fbpx
  • Home
  • Wat wil jy eendag wees as jy groot is?

Wat wil jy eendag wees as jy groot is?

Cream Minimalist Typography Circle Logo Design

0 comments

Sarina Prinsloo

Skakelbeampte: SOS

Dié vraag hoor ʼn mens al van kleintyd af en dan is die antwoord gewoonlik iets eenvoudig, soos ʼn brandweerman of ʼn dieredokter. Dit raak egter ʼn bietjie meer ingewikkeld soos die jare aanstap en jy eweskielik in graad 9 vakkeuses moet maak. Hoe weet jy dat die keuse wat jy maak, die regte een is? Waar wil jy studeer? Wie of hóé gaan jy vir jou studies betaal? Gaan ek van die beroep hou wat ek kies? Is my punte goed genoeg?

Die akademiese kurrikulum van Graad R tot Graad 9 berei jou voor om vakkeuses in Graad 10 te maak. Jy moet ʼn minimum van sewe vakke vir Graad 10 kies, wat die grondslag sal vorm vir moontlike verdere studies sowel as jou toekomstige beroepskeuses. Hierdie stap is dikwels die moeilikste, en die een wat jou moedeloos kan maak, veral as jy nog nie regtig weet watter loopbaan jy eendag wil volg nie. Die doel met hierdie stap moet egter nie noodwendig wees om te besluit op ʼn spesifieke beroep nie, maar eerder oor ʼn breë beroepsbelangstellingsveld, bv. gesondheidswetenskappe, sosiale wetenskappe, natuurwetenskappe, ingenieurswese, ens.

Daar is ʼn magdom beroepe waaruit jy kan kies en elkeen van die vakke wat jy neem, ontsluit ʼn wye verskeidenheid van opsies, onder andere:

Landbouvakke: plaasbestuurder, natuurbewaarder, tuinboukundige, landboutegnikus, landbou-ingenieur, boer, landskapingenieur, onderwyser

Ekonomie: Geoktrooieerde rekenmeester, ekonoom, belastingkonsultant, ouditeur, aandelemakelaar, begrotingsontleder, sakeontleder, beleggingsontleder, marknavorser, boekhouer

Geskiedenis: Joernalis, openbare betrekkinge-spesialis, navorser, toerismepraktisyn, argeoloog, geskiedkundige, regspraktisyn, politikus, diplomaat, bibliotekaris, bemarker, toergids, onderwyser

Rekeningkunde: Geoktrooieerde rekenmeester, staatsrekenmeester, finansiële rekenmeester, boekhouer, bankdienste, produksiebestuurder, nywerheidkoper, kleinhandelverkoopbestuurder, stelselontleder, afslaer, finansiële hoof

Tale: Uitgewer, skrywer, interpreteerder, joernalis, vertaler, tolk, radio-uitsaaier, redakteur, toergids, onderwyser

Lewenswetenskappe: Marienebioloog, mikrobioloog, biochemikus, ekoloog, fisioterapeut, plantkundige, dierkundige, apteker

Visuele kunste: Kunsonderwyser, kunstenaar, klereontwerper, tandtegnikus, kurator van ‘n kunsgalery, kunshistorikus, kritikus, kunsbestuurder, onderwyser, videovervaardiger, fotograaf, digitale ontwerper, grafiese ontwerper, illustreerder, raammaker, onderwyser

Uitvoerende kunste: Akteur (verhoog, TV, flieks), komediant, platejoggie, grimeerkunstenaar, televisie-vervaardiger, regisseur, radio-omroeper, stel-/kostuum-/ beligtings-/klankontwerper, kunsbestuurder, spraakterapeut, skakelbeampte, mediaverhoudingskoördineerder, danser, choreograaf, kritikus, aerobics-instrukteur, dansterapeut, modeskou-direkteur

Wiskunde: Mediese dokter, onderwyser, apteker, fisikus, aktuaris, tandarts, stadsbeplanner, sterrekundige, ingenieur, tegnoloog, tegnikus, argitek, wetenskaplike, inligtingstegnologiespesialis

Wiskundige geletterdheid: Onderwyser, loodgieter, messelaar, sweiser, rekenaarprogrammeerder, boekhouer, sjef, maatskaplike werker, verkoopsbestuurder, joernalis, onderwyser, sakebestuurder, spysenier

Ingenieursgrafika en ontwerp: lugverkeerkontroleur, tekenaar, siviele ingenieur, meganiese ingenieur, argitek, ontwerper (meubels, motorvoertuie, lugvaartkunde)

Fisiese wetenskap: Biogenetikus, kartograaf, apteker, fisikus, grondwetenskaplike, kerningenieur, mediese dokter, onderwyser, apteker, fisikus, aktuaris, tandarts, stadsbeplanner, sterrekundige/wetenskaplike, ingenieur, tegnoloog, tegnikus, argitek, wetenskaplike, vlieënier, inligtingstegnologiespesialis

Rekenaarwetenskap: besigheidstelselanalis, rekenaarhardeware-/sagteware-ingenieur, databasisontwerper, inligtingstegnologiespesialis, speletjie-ontwerper, masjienleer-ingenieur, UX-ontwerper

Geografie: Omgewingsbeplanner, omgewingsjoernalis, stadsbeplanner, landelike en stedelike beplanner, kaartmaker, meteoroloog, bewaringskundige

Gasvryheidstudies: Toergids, toerinligtingsbeampte, vlugkelner, restaurantbestuurder, hotelbestuurder, sjef, kroegman, kelner (restaurante, koffiewinkels, hotelle, kitskoswinkels, bed-en-ontbyt-ondernemings), kos- en drankbestuurder, entrepreneur, produkontwikkelaar, reisagent, modeontwerper

Musiek: Musikant, sanger, opname-ateljeetegnikus, komponis, musiekonderwyser, klanktegnikus, kunsbestuurder

Meganiese tegnologie: Motortegnikus, vliegtuigtegnikus, motorwerktuigkundige, ketelmaker, grondverskuiwingstoerustingwerktuigkundige, passer en draaier, sweiser

Elektriese tegnologie: Elektrisiën, outo-elektrisiën, elektriese tekenaar, elektriese of elektroniese tegnikus, elektriese of elektroniese tegnoloog

Religieuse studies: Predikant/Pastoor, maatskaplike werker, menseregtewerker, navorser, joernalis

Beroepsvoorligting is verder uiters belangrik en moet deel uitmaak van die neem van ʼn ingeligte besluit. Akademia bied elke jaar ʼn vakkeuse-aand aan om skoliere met die nodige kennis toe te rus oor die belangrikheid van vakkeuses. Die sessie word aanlyn aangebied wat beteken dat jy en jou ouers vanuit die gemak van jou eie huis hierdie geleentheid kan bywoon.

Indien jy nog onsekerheid ervaar oor vakkeuses, studiemoontlikhede of beroepskeuses, besoek vandag nog Akademia se Loopbaanlens hier. Loopbaanlens – jou eenstopplek vir loopbaanadvies!

About the Author

Follow me


{"email":"Email address invalid","url":"Website address invalid","required":"Required field missing"}