Matrikulante wat vandag hulle eerste Wiskunde-vraestel geskryf het, het by sommige skole paniekerig geraak toe antwoordblaaie opraak. By Hoërskool Zwartkop in Centurion en die omliggende skole het omsieners en leerders angstig gewag vir nog antwoordblaaie om afgelewer te word.
Volgens Johan Koekemoer, hoof van die Skoleondersteuningsentrum se Vakvereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) is hierdie uiters onaanvaarbaar en dui op swak beplanning vanaf die departement van basiese onderwys.
“Leerders kan wel die tyd wat hulle gewag vir het antwoordblaaie, bykomende tyd bykry om die vraestel te voltooi. Dit gee hulle egter ʼn onregverdige voordeel deurdat hulle die wagtyd kon gebruik om vrae uit te werk. Dit plaas egter onnodig spanning op die leerders wat reeds onder baie druk is om die vraestel te voltooi.”
“Ten spyte van die logistieke probleme met die vraestel, is die oorwegende mening dat die vraestel op ʼn goeie standaard was. Die grootste vangplek was by vraag 1.3, want die vraag het buite die kurrikulum geval en daar is onduidelikheid oor hoe die vraag gemerk gaan word,” sê Koekemoer.
Die onderwysers aan ‘n vooraanstaande skool in Gauteng meen dat die gemiddelde leerder dalk sou sukkel om die punte te behaal wat hulle verwag het. Daar is egter genoeg maklike vrae om leerders te help om die vraestel deur te kom.
Leerders aan Hoërskool Zwartkop het die vraestel as interessant beskryf.
Volgens Danica Strydom van Hoërskool Zwartkop was daar genoeg tyd om die vraestel uit te werk en selfs om terug te gaan en dubbel seker te maak. “Dit was ʼn interessante vraestel, maar hulle het gevra wat ek geleer het.”
Alienke Boot meen die vraestel was moeiliker as van dié wat sy voor die tyd uitgewerk het. Daar was ʼn paar klein goedjies wat leerders kon laat struikel.
“Die vraestel was lekker met vrae wat jou baie slim laat voel wanneer jy dit uitwerk,” sê Elianna de Clerq. “En baie dom as jy dit na die tyd met jou klasmaats bespreek.”
Die VAW het saam met die onderwysers van Hoërskool Zwartkop direk nadat die vraestel afgehandel is, begin werk aan ʼn voorbeeld-antwoord wat op www.skole.co.za/wiskunde beskikbaar is.
Foto: vlnr Danica Strydom, Alienke Boot, Elianna de Clerq.
deur Marlien van der Westhuizen
Navorser: Skoleondersteuningsentrum
25 Oktober 2019