StudentePlein: Proaktief vir Afrikaans en vir meertaligheid

2021-11-12

StudentePlein is ’n moderne, nie-winsgewende studenteorganisasie en slimkampus wat vir Afrikaanse Matie-studente die geleentheid bied om in hul moedertaal te studeer en sosiaal en kultureel te verkeer. Ons bied topgehalte akademiese, sosiale en kulturele bystand aan ons lede om ’n veeltalige en grondwetlike droom te verwesenlik.

StudentePlein het vanjaar ons meta-kampus model by die Universiteit van Stellenbosch uitgerol, en in minder as ’n jaar kapasiteit uitgebrei om Afrikaanse studente in meer as 40 modules en vyf fakulteite met studiehulpbronne in Afrikaans by te staan. Weens ons meta-kampus model kan honderde Maties vandag nog ten spyte van ’n verengelsde omgewing in Afrikaans studeer!

Indien jy as lid by StudentePlein aansluit, kry jy GRATIS toegang tot al die hulpbronne en geleenthede wat ons bied. Lede kan gratis Afrikaanse notas en opsommings op ons webtuiste aflaai, loopbaanleidingsessies bywoon en werkskadugeleenthede in ons besigheidsaffiliasieprogram benut. Ons beskik ook oor ’n fisiese biblioteek van hulpbronne en lede kan gratis van ons kantoorspasie in die middedorp gebruik maak.

StudentePlein hou gereeld sosiale geleenthede om ons lede te ontmoet en te leer ken: Drink skemerkelkies op ons kantoorblok in Dorpstraat se dak, sop- en rooiwynaande in die winter, sokkie-aande, ens. Vir studente met ’n liefde vir kultuur bied ons ook geleenthede om deel van StudentePlein se debatspan te vorm. Ons spanne het vanjaar tot die halfeind-rondtes gevaar! Ons moedig ons lede aan om kreatief met Afrikaans as taal om te gaan deur kulturele kompetisies soos skryfkompetisies te loods wat groot prysgeld op die spel het.

StudentePlein tree graag proaktief vir Afrikaans en vir meertaligheid op. Dit behels dat ons ons lede se belange om elke hoek en draai sal beskerm deur belangrike gesprekke te voer, aan bewegings deel te neem en, in meer ernstige gevalle, hofaansoeke uit te reik om die afwatering van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch stop te sit. Ons het vanjaar ’n dokumentêre film, Listen, op YouTube vrygestel wat handel oor Afrikaanse Matie-studente se ervaring van uitsluiting op kampus. Ons rapporteer oor aktuele taalkwessies en bly op datum met gebeurtenisse in ons gemeenskap wat ons lede affekteer.

Dit is ons storie in ’n neutedop!

Skoliere wat beoog om te gaan studeer en daarin belangstel om die toekoms saam met StudentePlein aan te pak, kan nou by www.studenteplein.co.za/skoliere registreer. As jy meer oor ons wil uitvind, besoek gerus ons webtuiste of stuur vir ons ’n e-pos.

Kontakbesonderhede:

E: [email protected]

W: www.studenteplein.co.za

A: Dorpstraat 99, Stellenbosch

I: @studenteplein

Kopiéreg© StudentePlein 2021

Gesels met ons

>