Die Departement van Basiese Onderwys se 2017/2018 moniteringsverslag van openbare skole is pas bekendgemaak. Minister Angie Motshekga erken Suid-Afrika se skoolstelsel is siek – en 10% van onderwysers skynbaar ook. ’n Onlangse verslag deur die Internasionale Monetêre Fonds belig ook die ellendige toestand van onderwys in die meerderheid openbare skole in die land. ’n Hoë afwesigheidskoers, min werksure en nog minder vakkennis van opvoeders word uitgelig as hoofoorsake vir die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel se swak prestasie. Sommige skole presteer wel uitnemend, danksy toegewyde, kundige personeel, wat nie bang is om oortyd te werk nie.
Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum, bekyk die redes vir hierdie verskil in prestasie.
Die verskil in leerkultuur
’n Gebrek aan toegang tot skole is lank nie meer ’n probleem in Suid-Afrika nie, maar wel ’n gebrek aan toegang tot gehalte skole waar toegewyde en kundige onderwysers in die klas teenwoordig is. Hierdie verskil in standaarde kan grotendeels toegeskryf word aan die leerkultuur in ’n skool. Leerders floreer in skole waar onderwysers kundig, fluks en toegewyd is en dieselfde ywer, verantwoordelikheid en dissipline van hul leerders verwag. Die teenpool is skole waar personeel op Vrydae en maandeindes eenvoudig nie opdaag nie, nie voorberei vir lesse nie en weier om opleiding by te woon om hul kennis te verbeter. In hierdie skole besef onderwysers nie hoeveel leerders met hoopvolle afwagting vir hul klasse opdaag, of later ook maar by die onderwyser se voorbeeld inval en tuis bly nie.
Afrikaanse skole het ‘n tradisie van goeie bestuur, ouerbetrokkenheid en kultuur van uitnemendheid, waarby meeste leerders inval. Maar hierdie kultuur is nie eie aan Afrikaanse skole nie. Mbilwe Secondary School en Thengwe Secondary School, twee arm skole in die platteland van Limpopo, is jaar na jaar toppresteerders in Wiskunde en Wetenskap. Onderwysers hier is trots op hul skool en werk oortyd om goeie resultate te verseker.
Afwesige onderwysers
Volgens Motshekga is dit aanvaarbaar dat 10% van die land se 41 000 onderwysers daagliks afwesig is, omdat dit kwansuis in lyn is met internasionale standaarde.
Die Personnel Administration Measures (PAM) bepaal egter dat ’n opvoeder 1800 ure per jaar diens aan die skool moet lewer. ’n Gemiddelde skooljaar bestaan uit 200 dae. Onderwysers behoort dus 9 ure per dag by die skool te wees; 6 ure in die klas en 3 ure op die sportveld of besig met voorbereiding en nasienwerk. Onderwysers wat slegs 3,5 ure per dag by die skool is, verbreek hulle formele werkvoorwaardes en die Onderwysdepartement moet teen sulke onderwysers optree.
’n Opname onder skoolhoofde wat lid is van die SOS se Leierskapvereniging, wys egter dat minder as 2% van onderwysers in Afrikaanse -en onafhanklike skole elke maand afwesig is. Hierdie onderwysers loop boonop die ekstra myl deur ná skool sport af te rig, buitemuurse aktiwiteite te organiseer of ekstra klasse aan te bied.
Bekwame, flukse onderwysers wat deur die staat aangestel is, verdien presies dieselfde salarisse as afwesige onderwysers by onderpresterende openbare skole, waar geen buitemuurse aktiwiteite aangebied word nie. Dit verskerp die idee dat min gedoen hoef te word om ’n taamlike goeie salaris te verdien.
Gebrekkige vakkennis
Die IMF berig in Maart dat 5% van leerders ’n beter begrip van hul skoolwerk het as 20% van die onderwysers wat hulle moet onderrig. Hierdie syfer staan in skrille kontras met die Vereeniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers se navorsing in 2017, waarin Afrikaanse Wiskunde-onderwysers gemiddeld 98% behaal vir ’n Rekord-eksamen vraestel. Hierdie verskil in standaarde kan grotendeels toegeskryf word aan die deurlopende, gehalte opleiding wat onderwysers vrywillig ondergaan.
Polities-gedrewe vakbonde
Motshekga is traag om die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) die skuld te gee vir onderwysers se onderprestasie. Onderpresterende, onbevoegde en onwillige onderwysers word deur SADOU beskerm teen dissiplinêre optrede en selfs ontmoedig word om opleiding by te woon, ten koste van gehalte onderrig. Die sterk teenwoordigheid van polities-gedrewe vakbonde maak dit moeilik om onderwysers verantwoordbaar te hou.
Gebrekkige leierskap
Motshekga is gedeeltelik reg om die oorsaak van swak gehlate onderwys by skoolhoofde se gebrekkige dissipline te soek – die hoof is dikwels meer gereeld afwesig as sy personeel. Ron Berger, bekende opvoedkundige en skrywer van die boek: An Ethic of Excellence, beklemtoon die rol van voorbeeld in die oordra van waardes. “The process of schooling itself imbues values. If we want citizens who value integrity, respect, responsibility, compassion and hard work, we need to build school cultures that model those attributes.”
In gevalle waar hoofde wel teen onbevoegde of lui onderwysers in diens van die staat probeer optree, ervaar hulle hewige teenkanting van SADOU en min ondersteuning vanaf die staat. Gevolglik kom daar in meeste gevalle niks van dissiplinêre optredes nie en oortreders bly dikwels in poste of word heraangestel. Geskorste oortreders sit boonop jare (met ’n vol salaris) tuis, voor sake afgehandel word. Slegs as hoofde die mag het om teen afwesige, onwillige of onbevoegde personeel op te tree, kan hulle verantwoordelik gehou word vir hul personeel se power prestasie.
Die oplossing
Die Mc Kinsey verslag het al in 2010 gewys: Die gehalte van ’n skoolstelsel is net so goed soos die gehalte van sy onderwysers. Hoewel Motshekga erken dat baie onderwysers nie die mas opkom nie, ontbreek werkbare oplossings om die probleem aan te spreek.
Die oplossing is eenvoudig: Raak ontslae van die dooie hout in die onderwysstelsel, beloon en moedig goeie prestasie aan. Werf die beste studente om onderwys te studeer en verseker dat hierdie jong onderwysers uitstekende opleiding ontvang. Slegs onderwysers wat die werk passievol as ‘n roeping aanpak, kan die negatiewe spiraal van armoede vir toekomstige geslagte verbreek en Suid-Afrika op ‘n wenpad plaas.