kinders nodig het om eendag te kan werk nie, maar moet só aangebied word dat dit die kind in verwondering laat oor die ware, die goeie en die skone.
  • Dit is daarop gerig om ontsag vir die Here by kinders vas te lê.
  • Dit maak kinders weerbaar teen die twyfel wat lyding en teenspoed dikwels veroorsaak.
  • Dit stel kinders in staat om hul liefde vir God in elke aspek van hul lewens uit te leef.

Ons is nie “onderwysers” nie, ons is meesters van opleiding en opvoeding. Ons is meesteronderwysers.

Die skat van gebottelde boodskappe staan nou in die kantoor, onder my tafel. Elke dag maak ek nog enetjie oop.

Dankie, Danie, dat ons jou bottelbriefies een vir een op die deure kan plak.

* * *

Hierdie artikel is in opdrag van die die Skoleondersteuningsentrum (SOS) geskryf, vorm deel van sy Onderrig- & Leerjoernaal en het oorspronklik op Maroela Media verskyn by https://maroelamedia.co.za/leefstyl/ouerskap/die-reis-na-n-meesteronderwyser.

Gesels met ons