Voorgestelde toelatingsbeleid: Hiérs wat skole moet weet

2021-04-29

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die voorgestelde nasionale toelatingsbeleid vir gewone openbare skole in Maart vir kommentaar gepubliseer. Indien die beleid aanvaar word, sal dit verreikende gevolge inhou vir die manier waarop skole hul eie toelatings- en taalbeleid mag bepaal.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het met adv. Albert Lamey gesels oor ván die kwessies wat sou ontstaan indien die nasionale beleid in sy huidige formaat aanvaar word. Adv. Lamey se advies benadruk die belangrikheid vir nuwe skoolbeheerliggame om te verseker dat hul skool se taal- en toelatingsbeleid in plek is, deeglik ondersteun deur ʼn kapasiteitbepaling van die skool.

Dit lyk asof die voorgestelde nasionale toelatingsprosedures skole se taalbeleid ignoreer. Is dit nog sinvol dat ’n skool ’n taalbeleid het?

AL: Dit is absoluut nodig vir alle skole om ʼn taalbeleid saam te stel. Dit is belangrik om te onderskei tussen ʼn toelatingsbeleid en ʼn taalbeleid. Albei vind hul oorsprong in die Suid-Afrikaanse Skolewet en dit is dus belangrik dat ʼn skool al twee opstel.

ʼn Toelatingsbeleid het onder meer te make met ʼn skool se kapasiteit en word deur die skoolbeheerliggaam (SBL) saamgestel. Hier speel die minimum norme en standaarde vir infrastruktuur ʼn rol omdat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) dit daargestel het as ʼn riglyn om skole wat nie aan die minimum standaarde voldoen nie, op standaard te kry. Die norme en standaarde moet nie gesien word as voorskriftelik vir die bepaling van kapasiteit nie. Norme en standaarde vir kapasiteitsbepaling is nog nie uitgevaardig nie. Dit is belangrik dat elke skool hul eie kapasiteit bepaal en deeglik kan motiveer.

ʼn Taalbeleid verwys na die onderrigtaal van die skool en moet belyn wees met die Grondwet asook die Skolewet.

Die LUR van onderwys in ʼn provinsie kan ʼn betrokke skool se taalbeleid nagaan, probleme uitlig en dan in gesprek tree met die SBL om dit op te los. Die LUR kan die taalbeleid dus nie bloot afkeur nie.

Wanneer sal ons weet of die voorgestelde nasionale toelatingsbeleid aanvaar is?

AL: Daar is nog geen vasgestelde tydsraamwerk gegee nie.

Indien die voorstelle dan wel aanvaar word, wat kan gedoen word om die voorgestelde beleid te beveg?

AL: Omdat geen beleid gemaak kan word wat bots met wetgewing nie, sal dit nie in sy huidige vorm aanvaar kan word nie. Die SOS, AfriForum en Fedsas het hulle kommentaar oor die voorgestelde beleid wat probleme uitlig, ingedien. Ons moet dus wag om te sien hoe daarop gereageer gaan word.

My mening is: Die nasionale toelatingsbeleid skep ʼn beleidsraamwerk, maar is nie bindend nie. Dit kan ook nie die Skolewet en die provinsiale wetgewing en regulasies weerspreek nie. Skole moet die beleid beskou as leidend en rigtinggewend en gebruik wat hulle oordeel van toepassing is. Indien dit strydig is met die provinsiale regulasies – moet laasgenoemde eerder gevolg word.

In welke mate moet die onderwysdepartement met ʼn SBL kommunikeer ten opsigte van eise oor toelatings, eerder as om net mondelings met die skoolhoof te kommunikeer?

AL: Die onderwysdepartement moet in die geval van toelatings met die SBL kommunikeer. As die hoof in ʼn moeilike posisie beland, moet hy of sy die SBL betrek en moet die hoof skriftelik versoek dat die onderwysdepartement (skriftelik) met die SBL kommunikeer. Alternatiewelik moet die voorsitter van die SBL skriftelik met die onderwysdepartement se hoof in die provinsie begin kommunikeer.

Wat is die posisie van die skool indien die leerder se keuse van onderrigtaal verskil van die taalbeleid van die skool waar sy/haar ouers aansoek doen?

AL: Hierdie is ʼn baie goeie rede waarom skole ʼn taalbeleid gereed moet kry. Indien ʼn skool oor ʼn taalbeleid beskik wat belyn is met die Grondwet en die Skolewet, kan skole ʼn leerder weier op grond van sy keuse van onderrigtaal indien dit nie ooreenstem met die taalbeleid van die skool nie, sonder vrees dat dit gesien word as taaldiskriminasie – wat natuurlik teen die Grondwet is.

Indien byvoorbeeld Zoeloesprekende leerders kies om in Afrikaans of Engels onderrig te word, kan hulle nie toelating geweier word nie.

Die afdwing van taalbeleid hang baie af van die nabygeleë skole en die skool se kapasiteit. Een voorbeeld hiervan is die Hoërskool Ermelo-saak. In dié geval was die ander skole in die omliggende omgewing wat voldoen het aan die leerder se taalkeuse almal vol en Hoërskool Ermelo het steeds kapasiteit gehad. Daarom het die Grondwetlike Hof beslis dat  ʼn Engelse baan by die skool oopgemaak moet word om die Engelsprekende leerders te akkommodeer.

Tans berus die onderwysdepartement se kapasiteitsbepaling op 35 tot 40 leerders per onderwyser. Hoe word bepaal of ʼn skool vol is?

AL: Dit moet beklemtoon word dat daar geen norme en standaarde deur die minister afgekondig is vir kapasiteitsbepaling nie. Die norme en standaarde vir infrastruktuur is NIE norme en standaarde vir kapasiteitbepaling nie. Die getalleverhouding van 1-35 en 1-40 het sy oorsprong in die norme en standaarde vir infrastruktuur, en dui bloot die minimum standaard aan, m.a.w. die maksimum aantal leerders per onderwyser. Dit is nie bindend vir kapasiteitbepaling nie, maar slegs ʼn riglyn of faktor wat in ag geneem word vir kapasiteitsbepaling deur die SBL.

Hoeveel leerders van elke taal is ʼn parallelmediumskool verplig om te aanvaar?

AL: Die taalbeleid kan bepaal wat is prakties uitvoerbaar vir die skool ten opsigte van die getalleverhouding tussen onderrig in Afrikaans en Engels. Dit kan ook na die skool se vermoë verwys inaggenome opvoeders, klaskamers en die kurrikulum. Die kapasiteitsbepaling wat weer in die toelatingsbeleid uiteengesit word, kan ook volledig hiermee handel.

Is daar nog plek vir ’n godsdiensbeleid in skole?

AL: Skole kan hul eie godsdiensbeleid bepaal.

Gesels met ons

>