SOS inspireer karakterbou van leerders tydens sportseminaar

2020-03-05

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het gister hulle nuwe Rassie Erasmus Sportvereniging in Centurion bekendgestel. Die vereniging hoop om by te dra tot die karakterontwikkeling van jong sportsterre, maar meer belangrik, die vestiging van wedersydse respek op die sportveld.

Die oud-Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het waardevolle raad aan die SOS se sportafrigters en -organiseerders gegee in bogenoemde verband. Volgens hom speel afrigters ’n groot rol in die ontwikkeling van jong sporthelde. Hy het hulle gereeld verwys na die rol wat sy eie afrigters in die ontwikkeling van sy persoonlikheid en prestasies gespeel het.


Die SOS het hulle verbind tot die #handshakechallenge van die bekende tennisspeler en motiveringspreker, John-Laffnie de Jager. Hierdie inisiatief fokus daarop om by spelers respek vir mekaar te kweek deur opponente aan te moedig om mekaar voor ’n wedstryd met ʼn handdruk te groet.
De Jager, hoofspreker by die sportseminaar, het afrigters en onderwysers versoek om atlete sodanig af te rig en te lei dat hulle selfstandig op en van die veld af, sal optree. “Ons moet sport gebruik om kinders te ontwikkel, nie om hulle te leer dat wen die allerbelangrikste motief vir deelname is nie,” het De Jager gesê. Volgens De Jager is daar soveel druk op skoolspanne om te wen, dat die doelpale ten opsigte van karakterontwikkeling op die agtergrond geskuif is.

Hugo Vermeulen, Hoof van Opleiding en John-Laffnie de Jager skud blad oor die #handskakechallenge


Hugo Vermeulen, hoof van Opleiding by die SOS, sluit by de Jager aan en sê dat skole daarteen moet waak om die geleentheid tot die ontwikkeling van waardes binne skolesport, te verwaarloos. “As dit reg bestuur word, word skolesport ’n geweldige sterk instrument om gebalanseerde landsburgers te kweek.”


Die doel van die Rassie Erasmus-sportvereniging is om onderwysers, sowel as sportafrigters en -organiseerders op te lei en te bemagtig om skolesport weer terug te bring die kerndoel, naamlik die ontwikkeling van leerders se karakter.


Die volgende SOS-Sportseminaar vind op 5 Oktober 2020 in Centurion plaas en Erasmus sal tydens die geleentheid as hoofspreker optree

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Gesels met ons