Karakterontwikkeling en waardeonderrig
deur Elsabe Aldrich
Meer as 21 000 hoërskoolleerders het sedert 2014 Elsabe Aldrich se Triomfantelike Tienerkursus bygewoon. Die doel van die kursus is om leerders te bemoedig en te bemagtig om as moderne jongmense hul unieke pad te vind en met verantwoordelikheid en balans te lewe.
Die kursus identifiseer ’n paar waarhede en kernbegrippe waarmee tieners hulself kan vereenselwig en kan anker. Daarsonder kan hulle maklik oorweldig, verward en onseker voel in ’n snelbewegende wêreld waarin norme en waardes al hoe meer relatief is en die sosiale uitdagings groot.
Elsabe Aldrich is ’n passievolle onderwyseres met ’n hart vir tieners en hul grootword-tameletjies. Sy tree die afgelope 21 jaar gereeld as motiveringspreker by hoërskole in Suid-Afrika en Namibië op en is bekend vir haar dramatiese en humoristiese aanslag. Die leerders skater en leer tegelykertyd.
Haar praatjies dek temas uit haar topverkoper-tienerboek Is jy cool of common? soos gesonde selfbeeld, deurdagte lewenskeuses, persoonlike leierskap en die uitdagings van goeie verhoudings. Dit is juis hierdie onderwerpe wat ook in die kursus aangebied word.
Die leerders woon die kursus in graadverband by sodat daar ouderdom-spesifiek gewerk kan word. Die kursus strek oor vyf ure (pouses ingesluit). Leerderdeelname word aangemoedig deur klip-in-die-bos-vrae wat hulle voortdurend uitdaag en betrek.
Daar is geleentheid vir stil binnewerk, byvoorbeeld die neerskryf van persoonlike doelwitte, maar ook die geleentheid om met ander leerders in hul graadgroep te interakteer. Hulle verdeel byvoorbeeld in gonsgroepe waar hulle koppe bymekaar sit oor relevante onderwerpe, soos die gebruik van sterk drank op partytjies. ’n Verteenwoordiger van elke gonsgroep doen na die dinkskrum vanaf die verhoog aan die hele groep verslag oor hul gevolgtrekkings.
Hierdie lig jou ken en sê jou sê-aktwiteit is beslis een van die groot pluspunte van die kursus. Dit bou selfvertroue en bevorder die vermoë om krities te dink, gedagtes te verwoord en ’n boodskap aan ’n gehoor oor te dra.
Temas wat tydens die kursus behandel word, sluit in:
- Selfwaarde (hoekom is ’n gesonde selfbeeld so belangrik en wat doen ’n mens om jou selfprentjie te verbeter?)
- Leef van binne af buitentoe (outentiekheid, persoonlike waardesisteem, visie, lewenstrategie)
- Konneksies met ander rolspelers (interpersoonlike sukses)
- Lyflike kwessies (liggaamsbeeld, eetversteurings en seksualiteit)
- Tienertameletjies soos hantering van groepsdruk en sosiale media en eksperimentering met grootmensdinge
Leerders lewer teen die einde ’n informele evaluering in (Plus, Minus en Interessant – Edward de Bone se denkvaardigheid word aan hulle geleer). Hierdie terugvoer is op versoek beskikbaar.
Vir meer inligting, kontak Elsabe Aldrich direk deur ‘n e-pos te stuur na [email protected].