SOS Matriekverslag 2021: Moedertaal matrieks blink uit

2022-02-02

Matrieks van 2021 in topskole slaan weereens vanjaar die asem weg met hulle prestasies. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Matriekverslag is op 2 Februarie 2022 by Hoërskool Waterkloof bekend gestel. Die verslag bied jaarliks ’n oorsig van Afrikaanse skole se prestasies in vergelyking met die nasionale uitslae om die voordeel van moedertaalonderrig te bepaal. Volgens die verslag het daar 230 Afrikaanse enkelmediumskole, wat 24 024 kandidate verteenwoordig, verlede jaar die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se NSS-eksamen geskryf.

Enkelmedium Afrikaanse skole behaal ’n slaagsyfer van 86,6%, 10% hoër as die nasionale slaagsyfer van 76,4%. Afrikaanse skole is boonop verantwoordelik vir 1 928 (24,9%) van die 7 725 onderskeidings wat in Wiskunde behaal word en 1 739 (25%) van die totale onderskeidings is in Fisiese Wetenskappe. Die matriekuitslae bevestig die voordeel wat moedertaalonderrig bied, aangesien feitlik 98% van leerders in enkelmedium Afrikaans skole Afrikaans moedertaalsprekers is.

Hoewel daar in 2021 sewe minder Afrikaanse hoërskole as in 2020 was, is daar ’n styging in die getal Afrikaanse kandidate wat die matriekeksamen in 2021 geskryf het. Afrikaanse skole is groter as ander skole, met gemiddeld 113 kandidate per skool teenoor die nasionale gemiddeld van 102 per skool.

Die slaagsyfer in Suid-Afrikaanse skole het verbeter, ten spyte van die uitdagings wat COVID-19 die afgelope 2 jaar in onderwys veroorsaak het. Die deurvloeisyfer vanaf graad 1 tot matriek bly kommerwekkend. In 2010 was daar 1 116 899 leerders in graad 1, waarvan 733 746 in 2021 geregistreer het om die NSS-eksamen te skryf. Van hierdie groep kandidate het 704 021 matrieks vir die eksamen opgedaag, terwyl 537 687 geslaag het. Die deurvloeisyfer vir suksesvolle kandidate vanaf graad 1 tot matriek is gevolglik slegs 48,1%. Ofskoon dié deurvloeisyfer hoër is as die 41,1% wat in 2020 bereken is, is dit steeds kommerwekkend dat soveel leerders nie hul skoolloopbaan binne die voorgeskrewe 12 jaar voltooi nie.

Afrikaanse kandidate het uitstekend in Wiskunde gevaar en 9,6% behaal ’n onderskeiding in Wiskunde. Dit is drie keer meer as die nasionale gemiddeld van 3,0%. Afrikaanse kandidate behaal 1 928 (24,9%) van die 7 725 onderskeidings in Wiskunde. Dit is ’n merkwaardige prestasie, aangesien kandidate in Afrikaanse skole slegs 8% van die totale getal Wiskunde-kandidate in die land verteenwoordig.

Die persentasie leerders wat Wiskunde bo Wiskundige Geletterdheid kies, is wel ʼn bron van kommer – veral in Afrikaanse skole. Van die 670 Afrikaanse skole wat Wiskunde aanbied, het slegs 58 (8,7%) meer Wiskunde-kandidate as Wiskundige Geletterdheid-kandidate. Slegs 26,8% van Afrikaanse leerders neem Wiskunde. Kommer bestaan dat skole of onderwysers leerders aanmoedig om Wiskunde vir Wiskundige Geletterdheid te verruil, ter wille van ’n hoër slaagsyfer of meer onderskeidings.

 “Vakke soos Wiskunde gee leerders nie net toegang tot ’n wye reeks studierigtings nie, maar ontwikkel ook noodsaaklike vaardighede soos kritiese denke, kreatiwiteit en deursettingsvermoë – boustene vir sukses in verdere studies en die werkplek van die toekoms,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “ʼn Goeie matrieksertifikaat is die eerste bousteen op ’n suksesvolle loopbaanpad. In stede daarvan om slaagsyfers aan te pas, lê die sukses van Suid-Afrikaanse onderwys daarin om in goeie onderwysers te belê, wat leerders aanmoedig om innoverend en probleemoplossend te dink, sodat hulle eendag hul plek in die werksplek van die toekoms kan volstaan.”

Die hoeveelheid hulpbronne waaroor ʼn skool beskik, is minder belangrik vir sukses, as die gehalte en toewyding van die onderwysers en deursettingsvermoë en ywer van leerders.  ’n Praktiese voorbeeld is Mbilwi Secondary in Limpopo wat die 15de posisie behaal het op die top 20-skole met die meeste Fisiese Wetenskappe-onderskeidings in Suid-Afrika, en 7de posisie vir die skool met die meeste Lewenswetenskappe-onderskeidings.

“Dit is van kardinale belang om soveel as moontlik leerders toegang te gee tot wêreldgehalte onderwys in hul moedertaal. So kan hulle in eie reg ontwikkel om uiteindelik as suksesvolle burgers ʼn waardevolle bydrae tot hul gemeenskap en die land te lewer,” sê Fourie.

Gesels met ons