Die Rekord -en Eindeksamen is weer om die draai! Vakkenners van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het met ons gedeel waarom dit belangrik is om ou vraestelle uit te werk en ekstra hulpbronne te gebruik voor ’n groot eksamen, ten einde te verseker dat jy die uitslae kry wat jy begeer.
Werk ou vraestelle uit
Johan Koekemoer, hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW), sê kandidate kan beslis hul punte verbeter deur ou wiskunde-vraestelle voor die eksamen uit te werk. “Soos enigiets wat jy oefen raak jy meer vertroud en het jy meer selfvertroue en dus laer stresvlakke tydens eksamen. Dit verbeter jou vermoë om oopkop en probleemoplossend te dink.”
Kyk na vraestelle wat deur ander onderwysers opgestel is
Volgens Koekemoer is dit veral goed om vraestelle uit te werk wat deur onderwysers by ander skole opgestel is, omdat vraestelle in hoër grade dikwels departementeel of nasionaal opgestel word. “Indien jy net gewoond is aan jou onderwyser se manier van vrae vra en nie gemaklik is om ander tipe vrae te beantwoord nie, kan dit jou dalk kniehalter, veral in matriek.” Hugo Vermeulen, hoof van Opleiding aan die SOS en veral betrokke by WETO (die SOS se Wetenskap-vakvereniging) stem saam. Alle onderwysers het hul eie sterkpunte en kan soms geneig wees om tydens interne eksamens op hierdie sterkpunte te fokus met die opstel van die vraestel. Deur blootstelling aan ’n verskeidenheid onderwysers se vraestelle, sal jy aan vrae van ’n groter verskeidenheid inhoud blootgestel word.”
Raak vertroud met die tipe vrae en antwoorde
Jana Terblanche, hoof van die Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT) sê die bestudering van ekstra hulpbronne is noodsaaklik vir leerders wat werk vir ‘n onderskeiding. “Hoe meer hulpbronne jy gebruik, hoe sekerder is jy om sukses te behaal, want dit gee vir jou breër kennis en insig. Veral in die poësie en letterkunde vraestelle is dit belangrik om te kan toon dat jy meer as een bron kan aanhaal of meerdere insig toon wanneer jy die poësie vrae beantwoord.”
Sy noem ook dat vraestelle so opgestel word dat dit poog om al die werk van ‘n jaar of fase te dek. “Indien jy gereeld vraestelle uitwerk, kom jy in voeling met hóé belangrik sekere afdelings van die werk is, want dit word gewoonlik van jaar tot jaar herhaal. Jy kry ook ‘n idee van die “gewig” wat sekere werk gewoonlik in ‘n vraestel tel. So kan 10% van die vrae insig verg en 90% feitekennis, dus moet jy wel sekere werk uit jou kop ken.” Terblanche sê hoe meer vraestelle ’n leerder uitwerk, hoe meer gekonfyt raak hy in die eksakte beantwoording daarvan, byvoorbeeld hoe om volsin antwoorde in ‘n begripstoets te gee, maar sonder omhaal van onnodige woorde. “Of jy bemeester die tegniek van ‘n letterkundige opstel.”
Markplein bied die ideale oplossing
Die SOS se aanlynwinkel Markplein, bied ’n verskeidenheid vraestelle en werkkaarte van vakkenners in ’n verskeidenheid vakke teen ’n spot-goedkoop prys. Terblanche beveel veral die letterkunde PowerPoints vir leerders aan. Dit som die werk op en verduidelik die inhoud op ‘n aantreklike manier.
“Onderwysers wat Markplein benut, kan vir hul leerders addisionele vraestelle van topgehalte gee om vir hersiening te gebruik,” sê Terblanche. Koekemoer noem ook dat ervare onderwysers ’n handige paar ekstra rande kan verdien deur waardevolle assesseringstake en vraestelle op Markplein te verkoop. “Die finale Wiskunde-eksamens vir alle grade wat beskikbaar is op Markplein is veral van uitstekende gehalte.”
Besoek Die Markplein by https://markplein.co.za/
0 comments