Die meeste skole landwyd verkeer onder geweldige finansiële druk weens ’n tekort aan regeringsubsidies en al meer ouers wat nie skoolfonds kan bekostig nie. Skole wat dit kan bekostig stel deesdae ’n voltydse fondswerwers/bemarkers aan om die nood te verlig. Nie alle skole het egter die luuksheid om sodanige persoon te bekostig nie en onderwysers of ouers moet inspring om fondsinsamelings te organiseer.
Meeste skole fokus op projekte soos gholfdae, feeste en verkoop van advertensieborde, wat baie tyd in beslag neem. Min skole het egter ‘n fondswerwingsprogram wat ’n volhoubare inkomstestroom waarborg. Hier is ’n paar voorvereistes vir ’n suksesvolle fondsinsameling:
- Stel realistiese doelwitte
Begin met ’n kleiner, realistiese doelwit wat die skool sal kan bereik, eerder as ‘n droom doelwit. Jy kan altyd later ‘n tweede, meer uitdagende doelwit stel.
2. Doen die nodige navorsing
Dink oor waar die skool fondse vandaan kan kry. Is daar besighede of boere in die omgewing wat geld sal gee? Die skool moet ook kennis hê van die potensiële donateurs en besighede waarmee saamgewerk kan word.
3. Bemark die skool
Bemarking is ’n belangrike deel van fondsinsameling. Meeste skenkings is 80% emosie en 20% rasioneel. Die beste manier om iemand se emosies aan te raak, is om ’n storie te vertel. Hoe kan potensiële donateurs geld skenk as hulle nie van jou skool weet en jou leerders se stories ken nie? Donateurs moet weet wat is jou leerders se doelwitte, drome, en aspirasies. Sosiale media en die skool se webwerf kan ’n belangrike rol speel om hierdie inligting aan donateurs te kommunikeer. Elke skool moet ’n deeglike bemarkingstrategie hê, wat insluit hoe die skool sy webwerf en sosiale media kan gebruik om leerders se stories te vertel.
Onthou: Skenkers dra nie by tot n instelling nie, maar belê in mense en idees waarin hulle glo.
4. Kultiveer potensiële borge
Dit behels dat ‘n vennootskap met potensiële donateurs gebou word. Tree gedurig met donateurs in kontak en nooi hulle na geleenthede by die skool.
5. Oortuig die borge
Die skool moet nou ‘n professionele en goed gestruktureerde voorlegging opstel om potensiele borge en donateurs te oortuig.
6. Nadat die fondse ontvang is
Stel nou ’n plan op oor hoe om borge en donateurs te hanteer nadat die fondse ontvang is.
’n Praktiese werkwinkel oor fondsinsameling en bemarking word binnekort deur Chris Windell, een van Suid-Afrika se mees suksesvolle fondsinsamelaars aangebied. Skole kan hierdie geleentheid teen ’n afslagprys bywoon. Vir meer inligting skakel:
Chris Windell 082-568-1501
Winton Windell 071-229-5779