Gee jou kind vlerke in sy moedertaal!

Waldo het ’n voëltjie hoor fluit. Die voël klink soos ’n volstruis in barensnood. Onnatuurlik verby! Die fluit is as volg: “My kind gaan in Engels skool, want die wêreld is Engels en dit gaan my kind ’n voorsprong gee.” Die voël fluit nie die klank van die bosveld nie, maar kwetter soos makgemaakte papegaaie in die stad. Waldo kan nie meer na die oningeligte kwinkeleer luister nie. Waldo moet ons inlig en hy hoop dat ons almal dan dieselfde deuntjie sal sing.

Weens kolonialisasie en die internet het Engels in meeste lande wortelgeskiet. Google is tans die grootste soekenjin en die kliënte van Google is grotendeels Engels. Omdat ons in Engels Google en in Engels geantwoord word, dink ons alles is Engels. Google is nie die internet nie! Google het tans 1.17 biljoen kliënte (ek weet nie van julle nie, maar ek alleen het vier Google rekeninge). Dit is slegs 16% van die globale bevolking. Die bevolking van China alleen is groter as Google. Die mensdom is naïef as hulle dink alles is Engels.

Volgens ’n artikel in die Washington Post is die vier tale wat mens moet leer om jou ’n globale voorsprong te gee: Mandaryns, Duits, Frans en Italiaans. Mandaryns met al sy dialekte is dié grootste taal met 1,39 Biljoen huistaal-sprekers. Mandaryns het in die laaste paar jaar met meer as 200% gegroei as ’n voorkeur tweede-taal. Stadig maar seker is Mandaryns besig om die plek te neem van Engels as amptelike dominerende tweede-taal.

Volgens die huidige groeitempo is dit nie meer lank voor die grafieke van Mandaryns en Engels sny en Mandaryns verbyskiet nie. Die taal infiltreer van binne af buitentoe. Die Chinese infiltreer deur immigrasie. In elke groot stad is daar ten minste een Chinese-skool en reeds meer as 40 skole in Suid-Afrika bied Mandaryns as ’n tweede taal. Die tegniek van die Chinese is baie meer subtiel as die Britse kolonisasie, Chinese het geduld. Die min kere wanneer mensdom werklik stil word en luister, is as geld praat, en geld praat Mandaryns. Vra maar vir ESKOM…

Probeer vir my aan ’n revolusionêre uitvindsel dink wat nie bedink is in die moedertaal van die uitvinder nie. Ons haal gereeld slim Engelse-aanhalings van Albert Einstein aan, maar Duits was sy voorkeer taal. Indien ons mense druk om te dink in ’n ander taal as hul moedertaal, dan onderdruk ons hulle en maak ons van hulle slawe van die korporatiewe wêreld. Slawe wat goed geld gaan maak en hoë posisies beklee, maar selde of nooit innoverend en kreatief genoeg gaan kan wees om self iets nuut te bedink nie. Want innovasie gebeur in jou Moedertaal!

Die motor wat jy ry is tien-teen-een Duits. Jou foon is 6 uit die 10 keer Viëtnamees, Koreans of Fins. Jou klere word heel waarskynlik in Bangladesh, Indië of Ethiopië gestik. Ek kan aangaan! Al wat jy in Engels kry, is propaganda, media (dalk dieselfde ding) en Facebook “shares”. So hoekom wil ons só graag verengels?

Dit is waar dat Engels tans die wêreld se grootste tweedetaal is (Let op die woord tans). Dit is ook waar dat sosiale media hier is om te bly en dat Engelse instellings reeds daardie monopolie het. Dit is egter nie ’n gegewe feit dat dit so gaan wees oor 50 jaar nie.
Waldo wil onder geen omstandighede enige ander taal as Afrikaans bevorder nie. Waldo glo wel dit is belangrik om meertalig te wees. Maar Waldo glo ook dat jou Moedertaal die fondasie is waarop ’n vrommelhuis of ’n paleis gebou kan word. Wil jy werklik jou kinders vlerke gee om sukses te behaal? Gee jou kind sy Moedertaal!


Tags


Lees meer...

Gesels met ons