Agt beste maniere om eksamenstres hok te slaan

deur Marlien van der Westhuizen, ~
Navorser by die Skoleondersteuningsentrum

Hierdie tyd van die jaar is die meeste mense afgemat, moeg en onder baie druk om alles klaar te kry voor die Kersfees-geskarrel begin. Leerlinge ervaar selfs meer druk as gevolg van eksamenstres wat hulle in die gesig staar. Die Skoleondersteuningsentrum het ’n lys saamgestel met die beste maniere om eksamenstres en spanning in hierdie moeilike tye onder beheer te kry.

Een van die groot probleme met eksamenstres is dat stres breinselle laat doodgaan en dus veroorsaak dat minder inligting ingeneem word. Dáárby veroorsaak stres ook dat jou immuunsisteem nie so goed werk as wat dit moet nie.  Dit lei dikwels daartoe dat leerlinge tydens die eksamen siek word.

Alhoewel stres ’n natuurlike reaksie is en selfs tot voordeel kan wees tydens die eksamen, is dit belangrik om nie abnormale stresvlakke die oorhand te gee nie. Hier is handige maniere om stres te verminder.

desk 601543 640

Luister na klassieke musiek

Daar is reeds vele studies gedoen oor die invloed van klassieke musiek op die leerproses. Buiten vir hierdie voordele het klassieke musiek ook ’n fisiologiese invloed op die liggaam deurdat dit bloeddruk verlig wat onmiddellik ’n gevoel van welbehae in die leerling veroorsaak.

walk 2635038 640

Gaan stap ’n kort entjie

Leerlinge mag dalk voel dat hulle nie tyd het om vir twintig minute op te hou leer nie, maar die voordele van ’n vinnige stappie weeg swaarder as die tyd wat gemors word. Breinskanderings van kinders wat 20 minute aktief was wys ’n duidelike verskil teenoor die wat by hulle lessenaar gesit het.  Dit behoort almal te motiveer!

girl 1733352 640

Slaap genoeg

Dis dalk makliker gesê as gedaan, maar tydens die eksamen sal genoeg nagrus beter wees as ’n deurnag-leersessie. Dit is omdat die brein slaap nodig het om nuwe inligting (wat jy vir die volgende dag wil inprop) om te skakel sodat dit in jou langtermyngeheue vasgelê kan word.

life 2048978 640

Omring jouself met positiewe mense

Wanneer jy die oggend by die skool opdaag, maak seker jy vermy vriende wat jou stresvlakke kan verhoog. Dit is ook nie nodig om ná die eksamen agter te bly om met vriende te redekawel oor die vraestel nie. Dit veroorsaak onnodige spanning oor iets waaraan jy niks meer kan verander nie.

running 498257 640

Wees voorbereid

Dit mag dalk vanselfsprekend klink, maar deur betyds voor te berei, help jy jouself om kalm te bly. Stel ’n rooster op sodat jy jou tyd oordeelkundig gebruik en hou by jou skedule. Gee jouself genoeg tyd om tussendeur te ontspan en vroeg in die bed te klim.

asparagus 2169305 640

Eet gesond

’n Belangrike aspek om spanning en stres te verminder is om jou liggaam in ’n gesonde toestand te hou. Wisselende bloedsuikervlakke beïnvloed jou energievlakke en kan bydra tot onnodige stres. Vermy items met te veel suiker en koolhidrate. ’n Sjokoladestafie net voor jou eksamen gaan jou geen guns betoon nie. Maak ook seker jy kry genoeg proteïene in die vorm van laevet suiwel, vleis en neute in.

aqua 3445987 640

Drink genoeg water

Onlangse studies wys ook dat water help om senuweeagtigheid te beperk en daar is ’n teorie dat water help om informasie tussen breinselle te laat vloei. Leerders wat toegelaat word om water te drink tydens die eksamensessie, kan tot 10% beter vaar.

desk 601543 640 1

Leer in ’n skoon area

Nie net sal dit ouers se harte blymaak nie, maar deur in ’n skoon, netjiese vertrek (of selfs net lessenaar) te leer hou baie voordele in. Te veel items op ’n lessenaar trek jou aandag af en maak dit moeiliker om te konsenteer wat maklik tot stres kan lei. ’n Mens se brein word vinnig moeg en verward wanneer dit gebombardeer word met ’n magdom stimuli.


Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]

Tags


Lees meer...