Skryfbehoeftes sonder einde…

Charlotte Fourie

Projekbestuurder: Stelsels en onderrig

Die aand voordat die skole begin, lees ek lekker aan ‘n plasing op ‘n onderwysersgroepie op Facebook. Die skrywer van die plasing het ‘n laerskool se skryfbehoeftelys per graad met die groeplede gedeel, omdat van die items op die lys vir die skrywer bietjie “vreemd” lyk en die skrywer dit graag net met ander skole se lyste wou vergelyk. Die kommentaar op haar plasing was insiggewend: van “geen skryfbehoeftes” tot ‘n geweldige “gedetailleerde lys” wat net tekort skiet om die afmetings van die uitveër uit te spel. Talle menings oor skryfbehoeftes is as kommentare uitgespreek, waarvan ek nie alles kan onthou nie. Die foto’s van al die verskillende lyste is wel diep in my geheue geprent.

‘n Dag later is ek ingeskakel op die luisterboek Team of Teams, waar die skrywer vertel van soldate in tradisionele weermagte en die ysterhand van doeltreffendheid wat hard op hulle gedruk het. Daarom is elke soldaat presies dieselfde uitgerus – ‘n mag van presiese kopieë, met ’n handleiding wat dinge haarfyn reël. Hy beklemtoon hoe belangrik dit was dat elke soldaat se rugsak presies dieselfde gepak moes wees en hy vertel van al die strawwe wat hulle opgelê is, sou dit nie die geval wees nie. Die rede vir hierdie verpligte eenvormigheid was eenvoudig: Wanneer ‘n soldaat op die slagveld ‘n verlore rugsak gevind het, moes hy dadelik weet watter inhoud hy te wagte kan wees – selfs om lewens te red. Dit maak sin! Soos ek na sy rugsakverhaal geluister het, het daar slegs een prentjie voor my geestesoog bly wink: die skryfbehoeftelys!

Ek onthou nie dat ek op skool ‘n skryfbehoeftelys vooraf ontvang het nie (beslis nie een wat ‘n A4-blad sou volmaak nie). “Vraag skep aanbod,” antwoord my vriend toe ek die kwessie van skryfbehoeftes vir hom noem. “Dit kom van ouers af wat opgehou dink het en verwag dat die skool vir hulle moet dink.” Is ons al daar? Is ouerhuis en skool al so ver van mekaar verwyder dat die skool vir ouers moet spel wat vir “leer” nodig gaan wees?

Skielik begin ek droom van ‘n skool met 10 liniale (en ander skryfbehoeftes natuurlik!) wat sommer deur al die kinders gebruik word (almal gebruik mos nie op presies dieselfde tyd ‘n liniaal nie?). Ek droom van ‘n skool wat ‘n kind aanmoedig om ‘n probleem te identifiseer: “Juffrou, ek sukkel om ‘n reguit lyn te trek”; dan die behoefte verwoord: “Juffrou, ek kort iets om ‘n reguit lyn te trek”; dan die probleem wat ontstaan, help oplos: “Mamma, kan ons asseblief vir my ‘n liniaal koop? Ek sukkel om ‘n reguit lyn daarsonder te trek”. Die liniaal is nou sommer ‘n eenvoudige voorbeeld om die groter vraagstuk uit die mou te skud.

Ek droom van ‘n skool waar ‘n kind en die ouerhuis bemagtig word om deelnemers te wees, ja, selfs wanneer dit kom by die hulpmiddels wat leer en onderrig gaan vergemaklik.


Tags

bemagtig, deelnemers, SOS


Lees meer...

Storielees tuis

Storielees tuis