fbpx

Sewe planne om die sewe maer jare te oorleef – Dr. Danie Brink gee raad.

Alle aanduidings is daar dat ons in Suid-Afrika sewe maer jare in die gesig staar. Al voel dit soms of ons pas sewe maer jare oorleef het, vermoed ek nog sewe maerder jare is op pad. Ek glo dis moontlik om nie net hierdie maer jare te oorleef nie, maar om dalk selfs as gesinne te floreer en ons kinders veilig anderkant te besorg. Hier is sewe planne:

  1. Leef minimalisties

Die meeste van ons het te veel besittings. Te veel klere, speelgoed, motors, gewere, huishoudelike toestelle, skoene ensovoorts. Daar kan dalk weer ’n dag aanbreek wanneer ons hierdie oorvloed vir onsself sal kan gun, maar nou is nie die tyd nie. Raak ontslae van onnodige besittings, koop minder van alles en leef lig.

2. Leer jou kinders werk en vasbyt

Deursettingsvermoë is die belangrikste sagte vaardigheid wat van kinders suksesvolle volwassenes maak. Deur ons kinders in te span vir take in en om die huis, leer hulle baie dinge, die belangrikste is ’n bietjie vasbyt en dra hulle by om die huishouding se begroting te laat klop.

3. Waardeer eenvoud

Eers wanneer mens ander Westerse kultuurgroepe se eenvoudige leefstyl beleef, besef mens die oordadigheid van Afrikaners se leefstyl. Eenvoud wat betref ons besittings, die spandering van vrye tyd en die inrig van jou lewe. Ons mag nie net moontlik oorleef weens die eenvoud in al die fasette van ons lewens nie, maar met sewe maer jare wat voorlê, sal ons en ons kinders selfs daarby baat.

4. Leer om “te wees”

Die lewe skreeu na ons toe uit: “Wees besig”. Ons gun onsself selde die geleentheid om net “te wees”. Wanneer ons hierdie vaardigheid in onsself en ons kinders weer opskerp, sal ons bloeddruk daal en ons bankbalans styg, want om “te wees” beteken dat die beursie ook rus.

5. Soek na kostelose stokperdjies

Ons beroepe en ons kinders se aktiwiteite maak dat ons eie belangstellings en stokperdjies agterweë bly. Voor ons ons oë uitvee staar ons aftrede in die gesig met geen belangstellings en geen passies nie. Baie gratis of goedkoop stokperdjies kombineer gesinstyd met tyd in die natuur of op ander mooi plekke.

6. Wees daardie Jones’ vir wie ander wil naboots

Om te onthaal en gasvry te wees is deel van Afrikaner-tradisie. Dit is egter ’n tradisie wat, sonder dat ons dit besef, meestal (finansieel) oordoen word. Ons plaas druk op onsself om kuiergeleenthede keuriger, stylvoller en meer oordadig as die vorige keer aan te bied. Kom ons maak seker ons gaste voel geliefd en baie welkom, maar kom ons mik vir eenvoud wanneer ons kuier.

7. Maak drastiese begrotingsbesluite en sny luukshede uit.

Die meeste Afrikanergesinne het steeds heelwat luukshede te midde van die finansiële druk waaronder hulle verkeer. Dit is soms eers wanneer ’n mens oorsee in Eerstewêreldse lande leef, dat jy besef dinge soos televisie, bediendes, Netflix en Showmax, jaarlikse vakansies en motorpaaiemente is nie noodsaaklikhede nie en dat daar baie mense is wat daarsonder klaarkom. Stel die aankoop van die nuwe motor uit (of af), kanselleer maandelikse subskripsies wat ’n salaris erodeer en heroorweeg alle luukshede wat geld kos.

Die sewe maer jare is hier. Ek is oortuig dat hulle weer sal verbygaan, maar as ons dit wil oorleef, sal ons drastiese stappe moet neem. Wanneer ons hierdie stappe uit eie oorweging neem, gaan dit baie makliker wees as wanneer ons geforseer word om hulle te neem omdat ons geen ander keuse het nie.



Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.