fbpx

SOS vra DBO om “vreemde” uitslae vir Besigheidstudies te ondersoek

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ’n skrywe aan die minister van basiese onderwys gerig, waarin ons vra dat die 2018-matriekuitslae vir besigheidstudies ondersoek word.

Dit nadat die SOS talle klagtes vanaf onderwysers dwarsoor die land ontvang het, wat daarop dui dat uitslae foutief kan wees.

“In sommige gevalle het top-presteerders verlede jaar 30 persentasiepunte minder verwerf in die eindeksamen, in vergelyking met hul jaarpunt,” sê Melanie Buys, onderwysspesialis verbonde aan die SOS. “Dit beteken dat sommige leerders wat aanvanklik aanvaar is vir ’n bepaalde studierigting op grond van hul gr.11-uitslae of jaarpunt, nou hul toelating vir dieselfde kursus kwyt is.”

In die brief aan minister Angie Motshekga (aangeheg ) wys Buys daarop dat die slaagsyfer vir Besigheidstudies sedert 2015 van 75,7% na 64,9% afgeneem het.

“Dié onverklaarbare daling in die slaagsyfer vir Besigheidstudies blyk ’n nasionale verskynsel te wees en regverdig ’n deeglike ondersoek, aangesien dit matrikulante se toelating tot verdere studies beïnvloed en ook gr.10-leerders ontmoedig om hierdie belangrike vak tot in matriek te neem,” skryf Buys in die brief.

Die SOS sal Donderdag, 17 Januarie met Besigheidstudies-onderwysers in Centurion vergader, ten einde die pad vorentoe te bespreek en verdere druk op die regering te plaas om op onderwysers se  klagtes te reageer.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.