fbpx

Verbeter eerder voorskoolse onderrig as om druipelinge oor te plaas

Voorgestelde wetgewing deur die Departement van Basiese Onderwys (DBO) wat sal verhoed dat leerders voor die ouderdom van 10 jaar druip, maak inbreuk op leerders se grondwetlike reg tot onderwys, en kan verreikende gevolge hê op latere vordering van leerders.

Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, stel voor dat leerders nie in die grondslagfase (graad 1 tot graad 3) ‘n graad mag herhaal nie, omdat dit daartoe kan lei dat dié leerders lewenslank ‘n gevoel van mislukking met hulle saamdra. Kenners verbonde aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS) meen egter dat dit roekeloos is om leerders, wat nog nie basiese lees- en syfervaardighede bemeester het nie, te laat slaag.

“Graad R tot graad 3 is lewensbepalend vir leerders. Hier word die grondslag gelê vir hulle akademiese loopbaan,” sê Marnelda de Beer, SOS-kenner van onderwys in die grondslagfase. “Deur leerders kunsmatig in die grondslagfase te laat slaag, lei tot swak akademiese uitkomste later in ’n kind se skoolloopbaan. Herhaling van ‘n graad het ook ‘n groter negatiewe effek op ‘n tiener se selfbeeld as in die grondslagfase. Hierdie faktore veroorsaak dat baie leerders nooit matriek bereik of ‘n tersiêre kwalifikasie behaal nie,” sê De Beer.

’n Studie deur Harvard Universiteit het bevind dat dit beter is om ‘n leerder met onvoldoende leesvermoë in graad 3 terug te hou, aangesien dit op die lang termyn lei tot groot verbetering in hulle akademiese vordering. Volgens dié studie was die waarskynlikheid dat hierdie leerders hul skoolloopbaan voltooi, geensins negatief beïnvloed deur die feit dat hulle in graad 3 ‘n jaar moes herhaal nie.

Om te slaag, moet leerders in die grondslagfase tans ’n minimum van 50% vir hul Eerste -of Addisionele taal en 40% vir Wiskunde behaal. Die lae standaard wat reeds geld, het daartoe bygedra dat Suid-Afrika loshande die swakste uit 50 lande presteer het in die jongste Progress in International Literacy Study (PIRLS) studie. Volgens die verslag wat in Desember 2017 bekend gestel is, kan 78% van graad 4-leerders in Suid-Afrika nie met begrip lees nie. “Lees is ‘n voorwaarde vir leer. Deur weg te doen met minimum slaagvereistes in die grondslagfase, gaan selfs meer leerders graad 4 betree sonder die nodige vaardigheid om te leer,” sê De Beer. “Hierdie leemtes sal boonop al groter word soos leerders na die volgende graad vorder. Volgens ’n 2016-verslag deur die DBO sukkel leerders nog steeds tydens die matriekeindeksamen om vrae te beantwoord wat baie inligting bevat.”

Volgens die DBO se eie syfers het meer as 86 000 graad 1’s in 2017 gedruip. Dit is 7,5% van die totale groep, wat beteken dat ongeveer drie leerders uit ’n klas van twintig graad 1 druip. “In ’n poging om ‘n bottelnek te verhoed en hulpbronne te spaar, word die gevolge van ’n disfunksionele onderwysstelsel nou bloot na graad 4 verskuif,” sê de Beer.

Die SOS meen die oplossing is eerder om leerders vóór skool reeds behoorlik voor te berei op die eise wat aan hulle gestel word in die laerskool. “n Kind se brein ontwikkel meer van geboorte tot ouderdom 5 jaar, as enige ander tyd in sy lewe. Hierdie ontwikkeling het ook ’n langtermyn impak op ’n kind se vermoë om optimaal te leer en suksesvol te wees in die lewe. Dus is dit van kardinale belang dat kinders vroeg reeds optimaal gestimuleer word,” sê De Beer. “Voorskoolse opleiding in Suid-Afrika skiet egter ver te kort en baie kinders gaan glad nie skool voor graad 1 nie.”

Statistiek van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) wys dat 64% (3,2 miljoen uit 5 miljoen kinders) in 2016 glad nie skoolgaan voor die ouderdom van 4 jaar nie. Volgens Statistieke Suid-Afrika se Algemene Huishoudelike Opname in 2018, was 15% van kinders op die ouderdom van 5 nie in enige skool nie. Wanneer kinders wel kleuterskool toe gaan, is die gehalte van opvoeding wat hulle hier ontvang, boonop bedenklik. Navorsing deur die SOS wys dat 36% van kleuterskool-onderwysers slegs matriek het, terwyl 14% minder as matriek het.

“Voorskoolse opvoeding fokus ook te veel op formele onderrig, eerder as perseptuele voorbereiding soos touspring en ander liggaamlike oefeninge wat kinders se visuele, ouditiewe en bilaterale vermoëns ontwikkel,” sê De Beer. “‘n Kind se vermoë om behoorlik te lees en wiskunde te doen hang baie af van hoe goed dié vaardighede ontwikkel is. Baie kinders gaan egter skool toe voor hulle emosioneel en perseptueel gereed is.”

Hierdie gebrek aan perseptuele voorbereiding is duidelik sigbaar in Suid-Afrika se swak prestasie tydens Internasionale Wiskunde -en Geletterdheidstoetse. Gedurende die International Trends in Mathematics and Science Study (TIMSS) se assessering in 2015, het Suid-Afrika se graad 5 en graad 9 leerders tweede swakste uit 48 lande in Wiskunde gevaar. Suid-Afrika het swakker gevaar as Moroko, Botswana en Nigerië. Die uitslae wys dat meer as die helfte (51%) van graad 5-leerders swakker as die internasionale norm van 400 punte in Wiskunde gevaar het. Navorsing deur prof. Nic Spaull, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, wys dat slegs 16% van graad 3-leerders Wiskunde op ’n graad 3-vlak kan doen.     

Volgens De Beer sal hierdie uitslae net verder verswak indien die minister se voorstel uitgevoer word. 

 “In haar begrotingstoespraak verwys minister Angie Motshekga telkemale na vryheid, maar die voorgestelde wetgewing gaan bloot lei tot meer leerders wat gevangenes van armoede, werkloosheid en ongeletterdheid word. Om werklik vry te wees en hulle plek in die werkmag en gemeenskap met selfvertroue vol te staan, moet kinders ten minste goed kan lees,” sê De Beer.


Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.