Slaan RTT & IT (teorie) vir ‘n ses!

Deur Charlotte Fourie

Wolkskooldosent: Inligtingstegnologie en Digitale Tegnologie

Normaalweg wanneer die land se matrikulante almal aanmeld vir hulle eerste eindeksamenvraestel in November, het sommige leerders lankal oor ‘n groot hekkie gespring: die praktiese vraestel in Inligtingstegnologie (IT) en Rekenaartoepassingstegnologie (RTT). Vanjaar het hierdie rekenaarvaardige leerders alreeds op 21 en 22 Oktober die eerste vraestel in hierdie vakke afgehandel, maar Vraestel 2 (teorie) lê nog voor – vir die arme IT-leerders amper heel laaste op die rooster.

Die meeste leerders ervaar die teorie-vraestel as die grootste uitdaging in hierdie eksamen en talle onderwysers sal dit beaam. Vraestel 2 hoef egter nie so ‘n groot kopseer te wees nie en as daar vroegtydig met voorbereiding begin word, kan dit ‘n leerder se sukses in IT en RTT verseker.

LEER die terminologie – dit is feite en kan nie ge-‘droom’ of ge-‘gorrel’ word nie,” sê Juffrou Hannie van der Merwe, IT-onderwyseres by die Afrikaanse Hoër Seunskool, “Jy moet vir elke komponent die volgende weet: wat dit is, waar dit gebruik word, waarvoor/waarom/wanneer dit gebruik word en hoe dit werk”.

Juffrou van der Merwe sê ook dat jy jouself nie moet weerspreek in langer tipe antwoorde nie: dit is vandag Dinsdag, die son skyn lekker en later gaan dit reën, want vandag is die eerste dag van die werksweek. As jy vir twee punte twee feite noem, moet die feite heeltemal verskil en nie net in ander woorde herhaal word nie: vandag is Maandag; vandag is die eerste dag van die werksweek. Jy sal ook nie punte ontvang as jy net die woorde in die vraag in ‘n ander manier verwoord en as ‘n antwoord gee nie: wat is virtuele geheue? Dit is geheue wat virtueel is.

Ek het ook by Hoërskool Randburg se RTT-onnie, Claire Smuts, gaan kers opsteek om te bepaal hoe leerders, buiten om net te leer, die teorie kan baasraak.

Die teorie-vraestelle word in sommige provinsies in Afrikaans én Engels aan leerders gegee en baie van hierdie leerders wonder elke jaar in watter taal hulle mag antwoord. “Jy mag jou tale meng en Engelse terme gebruik indien jy dit verkies.” sê Juffrou Smuts. Sy sê ook dat die vraestel heel moontlik nuwe terminologie wat in die afgelope twee of drie jaar bygevoeg is, sal toets en dat leerders beslis daardie terme, definisies en toepassings onder die knie moet kry (sien die IT en RTT Eksamenriglyne).

Juffrou Smuts gee verder ‘n paar algemene wenke en riglyne wat leerders sal help om hierdie teorie-vraestel te bemeester:

  1. Moenie Afdeling A se kort vrae in kolomme antwoord nie, maar skryf die antwoorde netjies onder mekaar langs die volledige vraagnommer. Let hier baie mooi op jou handskrif!
  2. Vanaf Afdeling B moet jy ‘n lyn na elke vraag oop laat om dit vir die merker leesbaar te maak.
  3. Indien jy later die antwoord van ‘n vraag wil skryf omdat jy nog eers daaroor wil dink, laat genoeg spasie daarvoor in die oorspronklike volgorde van die vraag en kom later terug om dit te voltooi. Indien jy per abuis ‘n vraag uitgelaat het, maak ‘n duidelik nota daarvan op die plek waar die antwoord moes wees en skryf die antwoord, met ‘n duidelike nommer, aan die einde van die antwoordboek.
  4. Lees elke vraag volledig deur voordat jy dit antwoord en verwys terug na die inleidende sin of scenario vir konteks. Vrae bevat talle kere meer as een deel en jy sal bepunt word vir jou antwoorde op elke deel van die vraag.
  5. Beantwoord elke vraag as ‘n onafhanklike en volledige sin. Moenie aanvaar dat jou antwoorde op vorige vrae as konteks gebruik gaan word nie. Elke vraag se antwoord moet onafhanklik van ander vrae kan staan.
  6. Jy mag die afdelings in jou eie volgorde doen – laat dus die onderwerp waarmee jy die meeste sukkel vir laaste. Maak net seker dat jy altyd duidelike opskrifte skryf.
  7. Baie belangrik: moenie net vrae uitlaat omdat jy nie seker is van die antwoord nie. Gebruik die volle 3 ure en beantwoord elke liewe vraag volledig.

Die kernreël, na my mening, is om ernstig te let op jou taalgebruik. Jy mag slegs die woorde “makliker”, “beter”, “vinniger”, “goedkoper” en “meer effektief” in jou antwoorde gebruik as dit gevolg word met ‘n rede hoekom jy so sê. RTT en IT is ‘n wetenskap en jou antwoorde moet spesifieke vakterminologie en ‘n duidelike verstaan van die konsepte in die vraag weerspieël – ‘n rekenaar is nie ‘n “ding” wat “iets” doen nie 😉. Kom ons kyk na ‘n voorbeeld wat merkers jaarliks laat koppe skud:

Vraag: Wat sal die effek wees as ’n skootrekenaar se hardeskyf met ’n SSD vervang word?

Verkeerde antwoord: Die rekenaar sal vinniger wees.

Korrekte antwoord: Die werksverrigting van die rekenaar sal verbeter omdat ’n SSD se data-oordragspoed hoër is.

Indien die vraag is hoekom ’n skool se netwerk nie ’n voorbeeld van ’n WAN is nie, is dit nie goed genoeg om net te sê “omdat dit in een gebou is” nie. Jy moet in jou antwoord wys jy weet wat ’n WAN is – so antwoord eerder “Die skool se netwerk is nie ‘n voorbeeld van ‘n WAN nie, omdat dit nie oor ’n wye geografiese area strek nie.” Pasop ook dat jou antwoord nie misverstaan kan word nie: “Die stoorspasie is klein” – bedoel jy eintlik dat die stoorspasie “min” is? Antwoord eerder: die hardeskyf het ‘n lae stoorkapasiteit.

Ons rekenaaronnies stem almal saam dat die IT- en RTT-leerders in hulle loopbaan ná skool, baie bly gaan wees oor die kennis en vaardighede wat hulle in hierdie vakke aangeleer het. Druk deur en volhard tot die einde toe – die wedloop is amper verby.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.