Stresvlakke van Suid-Afrikaanse opvoeders

2021-05-25

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het navorsing gedoen oor onderwysers se stresvlakke en bevind dat ‘n skokkende 56% van opvoeders ervaar stresvlakke wat beskryf kan word as baie hoër as gemiddeld.

’n Anonieme aanlyn deursneevraelys is na skole op die SOS se databasis uitgestuur en die navorsing is ook wyd op
sosiale media geadverteer. Die vraelys is in drie dele verdeel: demografiese inligting, Perceived Stress Scale (PSS), en laastens ’n kontrolelys van die stresverligtende hanteringsmeganismes wat gereeld gebruik word.

Altesaam 945 onderwysers het die vraelys in 2019 beantwoord en 979 het dit in 2020 ingevul. Die vraelys is in Afrikaans en Engels beskikbaar gestel en is onderskeidelik 1 404 en 520 keer beantwoord.

Perceived Stress Scale (PSS-toets)

Die studie maak gebruik van die Perceived Stress Scale (PSS-toets) se tien vrae. Die PSS is ’n klassieke instrument vir stresassessering. Die instrument is reeds in 1983 ontwikkel en is steeds ’n gewilde keuse om navorsers te help om te verstaan hoe verskillende situasies emosies beïnvloed. Die vrae in die PSS-toets vra terugvoer oor die gevoelens en gedagtes gedurende die afgelope maand.

0 – 7: Baie laer as gemiddeld
8 – 11: Effens laer as gemiddeld
12 – 15: Gemiddeld
16 – 20: Effens hoër as gemiddeld
21 en meer: Baie hoër as gemiddeld

Die gemiddelde telling vir die 1 924 onderwysers was 21,6 (in 2019 was dit 21,5 en in 2020 is dit 21,8). Die strestelling van onderwysers het dus in 2020 effens gestyg. Interessant genoeg is die strestelling van onderwysers met ’n lae en gemiddelde strestelling in 2020 laer as in 2019. Dit is juis die onderwysers wat reeds ’n hoë strestelling ervaar het, wat ’n groot styging getoon het. Slegs 7% van onderwysers ervaar baie laer of effens laer as gemiddelde stres. ’n Verdere 9% ervaar gemiddelde stres en 26% se stresvlakke is hoër as gemiddeld. ’n Skokkende 58% van onderwysers ervaar stresvlakke wat beskryf kan word as baie hoër as gemiddeld.

Hantering van stres

Onderwysers met hoë stresvlakke is meer geneig tot ongesonde metodes van streshantering soos ooreet (26%) en emosionele uitbarstings (43%). Onderwysers wat laer stresvlakke het, fokus op positiewe ervarings soos ontspanning (26%), tyd saam met geliefdes (25%) en selfsorg (24%). Hierdie onderwysers is ook minder geneig tot negatiewe gedrag soos emosionele uitbarstings (3%).

Grootste bron van stres in die werkplek

Daar is vir die opvoeders gevra om kwalitatief terugvoer te gee oor hulle grootste bron van stres in die werkplek. Volgens hulle is die grootste bron van stres die swak dissipline van leerders (24%). Tweede is die swaar werklading (19%), gevolg deur onnodige administrasie (12%). Verder het 8% probleme met interne personeelsake en 10% het ouers aangedui as ’n bron van stres. Altesaam 12% het die Departement van Basiese Onderwys uitgewys as ’n stressor, 4% die skool se finansies, 6% verandering en onsekerheid in die werkplek, en 4% die koronaviruspandemie.

Gesels met ons

>