Skoolgereedheid: Is my kind gereed om die eise van groot skool te hanteer?

Annelie van Jaarsveldt en Yolandi van den Heever-Breytenbach

Met vergunning van Afrikaans.com

Die nuwe skooljaar is om die draai en die meeste voorskoolse leerders het reeds hulle graad 1-onderwyser ontmoet, is voorgestel aan die skoolhoof en weet waar hulle klas is. Hulle is opgewonde en kan nie wag om daardie nuwe skoolklere aan te trek en hulle boeketas te pak nie – wat is dan nou lekkerder as splinternuwe inkleurpotlode, boeke en ’n oulike kosblik. Maar hoe gemaak met die leerders wat graad 1 toe moet gaan, maar nog nie gereed is om groot skool met selfvertroue aan te pak nie? Afrikaans.com het met Yolandi van den Heever-Breytenbach van Oasis Club Learning oor hierdie belangrike kwessie gesels. Ons wou weet wat dit beteken om skoolgereed te wees, wat leerders moet kan baasraak voordat hulle skool toe gaan en wat die verskillende vlakke van skoolgereedheid behels. En dan natuurlik, wat ouers kan doen om hulle kinders hiermee te help. Soos altyd, het sy goeie raad.

Skoolgereedheid sluit die volgende aspekte in: emosionele, fisiese, kognitiewe en sosiale ontwikkeling. Hierdie ontwikkeling moet van so aard wees dat die kind die beste kans staan om ’n sukses te maak van die skooljare wat volg. Belangrik om te onthou: Kinders blink dikwels uit in een aspek, maar in ander aspekte ontwikkel hulle dalk stadiger. Dit is hoekom ’n mens na die kind as ’n geheel kyk. Sussie praat dalk soos ’n afslaer, maar huil elke oggend as mamma haar by die skool aflaai. Met ander woorde, die kognitiewe ontwikkeling is daar, maar die emosies is nog nie daar nie. Of boeta kan rugby speel vir die Springbokke, maar sukkel om tot by ses te tel. In die geval is die fisieke ontwikkeling daar, maar die kognitiewe ontwikkeling is nog op pad.

Skoolrypheid is die natuurlike ontwikkeling en groei wat plaasvind. Dink tipies aan die oud ae toe jy jou arm oor jou kop moes sit en aan jou oor raak. Dit is groei en ontwikkeling waaroor daar nie werklike beheer is nie. Dit neem so lank soos dit neem – maar gemiddeld is kinders skoolryp teen die ouderdom van 6/7 jaar.

Die grootste guns wat jy jou kleuter kan doen, is om hulle die tyd te gun om kleuters te wees.  Die holruggeryde leer deur speel.  Dít beteken nie om die kind te los dat hulle sommer net self moet uitvind hoe om vaardighede te bemeester nie.  Dit beteken wel om die omgewing op so ’n manier te skep dat die kleuter dit kan ondersoek, daaruit kan leer, dit kan uitbrei, afleidings kan maak, die spel kan aanpas en weer iets anders daaruit leer.  Dit is híér waar ’n goed opgeleide kleuterjuffrou jou maat is!

Emosionele vowassenheid en sosiale vaardighede word baie beter aangeleer as dit een-tot-een is en indien dit in ’n omgewing is waar die kind veilig voel – soos by die huis. Praat met jou kleuters, leef soos wat jy wil sien hulle moet leef – m.a.w. stel die voorbeeld. As jy elke kelnerin in die restaurant afjak, leer jou kind jou swak maniere aan, want dit is wat hy sien – en almal wee tons kleuters hou ons fyn dop!

Skoolgereedheid (en eintlik die hele kleuterfase) moenie as ’n wedloop aangepak word nie.  Dis eerder die opwarming van ’n delikate musiekinstrument wat nog wêreldklas musiek gaan maak.  Maar as die instrument té gou bespeel word, kan iets breek en kan dit dalk nooit weer herstel word nie.

Leerhulp

Hier is ’n kort opsommende lys van uitkomste wat die kleuter moet behaal. Onthou net, die lys is nie volledig nie en dis ook nie ’n skoolgereedsheidstoets nie. Die opsomming is geneem uit die ASB-toets (Aptitude Test for School Beginners).

  • Persepsie

Die wyse waarop die kind kontak maak met die wêreld om hom, is deur sy sintuie. Hy sien, hoor, voel, ruik en vat aan dinge d.m.v. sy sintuie. Hierdie inligting wat hy so bekom, word via die senuweestelsel na die brein gestuur waar die inligting geïnterpreteer word en tot kennis verwerk word. Oor hierdie proses is al baie teorieë geformuleer waarvan die mees bekende een die van Piaget is, nl. konstruktivisme. Hiervolgens konstrueer die kind die inligting vanaf die sintuie om konsepte te vorm wat vir hom sin maak en hy verskynsels kan verstaan. Hierdie konsepte verbreed namate die kind meer waarneem en nuwe konsepte vorm om nuwe data te akkommodeer.

Hierdie afdeling evalueer in hoofsaak op die kind se visuele persepsie met die klem op die analitiese vaardigheid om verskille en ooreenkomste waar te neem in die prentjies wat gegee word.

  • Ruimtelik

Hierdie vaardigheid behels dat die kind sy eie liggaamsposisie in die ruimte kan onderskei asook die posisie wat hy en ander inneem in die ruimte. Dit beteken ook dat die kind objekte om hom kan waarneem en visueel kan sien waar dit pas in die ruimte. Met ander woorde: Ek sit hier op die stoel, oorkant my sit Melinda op haar stoel en ons is besig om met klei op die tafel voor ons te speel.

Ruimtelike waarneming sluit die volgende in:

  • Die kind moet posisies kan onderskei soos op, onder, langsaan, links, regs, bo, ens.
  • Verder behels dit ook rigting, soos vorentoe, agtertoe, verder, nader, ens.
  • Vorms maak ook deel uit van die ruimte, soos driehoek, vierkant, sirkel, ens.
  • Tydsbesef pas ook hier soos om te bepaal hoe lank dit neem om van die huis af skool toe te ry, die toilet te gebruik en die lengte van die dag by die kleuterskool.
  • Patrone pas ook onder ruimtelik, want sekere vorms/gebeure/prosesse kom in herhalende vorm voor, soos die opstaanroetine, die dagprogram by die skool en die prentjies in ʼn ry op ʼn bladsy.
  • Lateraliteit dui die twee kante van die liggaam aan, nl. links en regs. Hier is die middellyn ook betrokke – m.a.w die middellyn wat gekruis moet word indien ek met my een hand/voet aan die een kant van my lyf die middellyn moet kruis om ʼn taak aan my ander kant uit te voer, soos om met my regterhand aan die linkerkant van my boek se bladsy te begin skryf.
  • Redenering/logika

Die klein kind “absorbeer” geweldig baie inligting en ervarings wat dan in kennis omgesit word. Dit kan net gebeur as die kind sy leefwêreld kan ondersoek, ontdekkings kan maak en tot gevolgtrekkings kan kom. Hy leer om waar te neem, te evalueer, te oordeel, te onderskei en te klassifiseer. Begrip en logiese denke speel ʼn groot rol in hierdie leerproses.

In hierdie afdeling word die kind se vaardigheid geëvalueer om logies te kan dink en om kennis te evalueer en te kan klassifiseer.

  • Numeries

Hier word die kind se vaardigheid gemeet om te kan tel, hoeveelhede te begryp, dele van ʼn geheel te erken en getalbegrip te toon.

  • Gestalt

Dis die term wat gebruik word om na die totale ontwikkeling van die kind te verwys – basies die beeld te gee van die kind se ontwikkeling. Daar word binne die beperking van papier – soos die kind in formele onderrig gaan ervaar – die “uitkoms” gemeet van fyn- en grootmotoriese ontwikkeling, ruimtelike oriëntasie, aandaggewing, konsentrasie, voorgrond-agtergrond-onderskeiding en om ʼn eenvoudige prentjie te kan reproduseer.

  • Koördinasie

Die gekoördineerde gebruik van die kleinspiere is hier ter sake.  Ontwikkeling van hierdie vaardigheid sluit in die uitvoer van klein, gekontroleerde bewegings. Dit behels vaardighede soos om te kan knip, teken, verf, gryp, draai, spin en die greep om goed te kan vashou. Die onvermoë van die kleinspiere om hierdie fyn bewegings te kan uitvoer, is gekoppel aan die onvermoë van die grootspiere. Dis waarom die opvoeder – en in ernstige gevalle die terapeut – begin by die vaardighede van die grootspiere en daarvandaan werk na kleinspiervaardighede.

  • Geheue – (nie-intensionele geheue)

Hierdie afdeling gaan eintlik oor die opmerksaamheid van die kind en wat hy onthou van dit wat hy terloops opgemerk het.

Vir die kind om suksesvol te vorder in die aanvanklike stadiums in die skool, moet hy baie staatmaak op sy visuele geheue. Om visuele insette te kan onthou, moet die kind die bykomende vaardighede van visuele diskriminasie en visuele begryping verwerf het.

  • Verbale begrip

Dit blyk ʼn groot probleem te wees dat kinders sonder begrip lees – hulle verstaan nie wat hulle lees nie. Dis ook die geval met hulle luistervermoë of verbale begrip. Die kind se begrip van die gesproke taal word hier bepaal. Hy behoort te kan luister en die betekenis van dit wat hy hoor, te begryp. Hier gaan dit om die woorde wat gebruik word te verstaan binne die konteks van die sin. Die kind moet na die hele sin kan luister en betekenis kan gee aan die hele sin.

Leerhulp

Hierdie is ’n baie moeilike vraag en kan nie met slegs een antwoord beantwoord word nie.  Elke situasie is anders en elke kind is anders.  Hier is ‘n paar punte om te oorweeg:

  • Maak seker jou kind is in ’n omgewing (skool of sentrum) waar stimulering op gepaste wyse plaasvind. Dis ’n hartseer waarheid dat kinders soms sukkel met skoolgereedheid bloot oor ’n swak sentrum.
  • Maak die besluit wat vir jou kind die beste is.
  • Waak daarteen om op sosiale media raad te vra. Nader eerder die onderwyser, terapeut of ander kundiges wat jou kind en omstandighede ken.
  • Wees van die begin af betrokke by jou kind. Uitvalle kan vroeg in die jaar suksesvol hanteer word.
  • Ouderdom alleen is nie noodwendig ’n rede om ’n kind nie graad 1 toe te stuur nie – alhoewel dit ’n groot bydraende faktor is – veral as ons na emosionele en sosiale ontwikkeling kyk.
  • Hou in gedagte dat dit normaal is vir kinders om in een aspek beter te vaar as die res. Fokus dan op die ontwikkeling van die ander vaardighede.
  • Kies die laerskool waarheen jou kind gaan met omsigtigheid. Selfs ’n kind wat skoolgereed is, kan uitval in graad 1 met oorvol klasse of ’n té formele aanslag.

Ouers se rol in die ontwikkeling van hulle kinders kan nie genoeg beklemtoon word nie. Gee aandag aan jou kind, praat met jou kind (dit verbeter sommer ook taalvaardigheid), lees stories, speel saam buite, bou legkaarte … kortom, stel belang in jou kind se doen en late en tree op as jy vermoed jou kind sukkel met sekere aspekte of is nie skoolgereed nie.


Tags

EQ, Onderwyser, SOS


Lees meer...

Gesels met ons