fbpx

SA tieners reis van die Kaap tot Kaïro met ‘n selfgeboude vliegtuig

“Van die Kaap tot Kaïro” was nie net Cecil John Rhodes se droom om ‘n spoorlyn regdeur Afrika te bou nie. Hierdie keer is dit die 17-jarige Megan Werner se droom om 20 tieners bymekaar te kry om ‘n vliegtuig binne drie weke te bou en deur Afrika te vlieg.

Klink dit onbereikbaar? Wel, die vliegtuig is reeds op pad na Kaïro en trek met die skryf van hierdie artikel al by Etiopië. En wanneer die vliegspan van drie by hul bestemming aankom, sal die terugtog na die Kaap aangepak word via ‘n ander roete deur Afrika.

Die hele ding het begin met die boek wat sy reeds op 13 as leerling van die Hoërskool Noordheuwel op Krugersdorp geskryf het getiteld It’s Up To Me – 7 Ways to Make a Difference. Die boek is intussen vertaal in verskeie tale en sy het al vele internasionale praatjies gelewer.

Sy het ook die organisasie U-Dream Global gestig wat die hele projek behartig. Behalwe vir die bou en vlieg, het die tieners van 13 tot 19 jaar in twee groepe gewerk, onder andere ook aan kantlynprojekte soos die webblad, die maak van honderde videos en die bou van hommeltuie wat gebruik word vir die verfilming tydens die tog.

Die projek is nie aangepak sonder uitdagings nie. Megan sê toe hulle die vliegtuigloods se deure oopmaak, het hulle gedink dit sal vyf bokse wees met ‘n vlerk en ‘n ander vlerk en jy heg dit aan mekaar en dan is die vliegtuig klaar. Dit was egter ‘n ander storie toe hulle die duisende onderdele-stukkies sien en agterkom dat hulle moes leer om die regte gereedskap te gebruik en om die ingenieurstekeninge te lees. Daar was darem mentors om hulle by te staan om dit oor en oor te bou totdat dit reg is.

Natuurlik was daar finansiële uitdagings ook, soos die aankoop van die duur engin (wat gewone motorbrandstof ook kan neem), betaling van visums, lughawebelastings, landingsregte, landingskoste, passasiersfooie en brandstofkoste. Dit was betreklik maklik om te oorkom, want daar is talle individue en ‘n paar groot maatskappye wat in haar droom glo en die projek help befonds het.

Die grootste les wat Megan moes leer, was hoe om haar tyd te bestuur. Deur die media-onderhoude en die Junie-skooleksamen moes sy boonop haar vlieglisensie kry, die projek bestuur en nog betrokke wees by die bou van die vliegtuig.

Met dit alles wil Megan hê dat dit jongmense van Afrika moet aanmoedig om entrepreneurs te word. “As 20 tieners ‘n vliegtuig kan bou en oor Afrika kan vlieg, wat keer jou? Jy moet dit net doen. ‘n Reis van ‘n duisend myl begin met ‘n enkele tree.”  Driaan van den Heever, die veiligheidsvlieënier van die span, sê weer:  “Mense kyk na hulself en glo dat hulle niks kan bereik nie. Hierdie hele projek is ‘n inspirasie vir alle mense en spanne om te besef dat jy enigiets kan bereik as jy die wil het om dit te doen”.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.