Moedertaal…hartstaal…

Afrikaans is die taal waarin my moeder my leer lees het. Dit is die taal waarin ek Wetenskap leer verstaan en opstelle op skool geskryf het. Dit is die taal waarin ek my graad op universiteit verwerf het. Dit is ook die taal waarin ek leer liefkry het en waarin my kinders hul eerste woorde gesê het. Afrikaans is die taal waarin ek dig wanneer ’n saak te swaar op my hart druk óf wanneer ek my eufories oor iets kan verheug. Dit is die TAAL wat ek my moedertaal noem … my hartstaal …