Skole: “Daar moet volledig met die reg op lewe gehandel word.”

deur Sarina Prinsloo, Skakelbeampte: Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die hernude debat rondom die sluiting van skole te midde van die Covid-19 pandemie, het hierdie week die hoofopskrifte van media landswyd gehaal. Verskeie onderwysvakbonde eis dat skole moet sluit en eers weer heropen wanneer die piek van die pandemie verby is.

Navorsing wat Woensdag bekend gemaak is toon dat hongersnood onder kinders byna verdubbel het tydens die begin van die inperkingstydperk. Die sogenaamde NIDS-CRAM opname, die eerste van vyf soortgelykes vanjaar, het bevind dat 47% van huishoudings reeds in April nie meer genoeg geld gehad het om hul gesinne kos te gee nie. Die realiteit is dat nagenoeg 9-miljoen kinders daagliks afhanklik is van die voedingskemas by hulle skole en dat wanvoeding en hongersnood sal aanhou toeneem indien skole gesluit sou word. Goeie onderwys is die enigste manier om die negatiewe spiraal van armoede en swaarkry oor die langtermyn te verbreek.

’n Volbank regters, onder leiding van regter Dunstan Mlambo, het in die Maimane-uitspraak gesê dat daar volledig met die reg op lewe gehandel moet word, nie slegs met voorkoming van sterftes nie: “The right to life mean something more than biological life. It is intertwined with the dignity of human beings. Both are central to a society in which each member of the community is recognised and treasured.”

Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê: “Die pandemie kan nie onderwys en die ekonomie onbepaald tot stilstand bring, tot daar eendag ‘n teenmiddel gevind word nie. Dit is nodig om die veranderende konteks in ag te neem, en om werkbare planne in plek te stel om onderwys voort te sit, sonder om die beste belang van onderwysers en leerders op die kort- en langtermyn te ondergrawe.” Die SOS ondersteun die verantwoordelike en veilige oopmaak van skole. Die SOS sê deurgaans dat skole se bestuur en skoolbeheerliggame hul unieke omstandighede die beste ken en kan besluit hoe hulle die situasie hanteer.

Valentyn van der Merwe, hoof van Innovasie by die SOS sê: “Tegnologie bied tans oplossings wat in die verlede ondenkbaar was. Die Wolkskool en die SOS se aanlyn skool vir matrieks wat sedert April daagliks gratis uitgesaai is, is maar enkele voorbeelde daarvan.”

Dr. Dirk Hermann het, in sy hoedanigheid as bestuurshoof van Solidariteit en voorsitter van SOS se direksie, ’n ope brief aan minister Angie Motshekga en die res van die parlement geskryf om die belangrikheid van gesonde voortgesette leer by skole te beklemtoon.

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.