fbpx

Vyf lekker- leesboeke vir die jongspan

Die grendeltyd plaas baie druk op gesinne en die kinders raak gou verveeld en daar is reënerige dae waartydens vermaak binnenshuis moet plaasvind. Gelukkig is daar nou ‘n groot aantal boeke aanlyn beskikbaar wat jy maklik op Lapa se gratis e-leser kan lees. 

Om dinge vir ouers makliker te maak, het die Skoleondersteuningsentrum (SOS) ’n lys van die beste leesboeke vir kinders saamgestel.

Spaghetti tussen jou tone

Spaghetti tussen jou tone LOW RESTom en Trevor se nuwe juffrou is amper te goed om waar te wees. Haar naam is juffrou Zaan van Graan. En almal sê sy word NOOIT OOIT kwaad nie. Maar Tom en Trevor hou van poetse bak. Daarom begin hulle dadelik planne maak. Planne om die nuwe juffrou WOEDEND te maak!

In hierdie splinternuwe skaterlagstorie uit die pen van Jaco Jacobs vind die twee grootste poetsbakkers in die skool uit waarom dit NIE ’n goeie idee is om met ’n juffrou soos juffrou Zaan skoor te soek nie. Jy mag dalk net die een wees wat spaghetti tussen jou tone kry …

Skrywer:                              Jaco Jacobs
Ouderdom:                        7+
Band:                                    Sagteband
Bladsye:                               48

Sanri Steyn: Die rustelose mummie

Sanri Steyn 8 Die rustelose mummie LOW RESSanri Steyn droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. En nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees … Superjoernalis Sanri Steyn.

Sanri is opgewonde toe sy hoor ’n rondreisende uitstalling met artefakte uit antieke Egipte gaan Raaiselfontein se museum besoek. Uiteindelik gebeur daar iets waaroor sy in haar koerant kan skryf! Maar dan begin vreemde dinge gebeur. Kan dit wees dat die mummie soms lewend word? En wat wil hy hê?

Die aweregse humor, lekker grillerige temas en fantastiese illustrasies in hierdie leesboeke sal seuns en meisies vasgenael hou!

Skrywer:              Theresa van Baalen
Ouderdom:        9+
Band:                    Sagteband
Bladsye:               80

 

Dinge wat ek nie van skape geweet het nie

Dinge wat ek nie van skape geweet het nie LOW RESLuan se vakansieplanne is in hulle peetjie. In plaas daarvan dat hy by die huis gaan rondsit, PlayStation speel en saam met sy pelle kuier, moet hy Karoo toe gaan. Saam met sy eksentrieke fotograaf-ouma wat ’n fotoboek oor windpompe wil publiseer. Dit is sy straf omdat hy en sy vriende een aand iets aangevang het wat hulle in groot moeilikheid laat beland het.

Op pad deur die Karoo ontmoet hy vir Lana, wie se pa al die pad van Bloemfontein na Kaapstad met sy fiets ry om geld vir kankernavorsing in te samel. Lana wat nie vleis eet nie, mal is oor boeke en hom (sonder dat sy dit weet) oortuig om ’n skaap te steel.

Hierdie is een van daardie humoristiese, hartroerende leesboeke uit die pen van Jaco Jacobs sal jou anders laat kyk na die dinge wat die lewe die moeite werd maak.

Skrywer:                              Jaco Jacobs
Ouderdom:                        11+
Band:                                    Sagteband
Bladsye:                               128

 

Weg

weg rgbTerwyl haar ouers oorsee werk, bly Niekie in haar matriekjaar op haar eie in ’n woonstel in die stad. Kort nadat sy en haar kêrel, Zack, baklei het, verdwyn Niekie spoorloos. Die polisie is nie dadelik agterdogtig nie – Niekie het immers ietwat van ’n losbol-kunstenaarstemperament en het al voorheen uit die bloute saam met haar kunstenaars-oom die pad gevat om te gaan skilder.

Intussen word Niekie in ’n vreemde bed wakker met kneusplekke aan haar gesig en kabelbinders wat in haar polse en enkels insny. Sy weet haar ontvoerder is van plan om haar dood te maak. Terwyl die uurglas vir Niekie leegloop, probeer haar kêrel, Zack, die raaisel van haar ontvoering oplos.

Hierdie naelbyt-spanningsverhaal sal tienerlesers tot die laaste bladsy vasgenael hou.

Skrywers                             Nerine Ahlers & Alet Steenkamp
Ouderdom:                        13+
Band:                                    Sagteband
Bladsye:                               152

 

Lang pad onnetoe

Lang pad onnetoe LOW RES Will het ’n pistool. En hy klim in die hysbak op die sewende vloer om sy broer se moordenaar te gaan soek. Die hele pad ondertoe, terwyl die hysbak op elke vloer stilhou, klim verskillende mense wat iets met die geweld in sy buurt te doen het op die hysbak. Elkeen van hulle vertel vir Will dele van ’n groter storie as die een wat hy dink hy ken.

Hierdie woedende, verbluffend briljante jeugroman word in kort, vurige staccato versvorm vertel om ’n rou, eerlike blik op vuurwapengeweld te bied, soos net Jason Reynolds dit kan doen – en dit is nou boonop fantasties in Afrikaans vertaal deur die bekroonde skrywer en digter Nathan Trantraal, wat dit vir Suid-Afrikaanse lesers so aktueel en herkenbaar soos vanoggend se koerantopskrifte maak.

Skrywer:                                              Jason Reynolds (Nathan Trantraal is die vertaler)
Oorspronklike titel:                         Long Way Down
Ouderdom:                                        15+
Band:                                                    Sagteband
Bladsye:                                               304

Vir nog opwindende leesboeke besoek www.lapa.co.za. Hier kan jy verskeie boeke aanlyn koop, sonder dat jy jou neus by die huis uitsteek. 

Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.


Tags


Lees meer...