Uitnemendheid van Afrikaanse skole steeds onbetwisbaar

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Matriekverslag vir 2023 bied vanjaar weer ‘n gedetailleerde en omvattende oorsig van die hoë standaarde van onderwys in Afrikaanse skole. Met indrukwekkende slaagsyfers en uitstaande akademiese prestasies in kernvakke, beklemtoon die verslag die sukses van moedertaalonderrig.

“Die 2023-matriekuitslae van veral Afrikaanse skole laat ’n mens vol moed vir die volgende geslag se potensiaal om ’n verskil te maak in ‘n snelveranderende wêreld,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “Onderwys is nie net kennisoordrag nie, maar ook kultuuroordrag. Die kultuur van uitnemendheid in die meeste Afrikaanse skole speel ’n belangrike rol om uitstekende uitslae te verseker.”

Die SOS se Matriekverslag ondersoek die uitslae van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) en die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) met die primêre fokus op die DBO se uitslae. ʼn Diepgaande analise maak dit moontlik vir die SOS om belangrike tendense binne die DBO-stelsel te identifiseer en te evalueer, en vergelykings te trek met die resultate van die IEB-stelsel.

Hoewel Afrikaanse skole slegs 8% van die skole uitmaak wat die DBO se NSS-eksamen skryf, presteer hulle buitengewoon goed. Met ‘n slaagsyfer van 85,1%, oortref Afrikaanse skole die nasionale gemiddelde van 82,9%.

Die getal Afrikaanse skole wat die NSS geskryf het, het afgeneem van 686 in 2021 tot 555 in 2023, maar die gemiddelde getal kandidate per skool het toegeneem tot 124. Dit is aansienlik hoër as die nasionale gemiddelde van 101 kandidate per skool.

Die deurvloeisyfer in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, soos weerspieël in die Matriekverslag van 2023, toon ‘n beduidende uitval tussen graad 1 en matriek. Van die leerders wat in 2012 met graad 1 begin het, slaag slegs 47,4% matriek in 2023. Verder kwalifiseer net 40,9% van hierdie suksesvolle matrikulante vir universiteitstoelating. Dit beklemtoon die behoefte aan verbetering in onderwysgehalte en ondersteuningsmeganismes om leerders deur hul skoolloopbaan te ondersteun en te verseker dat hulle betekenisvolle kwalifikasies behaal. Beter slaagsyfers as gevolg van laer slaagvereistes, beteken min. Hierdie statistieke dui op ‘n dieperliggende probleem in die onderwysstelsel wat aangespreek moet word.

Ten spyte van ‘n daling van byna 1% in die getal leerders wat Wiskunde as vak gekies het tussen 2022 en 2023, slaag 8,5% meer leerders Wiskunde gedurende dieselfde tydperk. Daar is ook ‘n merkbare toename in die getal leerders wat onderskeidings in Wiskunde behaal het. Wiskunde speel ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van fundamentele denkvaardighede soos logiese denke, probleemoplossing, en analitiese denke. Hierdie vaardighede is uiters belangrik en word wyd vereis in ‘n verskeidenheid beroepe, wat die noodsaaklikheid en waarde van Wiskunde in die onderwysstelsel onderstreep.

Fourie sluit af: “Die inligting vervat in vanjaar se SOS-verslag belig die toewyding van onderwysers en leerders wat saamwerk om merkwaardige resultate te bereik. Hierdie verslag is ‘n getuigskrif van die krag en uitnemendheid van Afrikaanse skole in Suid-Afrika.”

Die volledige verslag is hier beskikbaar.


Tags

Afrikaanse skole, DBO, IEB, SOS


Lees meer...