Talle Afrikaanse skole nes Hoërskool Overvaal gedwing om Engelse leerlinge in te neem

Talle Afrikaanse skole nes Hoërskool Overvaal gedwing om Engelse leerlinge in te neem

Weens swak beplanning deur die Gautengse departement van onderwys, word Afrikaanse skole nou gedwing om Engelse leerlinge in te neem, nes die geval met Hoërskool Overvaal aan die begin van die jaar.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Donderdag tydens ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê 6800 leerlinge het nog nie plek in ’n skool vir volgende jaar nie. Hierdie leerlinge se ouers het betyds aansoek gedoen om plek vroeër vanjaar. “Ons het alles in ons vermoë gedoen om hierdie leerlinge te plaas, insluitend om Afrikaanse skole te dwing om ’n Engelse klas in te neem volgende jaar,” het Lesufi Donderdag gesê.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is bewus van verskeie Afrikaanse skole wat tans onder groot druk is vanaf die departement om Engelse leerlinge in te neem. “Dit is bitter onregverdig vir die departement om nou te verwag dat Afrikaanse skole die gevolge moet dra van die departement se eie swak beplanning,” sê Melanie Buys, onderwysspesialis aan die SOS. “Hierdie skole is reeds oorvol. Deur bykomende leerlinge in skole te forseer kan die gehalte van onderrig benadeel, sowel as ’n veiligheidsrisiko vir leerlinge inhou.”

Lesufi het tydens die konferensie erken sy departement het genoeg geld om nuwe skole te bou. “Maar al maak ons een skool elke maand oop, sal dit nie genoeg wees om te voldoen aan die behoeftes van die 82 000 nuwe leerlinge wat jaarliks in Gauteng aankom uit ander provinsies nie.”

Buys sê Lesufi het aan die begin van sy termyn reeds geweet daar gaan ’n bottelnek in Gautengse skole wees en moes toe reeds planne begin maak het. “Maar hy het eerder spoggerige spesialisskole gebou, eerder as om die meerderheid van leerlinge se basiese behoeftes te prioritiseer.”

Volgens Lesufi het hy die afgelope vier jaar 56 nuwe skole oopgemaak. Die name van hierdie skole is egter nie bekend nie, ten spyte van herhaaldelike versoeke aan die departement om hierdie name bekend te maak. Die SOS kon boonop vasstel dat 10 van die 13 skole wat die afgelope twee jaar gebou is, bloot tydelike skole vervang het en sou dus nie verligting bied vir die gebrek aan skole nie.

Buys noem ook dat baie van die skole in Townships onderbenut word, omdat ouers nie tevrede is met die gehalte van onderrig wat hier plaasvind nie. “Sommige van hierdie skole kry minder as 20 nuwe aansoeke elke jaar. Ons raai Afrikaanse skole aan om hulself te vergewis van skole in hul omgewing wat kapasiteit het om leerlinge in te neem. Die beheerliggaam moet dan druk op die departement plaas om eers kinders in leë skole te plaas, eerder as om Afrikaanse skole te dwing om Engelse leerlinge in te neem.”

Buys sê indien die departement ’n Afrikaanse skool nader om Engelse leerlinge in te neem, moet die skool eers ’n skriftelike versoek vanaf die departement aanvra, wat presies uiteensit hoeveel Engelse leerlinge hulle voor plek nodig het. “Eers daarna sal die beheerliggaam ’n vergadering met die departement oorweeg om die kwessie te bespreek.”

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.