fbpx

Tegnologie skep hoop vir die volgende generasie Afrikaanssprekendes

Meer Afrikaanse kinders word gebore as die aantal Afrikaners wat jaarliks emigreer. So het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond solidariteit, gesê tydens die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Onderwyserskongres in Gauteng.

Solidariteit het ’n opname onder Afrikaanssprekendes gedoen om te bepaal hoe hulle werklik voel oor emigrasie.

Die uitslae wys dat 67% van Afrikaanse mense onder 40 dit oorweeg om te emigreer. “Dis ’n verskriklike syfer en ’n skuldigbevinding teen ’n staat wat nie daarin slaag om ’n belangrike deel van hul gemeenskap geborge te laat voel nie,” se Hermann. “98,5% van hierdie groep wat oorweeg om te emigreer, sê egter ook hulle het nog geen stappe geneem om te emigreer nie. Die 67% wat dreig om te emigreer is dus ’n reuse- noodkreet van jongmense wat sê hulle voel so vervreemd dat hulle al oorweeg om te trek, terwyl hulle eintlik in Suid-Afrika wil bly.

Hermann het bygevoeg dat slegs 11% van mense bo 40 wat oorweeg om te emigreer. Slegs ’n skrale 0,7% het aangedui dat hulle wel volgende jaar gaan emigreer.” 99,3% van Afrikaners gaan dus NIE volgende jaar emigreer nie. Die grootste groep is steeds hier. Suid-Afrikaners kry ook meer kinders. Dit is ons verantwoordelikheid en plig om hoop te skep vir die volgende geslag, vir die wat agter bly en die wat gebore word,” se Hermann.   

Dirk Hermann 1
Dr. Dirk Hermann

Hermann sê die staat is besig om te versak en baie staatsdienste moet nou deur die gemeenskap gelewer word. “Tegnologie en die vierde industriele revolusie kan ons help om vinnig oplossings te vind vir hierdie probleem, wat ons in die verlede gedink het onmoontlik is.”

Hermann sê tegnologie maak gehalte onderrig moontlik. “Die staat se geskiedenis wys ons kan nie al ons eiers in die staat se mandjie sit nie. Ons kan nie op hulle staatmaak om goeie openbare skole te bou en onderhou nie. Ons kan nie verseker weet dat daar oor twee jaar nog goeie skole gaan wees nie” sê Hermann. “Daarom moet ons voorsiening maak vir gehalte skole van ons eie, met die goeie tegnologie tot ons beskikking.”

Hermann verwys na die SOS se Wolkskool, wat oplossings bied vir skole in die platteland wat nie meer wêreldklas onderwyser het nie en kan help om goeie skole in die stad selfs nog beter te maak en op die einde ’n bekostigbare privaatskoolstelsel daar te stel.

“Nuwe tegnologie hou ons arms regop sodat ons soomloos in die toekoms kan ingaan, maak nie saak waar die onderwys heengaan nie.”


Tags

Afrikaanse skole, Dirk Hermann, Solidariteit


Lees meer...