fbpx

Uitbranding van onnies – feit of fiksie? (Deel 1)

Celeste Labuscagne

Wolkskooldosent

“Jy moet dit stadiger vat en rus, jy gaan uitbrand.” Of “ As mens hoor is jy besig om te werk, is jy nie bang jy gaan uitbrand nie?” 

Liewe Onderwyskollega, wat is jóú antwoord hierop?  My antwoord was tot ‘n kort rukkie gelede ‘n onomwonde “Nee, uitbranding bestaan nie.” Hierdie antwoord het egter twee weke gelede radikaal verander toe my dominee my bel, en baie besorgd vir my vra wat met my een vriendin wat in die onderwys is, fout is …

Uitbrand

Geagte Kollegas, Hoofde en Onderwysdepartement.  Hierdie is ‘n wekroep!  Alhoewel onderwysers nog altyd aan baie spanning onderworpe was, is die omstandighede waarin hulle hulself tans bevind baie gunstig vir uitbranding.  Die omstandighede waarin COVID-19 onderwysers gedompel het, pas die toestande vir uitbranding soos ‘n handskoen.  Omstandighede wat deur die virus lei tot onsekerheid, ‘n dubbele werklas en moontlike werkverlies (tydelike en Beheerliggaamposte).  Dit lei weer tot  chroniese spanning . Die onverkwiklike  werksomstandighede, wat tans in vele skole ervaar word, is ‘n teelaarde vir uitbranding.

Die oorsake van en ‘n paar aspekte oor uitbranding word  in die volgende paar artikels bekyk.  In hierdie artikel  word die verskil tussen uitbranding en spanning of “stres” belig, sowel as die meer ernstige gevolge van uitbranding.

Volgens Dr. Craig Dike is daar ‘n verskil tussen uitbranding en stres.  Die verskil lê veral in die simptome of “gevaartekens” wat geopenbaar word.  Die infografika hier langsaan dui die verskille in die gevaartekens aan.  Hieruit is dit duidelik dat ‘n persoon wat aan uitbranding ly baie ernstiger simptome ervaar as iemand wat onder spanning verkeer.  Die simptome langsaan gelys, is egter die minder gevaarlike simptome.

Navorsing dui ook daarop dat die sentrale senuweestelsel en brein negatief beïnvloed word deur uitbranding.  Daar is ook al hoe meer bewyse dat uitbranding ‘n persoon se kognitiewe funksie kan oorweldig, en dat daar spesifieke veranderinge in die anatomie en funksionering van die brein kan plaasvind!  Hierdie invloede kan verreikende gevolge vir die individu, sowel as die skool inhou.

‘n Persoon, wat aan uitbranding lei, kan uiteindelik ook ernstige sielkundige probleme ondervind.  Sodanige persone  sal nie net aan depressie begin ly nie, maar in sommige gevalle hulself aan die samelewing begin onttrek.  Hulle kan so ernstig geaffekteer word, dat medikasie nie meer die probleem sal kan beheer nie en mediese verlof selfs hulle voorland mag word.  In ernstiger gevalle word persone selfs op pensioen geplaas, aangesien hulle vermoë om te sinvol te werk so afgeneem het – ‘n wil om “aan te gaan en aan te hou” neem drasties af sodat hulle net nie meer kans sien om te werk nie.

Ernstige fisieke probleme kan in baie “uitbranding”-gevalle ondervind word.  Die rede hiervoor is dat die immuunsisteem tydens uitbranding uitgeput raak. Persone is dan meer vatbaar vir siektes soos griep, verkoue en selfs outo-immune siektes.  Op ‘n ernstiger noot – persone kan selfs simptome soos borspyn, hartkloppings, kortasem, gastro-intestinale pyn, lighoofdigheid en floutes ervaar.  Spierpyne mag ook deur persone wat aan uitbranding ly, ondervind word – tot op die punt waar dit vir sodanige persone moeilik raak om selfs net te loop …

Uitbranding onder onderwysers is ‘n feit.  Daar is egter soos altyd ‘n silwer randjie om die donker wolk.  Volg die reeks artikels saam met ons en kyk hoe jy uitbranding betyds kan uitken en selfs vermy.


Tags

onderwysers, Skoleondersteuningsentrum, SOS


Lees meer...