Samewerking is die nuwe normaal

Deur André Badenhorst – Navorser: Wolkskool

In ‘n onlangse gesprek gesprek met ‘n kollega kom ons af op die onderwerp van samewerking tussen onderwysers. Een van die gesaghebbendste navorsers oor onderwys, John Hattie, het juis wat hy noem die “kollektiewe effektiwiteit” van onderwysers as die belangrikste faktor wat ‘n impak op leer het geïdentifiseer.

Waarom sukkel ons onderwysers dan so om mekaar te help?

Die vraag kom by ons op: “Waarom tree onderwysers nie met mekaar in gesprek oor wat vir hulle in hulle klaskamers werk of nie werk nie?” Ons kan spekuleer, maar ons weet nie regtig die rede nie. Dis asof ons te bang is ander ploeg met ons kalwers. Of is ons dalk te sensitief vir kritiek? Verg ons leerders dalk in hierdie oorvol kurrikulum elke greintjie aandag van my dat daar nie nog tyd is om ‘n bietjie weg te staan en saam met ander te dink nie?

Lesse uit die wêreld van programmering

Ek vertel vir my kollega dat ek in my 18 jaar as programmeerder myself baie keer diep in ingewikkelde kode moes ingrawe om oplossings te kry. Dit het soms dae lank geneem om enige vordering te toon en in verreweg die meeste gevalle het die oplossing gelê by antwoorde op internet forums. Met ander woorde by die gemeenskap van programmeerders waarvan sommige met dieselfde probleme gesukkel het en waar ander hulle gehelp het met oplossings. Baie keer was die oplossing ‘n klein eenvoudige dingetjie waaroor ek agterna myself wou skop.

Die nuwe wêreld vereis samewerking

Het ons as onderwysers dan nog nie gehoor van “open source” nie? Een van die kragtigste bedryfstelsels in die wêreld, Linux, is geskryf deur die samewerking van ‘n gemeenskap van programmeerders vanoor die ganse wêreld se geografiese grense.

Wikipedia is nog ‘n goeie voorbeeld: Dit het ongeveer 145 000 aktiewe redigeerders wat kollektief tot die wêreldkennis bydra.

Die wêreld het so kompleks geraak dat ons eenvoudig nie meer net op ons eie kan staan nie. Inteendeel, een van die vier C’s van die 21ste Eeuse Vaardighede waarmee ons leerders toe toekoms moet ingaan, is juis samewerking (“collaboration”). En as ons as onderwysers dit nie eens behoorlik kan regkry nie, hoe gaan ons dit hoegenaamd regkry om dit aan toekomstige geslagte oor te dra?

Moenie wag nie, begin vandag nog!

‘n Uitstekende beginpunt is om die vraelys oor vernuwende onderrig in te vul. Heel aan die einde van die vraelys is daar geleentheid vir kommentaar. Gee asseblief daarin jou opinie waarom onderwysers nie met mekaar in gesprek tree oor hul onderrig nie. Die vrae en jou antwoorde word dadelik na jou gestuur. Gebruik die geleentheid om met jou kollegas daaroor te praat!

Juis in hierdie tyd van die COVID-19 krisis, het ons sulke gesprekke nodig vir die #NuweNormaal.

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.