Vra vrae en moenie voorsê nie

deur Mariesa Candiotes, Wolkskool-dosent

(Onderrig gaan oor luister ook en nie net praat nie)

Hier is die hipotese: dis menslik gesproke onmoontlik om te praat en te luister terselfdertyd. Hier is die probleem: ek praat te veel. Nou moet daar tog ’n goue middeweg bestaan?

Dis net voor eksamentyd, ons moet deur soveel moontlik teorie, wette en feite kom. En wat doen ons onderwysers? Ons begin voorberei en dink aan soveel moontlik vrae om elke liewe hoek van ’n konsep te benader en te dek. Ons dink buite die boks, probeer dink aan hoe die teorie in die werklike wêreld toegepas kan word. Die rook trek by ons ore uit en ons is figuurlik ’n HAT van vrae en feite voor ons die leerders begin voorberei. En sodra daardie les begin, trek die aarde weg, teen die spoed van ’n Afrika-taxi in spitsverkeer, tot in vyfde rat en is daar nooit genoeg tyd om deur al die vrae en feite te werk nie.

Op die ou einde, praat ons heeltemal te veel en kom in elk geval nie deur al die feite, wat ons so mooi op ’n PowerPoint, inkleur en met prentjies saamgestel het nie.

Hierin lê die gevaar, omrede ons soveel tyd bestee om die praat werk te doen, luister ons nie wat die leerders te sê het nie en ons hoor nie die vrae wat werklik die vaslegging van konsepte daarstel.

Hoe kan ons sorg dat onderrig meer gerig is op luister en nie net praat nie?

  • Die navorsers noem dit outentieke vrae, dit beteken daar is nie ’n eenvoudige antwoord vir die vraag nie, daar moet oor die antwoord beredeneer word. Dit maak groepsbespreking en ontdekking van dieper leer moontlik.
  • Moenie te veel praat nie, die kinders spandeer reeds soveel tyd op Zoom sessies en is as’t ware op ‘mute’.
  • Hoe meer ons geleentheid skep vir leerders om hulself te ‘unmute’ en deel te neem, hoe meer sal hul aktief deelneem aan betekenisvolle gesprekke, eerder as passiewe ontvangers wees.
  • Outentieke vrae sluit die volgende in;
    • Waarom dink julle so?
    • Hoe voel julle daaroor?
  • Luister om te luister en nie te hoor nie.

Onthou net, ons taak as onderwysers is onvolledig tot en met leer plaasgevind het.

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.