fbpx

Skole teiken van misdaad en dok derduisende op vir veiligheid

Afrikaanse skole dok derduisende rande op om hulself te beveilig, omdat skole brandpunte vir misdaad geword het en die staat nie genoeg hulpbronne voorsien om skole te beveilig nie.

Dit is van die gevolgtrekkings wat in die Skoleondersteuningsentrum se navorsing wat Saterdag tydens die SOS se onderwyserskongres in Kaapstad bekendgemaak is. Die navorsing sluit die terufvoer van 633 onderwysers van meer as 100 skole in.

Ian Cameron, hoof van AfriForum se veiligheidsafdeling, het tydens die kongres gesê skole is teikens vir misdaad. Oorsake van hierdie misdade sluit in bendegeweld, dwelmgebruik, onluste en politieke kwessies soos in die geval van Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes. Cameron sê skole moet self verantwoordelikheid neem vir veiligheid by skole, omdat die staat nie genoegsaam voorsiening hiervoor maak nie.

Ian Cameron
Ian Cameron

 Die SOS se navorsing het die volgende aan die lig gebring:

  • Afrikaanse skole ’n duidelike en gevestigde veiligheidsbeleid en ontruimingsplan in plek vir noodgevalle. 75% van Onderwysers het aangedui dat hul skool ’n duidelike veiligheidsbeleid het en 86% sê dat kommunikasie met ouers in geval van nood, voldoende is.
  • ’n Gebrek aan behoorlike toegangsbeheer by skole is kommerwekkend. Dit is van kardinale belang dat skole beheer het oor wie toegang tot hul skool verkry, maar by een uit elke tien skole staan die hek eenvoudig oop en kan enigiemand die skool betree. In slegs 20% van gevalle is die skool se hek binne sig van die kantoor, ten spyte daarvan dat dit uiters belangrik is dat ontvangspersoneel kan sien wie hulle by die skool se hek inlaat.
  • Afrikaanse skole neem veiligheid baie ernstig op en implementeer ’n verskeidenheid veiligheidsmaatreëls. Meer as die helfte (60%) van skole het ’n voltydse wag op die perseel en amper die helfte (43%), maak gebruik van privaat sekuriteitsmaatskappye. Dit is veral noodsaaklik, omdat die polisie nie noodwendig altyd voertuie of mannekrag beskikbaar het om skole onmiddellik by te staan nie. Byna alle skole het kameras of ’n alarmstelsel.
  • Skole moet egter self hiervoor betaal en spandeer ’n eenmalige bedrag van tussen R50 000 en R1 miljoen om hierdie veiligheidsmaatreëls te implementeer. Daarna spandeer hulle maandeliks tussen R13 000 en R48 000 om die veiligheid van hul skole te verseker. Hierdie astronomiese bedrae veroorsaak dikwels dat skole se skoolfonds die hoogte inskiet, omdat die regering nie hiervoor betaal nie. Die gevolg is dat ouers dubbeld betaal vir hul gesin se veiligheid, aangesien belastinggeld wat aan die Suid-Afrikaanse Polisie bestee word, duidelik nie voldoende is om skole veilig te hou nie.
  • Ten spyte van duur veiligheidsmaatreëls, voel onderwysers steeds soms onveilig by die skool. 91% van skole was al slagoffers van misdaad. 87% hiervan was inbrake by die skool, gevolg deur onregmatige toegang (60%), dwelms wat by leerders gevind is (40%) en protesaksies (23%). Ongeveer ’n derde (33%) van respondente het aangedui dat hulle soms onveilig by die skool voel, weens hierdie voorvalle van misdaad. Amper ’n derde van respondente meen dat leerders slegs soms veilig is by die skool.
  • Onderwysers by laerskole voel veiliger as by hoërskole. 68% van onderwysers by laerskole voel altyd veilig by die skool, teenoor 62% by hoërskole. 74% van onderwysers by laerskole meen dat leerders definitief veilig is, teenoor 61% van onderwysers by hoërskole.

Die verslag bevat ook ’n 10-punt-plan om skole te help om hulself beter te beveilig. Die volledige verslag is hier beskikbaar:


Tags

AfriForum, Afrikaanse skole, Ian Cameron, Misdaad, Veiligheid


Lees meer...