Vier positiewe sake in PIRLS waarop ons moet voortbou en een reuse-probleem

Te midde van ʼn voortslepende krisis in die onderwyssisteem toets Suid-Afrika se leerders die swakste uit 57 lande in die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS 2021). Alhoewel swak uitslae moontlik te verwagte was, is die 288 punte wat Suid-Afrika behaal het, aansienlik laer as die van Egipte, die tweede swakste land wat 378 punte behaal het. Die uitslag dui op ‘n duidelike noodkreet herstrukturering. Ondanks hierdie feit is daar ʼn paar ligpunte waarop voortgebou moet word.

1. Sekere tale het effens verbeter

‘n Rede om fees te vier, is dit vir seker nie, maar die skole wat in Afrikaans en Engels aan die PIRLS-studie deelgeneem het, het effens beter gevaar as in 2016. Afrikaanse skole behaal 387, ‘n toename van 18 punte sedert 2016 toe hul 369 behaal het, terwyl Engels 382 behaal, wat 10 punte hoër is.

PIRLS 2016 2021

Die verbetering in punte van hierdie twee tale spreek tot die onbetwiste voordeel van moedertaalonderrig. Indien Suid-Afrikaanse skole leerders wil help om met begrip te lees, sal meer aandag geskenk moet word aan moedertaalonderrig – vir alle leerders. Nie net moet moedertaalonderrig tot minstens die ouderdom van sewe verpligtend wees nie, maar die gehalte van moedertaalonderrig in die nege ander amptelike tale moet drasties aangespreek en verbeter word.

2. Leerders hou van lees

‘n Belangrike aspek wat PIRLS ondersoek, is die ingesteldheid van leerders. In terme van leerders se ingesteldheid teenoor lees, het 50% aangedui dat hulle baie van lees hou. Dit plaas Suid-Afrika 20ste op die lys en toon ‘n baie positiewer ingesteldheid teenoor lees as lande soos Singapoer waar 33% aangedui het hulle geniet dit baie om te lees en selfs die VSA waar slegs 25% van leerders lees baie geniet. Dit is merkbaar dat, desniesteenstaande, Suid-Afrikaanse leerders lees baie geniet, hulle steeds swak vaar en slegs 312 punte behaal.

Leerders se positiewe ingesteldheid moet beloon word deur leesinisiatiewe wat veral hardoplees aanmoedig.

3. Ons skole tydens COVID kreatief geraak met onderwys

Daar is geen twyfel dat die impak van COVID nog lank in die onderwys weerspieël, sal word nie, maar Suid-Afrikaanse skole het oorwegend min klastyd tydens COVID verloor. Volgens PIRLS het daar ‘n gemiddeld van 47% skole meer as agt weke klastyd misgeloop. In teenstelling hiermee het slegs 28% deelnemende skole in Suid-Afrika meer as agt weke skool misgeloop.

Onderwysers, veral in Afrikaanse skole, het ook op kreatiewe maniere daarin geslaag om in ‘n baie kort tydperk afstandsleer te implementeer. Tegnologie soos die SOS se Die Wolkskool en ander aanlyn platforms is gebruik om die negatiewe impak van die inperking te verminder en te verseker dat leerders deur die kurrikulum kom.

4. Daar is positiewe inisiatiewe om lees te bevorder

Moontlik die belangrikste uitkoms van die swak PIRLS-uitslae is dat dit organisasies en gemeenskappe tot die besef kom dat hulle self oplossings vir die leeskrisis sal moet soek. Die SOS stel binnekort ʼn omvattende Leesgids bekend om te help met die enorme agterstand wat Suid-Afrikaanse leerders op hierdie terrein ondervind. Hierdie gids is spesifiek ontwikkel om onderwysers, skole en ander belanghebbendes te ondersteun om leesbegrip te verbeter. Die Leesgids word in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) gepubliseer. Verskeie kenners op die gebied van leesonderrig het as medewerkers opgetree, onder andere, dr. Melodie de Jager, Wilna van Rooyen, Almaret du Toit, Rita van den Berg, dr. Ria Taylor asook drie taal- en Grondslagfase-spesialiste verbonde aan die SOS. Prof. Johan Anker het as ʼn adviseur optree.

Die Leesgids bevat riglyne en strategieë om leesbegrip te bevorder en bied praktiese hulpmiddels en wenke vir die ontwikkeling van ‘n stimulerende leesomgewing. Dit fokus ook op die implementering van bewese onderrigmetodes wat lei tot beter leesbegrip by leerders.

Moedertaalonderrig – die angel in onderwys

Volgens UNESCO is Afrika die enigste kontinent waar die meerderheid van leerders skool in ‘n vreemde taal begin. Ten spyte van opvoedkundige kenners se aanbeveling dat leerders tot ten minste graad 3 in hul moedertaal moet onderrig word, daal die persentasie leerders wat in inheemse tale onderrig word jaarliks terwyl toenemend meer leerders in Engels onderrig word.

taal van onderrig moedertaal

Moedertaalonderrig vorm die grondslag vir die bevordering van linguistiese en kulturele diversiteit, die bevordering van kognitiewe ontwikkeling en die versekering van gelyke toegang tot gehalte-onderrig vir alle leerders.

Volgens die Departement van Basiese Onderwys (DBO) ontvang 71% leerders in graad 1 tot 12 tans onderrig in Engels, 7% ontvang onderrig in Afrikaans, terwyl IsiZulu en IsiXhosa, die land se grootste tale, onderskeidelik slegs vir 7% en 5% leerders as onderrigtaal gebruik word.

Alhoewel daar geen twyfel bestaan oor die waarde van Engels as besigheidstaal nie, is daar egter ʼn duidelike verband tussen die bemeestering van ʼn moedertaal en die aanleer van ʼn tweede taal, byvoorbeeld Engels.

 ʼn Leerder wat sy moedertaal bemeester het, het ʼn voorsprong nie net in sy/haar moedertaal nie, maar ook wanneer ʼn tweede taal aangeleer word. Navorsing toon dat konsepte en taalvaardighede vanaf ʼn leerder se moedertaal geëkstrapoleer kan word wanneer ander tale aangeleer word.

Meertalige onderwys, gebaseer op moedertaal, vergemaklik toegang tot en insluiting in leer vir bevolkingsgroepe wat nie-dominante tale praat en lei tot entoesiasme en groter akademiese sukses.


Tags

Marlien van der Westhuizen, Moedertaal, PIRLS, Skoleondersteuningsentrum, SOS


Lees meer...