fbpx

Storielees tuis

deur Lizette van Huyssteen

Practica Program

Kinders word geweldig bevoordeel wanneer hul ouers daagliks vir hulle stories lees

Navorsers kon in die 90’s begin om skanderings in te span om kinders se breinaktiwiteit en breinontwikkeling op skerms dop te hou. En, in ‘n verslag wat in 1998 aan die Amerikaanse regering voorgelê is, is daar destyds al opgesom hoe belangrik die rol is wat ouers speel om skool- en leesgereedheid in kinders te bou. Hier is ‘n kort uittreksel: “Ons navorsing oor breinontwikkeling toon dat ouers waarlik hul kinders se belangrikste opvoeders is. Wat ouers doen – of nie doen nie – het ‘n permanente invloed op kinders se latere leesvaardigheid en geletterdheid. Daar is byvoorbeeld heelwat bewyse van ‘n verhouding tussen kinders se latere leesprestasie en hoe dikwels hul ouers kleintyd vir hulle stories gelees het.”

6 wenke wat storielees tuis meer betekenisvol kan maak

1. Gesels oor wat julle lees

In ‘n studie van 275 kinders wat jonger as 4 jaar oud was, is gevind dat kinders 6 keer meer taal leer wanneer hulle met die persoon wat vir hulle voorlees oor die storie, karakters en illustrasies gesels as wanneer hulle net sit en luister. Maak dus opmerkings, herhaal oulike stukkies en vra oop vrae soos wat jy lees. Pas natuurlik ook aan as jou kind verkies om eers onverstoord na die hele storie te luister en dan later daaroor te gesels. ‘n Mens kan ook aanpas by peuters wat ‘n kort konsentrasiespan het deur soms net hooftrekke te lees, en op ‘n ander dag net te gesels oor wat in die illustrasies te sien is.

2. Lees sekere boeke oor en oor

Navorsers het gevind dat kinders baie meer “skaars” woorde hoor wanneer iemand ‘n kinderboek vir hulle voorlees as wanneer hulle televisie kyk of selfs met intelligente volwassenes ‘n alledaagse gesprek voer.5 Dit is dus sinvol om geliefde stories herhaaldelik te lees sodat jou kind die nuwe woorde wat daarin is maklik kan ontdek en onthou. Stel dan ook sommer ‘n goeie voorbeeld en gebruik die woorde wat julle in boeke teëkom dikwels in die alledaagse lewe om dit verder by jou kind in te skerp.

3. Wys na woorde en soek letters

Beweeg jou voorvinger dikwels van links na regs onder die woorde wat jy lees om jou kind se belangstelling in die meganisme agter lees te prikkel. Elke voornemende leser moet ontdek dat letters spraakklanke voorstel, wat gegroepeer word om woorde te vorm, wat weer op hulle beurt van links na regs aanmekaar gestring word om sinne te bou. Stop ook soms op ‘n bladsy om te kyk of die letter waarmee jou kind se naam begin daar te vinde is. Of soek letters wat maklik is om te herken, soos “s” wat soos ‘n slang lyk en “o” wat ‘n sirkeltjie is. Kies later ook ‘n eenvoudige woord wat dikwels voorkom – soos “en” of “jy” en kyk waar julle dit in die teks kan opspoor.

4. Dink na oor wat julle onthou

Vertel na afloop van ‘n storie vir jou kind wat jy onthou en interessant gevind het en laat hom of haar saamgesels. So demonstreer jy hoeveel pret dit is om nie bloot te lees nie, maar ook te konsentreer met die doel om te onthou. Dis ‘n belangrike belegging wat jou kind later sal help om op skool met beter begrip te kan lees. Hoekom? Omdat dit makliker is om te verstaan wat jy besig is om te lees wanneer jy onthou wat jy in voorafgaande paragrawe gelees het.

5. Sluit rympies en liedjies in

Kinders wat vooraf gewoond geraak het daaraan om met rympies, liedjies en spraakklanke te speel leer makliker lees. Dit voel vir hulle soos speel – asof hulle speurders is wat leidrade ontrafel om te ontdek watter woorde deur verskillende stelle letters verteenwoordig word.

6. Bespreek gevoelens en gedagtes

‘n Groep sewejariges is gevra om prente oor ‘n storie te teken, terwyl ‘n ander groep gesels het oor wat die karakters in die storie gevoel en gedink het. Die tweede groep het toe na twee maande meer meegevoel getoon in sosiale situasies en beter gevaar in toetse wat behels het dat hulle ander mense se emosies moes verstaan.4 (Begin vroeg, maar moet aanvanklik nie te veel verwag nie. Onthou, kinders leer eers op 4 jaar om situasies werklik uit ‘n ander mens se perspektief te sien.)

Verwysings:

1. National Research Council. (1998). Preventing Reading Difficulties in Young Children. Washington DC,WA: National Academy Press

2. University of California – Los Angeles, “Conversing Helps Language Development more than ReadingAlone”, Science Daily, (July 2009). Bron: University of California – Los Angeles. “Conversing HelpsLanguage Development More Than Reading Alone.” ScienceDaily. July 17. 2009. Web. 22 Nov. 2013.

3. Bradley, L., & Bryant, P. (1983). Categorizing sounds and learning to read: A causal connection.Nature, 301, 419-421.

4. Dunn, J. et al., “Young Children’s Understanding of Other People’s Feelings and Beliefs: IndividualDifferences and Their Antecedents”, Child Development, Volume 62, p.1352-1366, (1991).

5. Hayes, D.P., “Speaking and Writing: Distinct Patterns of Word Choice”, Journal of Memory andLanguage, Volume 27, p 572-585, (1988).

6. Piasta, S. B., Justice, L. M., McGinty, A. S., & Kaderavek, J. N. “Increasing young children’s contact with
print during shared reading: Longitudinal effects on literacy achievement.” Child Development,Volume 83(3), p810–820. (2012).

Voorlees

Tags

lees, Skoleondersteuningsentrum, SOS


Lees meer...