Die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi se begeerte om beheer oor toelatings te neem deur die “nuwe, verbeterde aanlynplatform”, is die oorsaak van grootskaalse chaos. Ouers van 2020 se graad eens en graad agts, wat in Mei aansoek gedoen het vir toelating tot Gauteng-skole, weet ses maande later nog nie in watter skool hul kind volgende jaar gaan wees nie!
Voorheen het ouers ’n keuse gehad om aanlyn of direk by skole aansoek te doen. Dit was vir ouers maklik om by die skool naaste aan hul huis of werk uit te kom, sonder om hulle oor internet toegang en beskikbaarheid van ’n onstabiele, foutgeteisterde aanlynplatform te bekommer.
Skole kon inskrywings met die nodige dokumentasie verifieer en (eerlike) waglysnommers toeken soos aansoeke ontvang word. Skole kon waglyste saamstel het op ’n “eerste in tyd, eerste in reg” beginsel en verdere aansoeke wegwys wanneer die skool vol is. Ouers het vroeg reeds ’n goeie idee gehad of hul kind plek in ’n bepaalde skool sou kry en kon besluit of tweede en derde aansoeke nodig was.
Vanjaar het aanlyn-toelatings in Gauteng alle logika oorboord gegooi. Ouers wat gereed was om hul kinders te registreer met oopmaak van die aanlyn platform, kon nie op die stelsel inkom nie, woonadresse kon nie gevind word nie of kinders wat oorkant die skool woon, is op waglys 4 (laaste prioriteit vir toelating) geplaas. Meeste ouers het direk na aanlyn aansoeke, hul dokumentasie by die skool van keuse gaan ingee om hul kind se plek te probeer verseker. Skole kon ouers egter geen aanduiding gee of hul kind plek gaan kry nie, al was die aansoek gemaklik binne die skool se kapasiteit.
Goeie skole was verplig om aansoeke een vir een te verifieer en korrekte afstande vanaf die skool te bepaal. Met groot moeite het skole op eie tyd en koste korrekte waglyste saamgestel, met distrik amptenare bevestig en aan GDO hoofkantoor gestuur om af te teken. Herhaaldelik is korrekte lyste eensydig deur hoofkantoor gewysig en nuwe (verkeerde) lyste is teruggestuur aan skole.
Uit moedeloosheid het sommige skole na die derde of vierde rondte van korrigeer en her-indien, lyste afgeteken – sodat plasings SMS’e net gestuur kan word – al het dit beteken dat sommige graad R’e nie plek in die skool kry waar hulle reeds skoolgaan nie, of dat broers en susters in verskillende skole geplaas is! Skole wat geweier het om verkeerde lyste te aanvaar, se plasings SMS’e is teruggehou, en hulle moes toekyk hoe lojale ouers en leerders plasings SMS’e van ander skole aanvaar.
“Skole en ouers het die volste reg om beswaar te maak teen die gesentraliseerde aanlynstelsel. Dit plaas skoolgemeenskappe se demokratiese reg in die hande van ’n onbevoegde onderwysdepartement en diktator soos Lesufi! Die chaos met aanlynaansoeke boesem geen vertroue in vir regverdige toelatings nie. Die SOS eis dat die aanlynstelsel geskrap word en skole toegelaat word om hul eie aansoeke te bestuur. ”